Sonja Brown
Meeste van ons vereenselwig luiaards met teken-flieks soos Ice Age en Zootopia, maar hierdie stadigbewegende Sentraal- en Suid-Amerikaanse diere het iets reggekry wat geen ander dier nog kon nie: hulle kan giftige reënwoudblare eet sonder om iets oor te kom.
Dit is omdat hulle ‘n spysverteringstelsel ontwikkel het om hierdie hoogs onverteerbare blare te verwerk. Hul mae bestaan uit meer as een maagholte, amper soos ‘n koei s’n, en elke maagholte huisves bakterieë wat help om die blare stadig af te breek en te verwerk.
Nes luidiere traag is om te beweeg, is hul mae ook traag. Dit neem ongeveer twee weke vir ‘n luidier om een ete te verteer.
Omdat luidiere meestal onderstebo hang, is hul pels ook “onderstebo” om hierdie gewoonte te akkommodeer. Dit hou reënwater weg van hul liggame af.
Hul krom kloue help weer dat hulle met gemak kan hang en eet of slaap, en ook om moeiteloos deur bome te beweeg.
Weens nege werwels wat hul koppe ondersteun, kan hulle hul koppe soos uile draai. Dit help om ‘n ogie oor potensiële roofdiere te hou.
Nes alles met hulle in stadige aksie gebeur, skiet hul toilet-roetines ook nie hier tekort nie. Luidiere verlaat slegs een keer per week die boomtoppe om hul toiletfunksies uit te voer.
Hierdie diertjies se growwe pelse bied beskerming aan makro- en mikro-örganismes soos alge en swamme, asook motte. Op hul beurt verskaf die alge aanvullende voeding vir die luiaard en kleur hul pels groen, wat help om die luiaard tussen die blare te kamoefleer. Die swamme weer parasiete wat siektes veroorsaak af, en die motte verskaf kunsmis vir die alge.
Luiaards maak staat op sonenergie om hul liggaamstemperatuur te reguleer, wat hulle soortgelyk aan reptiele maak.
Vroulike luiaards gee geboorte aan een baba op ‘n slag. Die baba spandeer vyf tot tien maande verbonde aan die ma en gebruik hulle liggame soos ‘n oerwoudgimnasium.