Skip to main content

Die voormalige Springbok-losskakel Derick Hougaard leer Tristan Mills Maandag die fyner punte van stelskopwerk tydens die eerste van sy skopakademies vir junior spelers by Diggers.

Liefling steel juniors en ouers se hart tydens skopakademie

“Ek sal jou met een gedagte laat: moenie toelaat dat iemand vir jou sê dat enigiets in die lewe onmoontlik is nie. Jy kan bereik wat jy ookal begeer,” het die voormalige Springbok-losskakel, Derick Hougaard, Maandagmiddag by Diggers in Randburg aan sy leerlinge gesê by die afsluiting van sy eerste skopskool vir junior rugbyspelers.

Om jong spelers die fyn kuns van skop te leer, is ‘n lewenslange droom van die doelskoplegende, wat die bynaam “Liefling van Loftus” verwerf het tydens sy jare as ‘n belangrike rat in die afrigter Heyneke Meyer se allesoorwinnende Blou Bulle-masjien van die vroeë 2000s.

Elke keer wanneer Hougaard punte op die Bulle se tuisveld aangeteken het, het die Gé Korsten-trefferlied Liefling oor die stadion se klankstelsel geblêr. Hy het ook vir Saracens en Leicester Tigers in Engeland gespeel.

Hougaard het gekonsentreer op doelskoppe, lynskoppe en taktiese skopwerk tydens die twee uur lange sessie wat deur 13 seuns van die klub bygewoon is.

Die 39-jarige OudBok, wat as 19-jarige sy buiging vir Suid-Afrika gemaak het tydens die Wêreldbekertoernooi in 2003, het ook staaltjies uit sy speeldae aangeraak.

“Skole en klubs gee skaars aandag aan die afrigting van hierdie uiters tegniese maar lewensbelangrike deel van die spel, maar sodra ‘n span verloor weens ‘n mislukte doelskop, word die speler geblameer. Dit is ‘n onvergewensgesinde spel,” het Hougaard gesê.

Die voormalige Bok-puntemasjien het sy tyd afgestaan om ‘n gratis gemeenskapsprojek aangebied.

“Dit is ‘n geleentheid in ‘n leeftyd. My seun moes homself leer skop en sy vaardighede is nooit deur enigiemand geslyp nie,” het ‘n trotse ma gesê terwyl jong spelers skop na skop oorgeklits het.

Stralende jeugdiges – en hul ouers – het hulle rugbyheld ná afloop van die geleentheid in die parkeerterrein vir selfoonfoto’s oorval terwyl die oud-Springbok geduldig geposeer en bemoedigende woorde met die jong spelers gedeel het.

“Toetsrugby is iets baie besonders, maar daar is niks soos skoolseunrugby nie. Dit is ‘n gesinsgeleentheid. Ek onthou nog hoe my eie ma in my eie skolerugbyjare op en langs die kantlyn gehardloop het,” het ‘n glimlaggende Hougaard, ‘n oudleerling van Boland Landbouskool in die Paarl, vertel.

  • Hougaard se volgende skopskool sal volgende week in Pretoria aangebied word.

One Comment

  • Sonja Fast says:

    Baie goed om positiewe nuus te kan sien. Derick nodig dit dat mense in hom glo en hy sal die beste uit elke kind bring. Sterkte vir die pad vorentoe.

Leave a Reply