Skip to main content

Gert Basson

’n Man van Mitchells Plain in die Kaap het ’n bittersoet Dinsdag gehad toe hy met onwettige heuning ter waarde van R100 000 betrap is.

Volgens sers. Wesley Twigg, polisiewoordvoerder, het die polisie die 40-jarige man in Montclair in hegtenis geneem nadat hulle ’n wenk ontvang het.

“Ons het die huis deursoek en op verskeie houers afgekom met heuning asook die toerusting om dit te maak.”

Die verdagtes het Dinsdag in Mitchells Plain se landdroshof op aanklag van die vervaardiging en verspreiding van onwettige goedere verskyn.

Volgens die Suid-Afrikaanse Byebedryforganisasie (SABIO) is onwettige heuning is ’n groot kopseer vir die industrie in Suid-Afrika.

Heuning van swak gehalte asook vervalste heuning, wat ’n stroopbasis het, veroorsaak dat boere heuning teen ’n laer prys moet verkoop om met die mededingende mark by te hou en in die proses ly hulle ’n verlies.

Volgens SABIO kos ingevoerde heuning tussen R20 en R30 per kilogram teenoor plaaslike vevraardige heuning wat tussen R55 en R70 per kilogram kan kos.

Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het verlede jaar in ’n verklaring gesê die regering gaan strenger optree teen heuningprodukte wat onder verdenking is.

“Heuning word beskou as ’n voedselsoort met baie hoë waarde en om dié rede word dit baie keer gemeng of verdun met ander stowwe soos suikerstroop of heuning van swak gehalte,” lui die verklaring.

In Suid-Afrika word heuning deur die department gereguleer. Die gehalte van heuningprodukte val onder die Wet op die Standaarde van Landbouprodukte.

Die wetgewing bepaal dat vervaardigers aan minimum vereistes oor verpakking en die inligting op die produkte moet voldoen.

“Ons doen ’n beroep op vervaardigers, invoerders en verwerkers van heuning om aan alle regulasies vir sowel plaaslike vervaardiging as invoer te voldoen. Dit sluit in om aan doeanebeamptes die korrekte inligting en beskrywing van ingevoerde heuning, te verskaf.”

Leave a Reply