Skip to main content

Gewilde volkskunstenaar Thys se taai tog na triomf

Om op ‘n dag te besef die knaende “lam gevoel” in jou bene gaan toe nie “oorwaai” nie en dan met die gevreesde Veelvuldige Sklerose gediagnoseer te word, is die begin van ‘n nagmerrierit. Maar dis een wat toe onverwags uit die donkerste dae ook bonusse baar met lekker lewenslesse en goeie groei. Die bekkige en bekende sanger/liedjieskrywer Thys die Bosveldklong het met Sonnette Lombaard oor diė onverwagte kinkel op sy lewenspad gesels.

Jy herken hom skaars. Die eens fris Boerseun wat agter ‘n mikrofoon rats kon laat waai en ook ‘n gehoor laat skater, het plek gemaak vir ‘n man, nou 40kg ligter, wat opdaag met ‘n kierie. Een wie nou effens vooroor geleun moeisaam beweeg. Was dit nie vir die diep kuiltjies en onmisbare vonkel in die oog wat steeds ondeund skitter nie …

Vir die volk is Thys Streicher (48) beter bekend as die gewilde sanger en grapkas Thys die Bosveldklong. Hy is eintlik Kaapse klong gebore en getoë maar het later ‘n durende liefde vir die Bosveld ontwikkel. Hoewel hy steeds sukkel om te kies tussen die see en die Bosveld, bieg hy vinnig.

Natuurskoon was egter verder van Thys se gedagtes die afgelope handvol jare. Sy omgewing was baie meer klinies en, wel, donkerder gekleur en oorlewinggerig op vele fronte. Een vol naalde en prikke, bloed, hospitale en onlekker stryde. Die vermaakster, wat in 1999 sy debuut op die volksverhoog gemaak het toe hy mede-aanbieder van die gewilde Maak ‘n Las-program op televisie was en daarna met sy stem en kitaar vir talle treffers gesorg het, se lewe het sowat ses jaar gelede ‘n U-draai gemaak.

‘n Knaende lam gevoel in sy bene het hom langelaas in die spreekkamer laat beland waar sy suikervlakke hemelhoog was. Dit het gestabiliseer op medikasie en hy het bly hoop dat die lamlastigheid ook sou verdwyn. Maar dit wou nie wyk nie. ‘n Bekommerde vriend het hom teruggeneem na ‘n spesialis en vele bloedtoetse sou volg. Hy is bykans onmiddellik met Veelvuldige Sklerose (oftewel MS, kort vir Multiple Scleroses) gediagnoseer en op behandeling geplaas.

MS is ‘n verlammende siekte van die brein en rugmurg wat die sentrale senuweestelsel aanval. Soos alle outo-immuunafwykings beteken dit in kort dat die lyers allergies vir hul eie weefsel raak en in MS se geval val die immuunstelsel dan die beskermende lagie (myelin) wat die weefsel bedek, aan. Dit veroorsaak wankommunikasie tussen die brein en die res van die liggaam. Dit kan eindelik lei tot permanente skade of erge agteruitgang van die senuweestelsel met gepaardgaande probleme.

Hoewel Thys gelukkig was om redelik vinnig by ‘n goeie MS-spesialis uit te kom, was sy agteruitgang ewe snel en was hy gou verlam vanaf sy middellyf ondertoe en in ‘n rystoel. ‘n Stamseloorplanting was sy voorland. Hy het in 2020 twee stamseloortappings in Pretoria van twee skenkers gekry. Hou wou later graag uitvind wie sy skenkers was en kon altwee Samaritane – albei is vroue – persoonlik bedank.

Een van die wonders van stamselterapie wat die afgelope paar dekades groot verligting en uitkoms bring vir ernstige siektes, insluitende bloedkankers, is dat die selle geslagloos is en dus kan oud en jonk, man en vrou vir mekaar skenk. Dit red en/of verleng reeds miljoene lyers se lewens die wêreld oor.

Dit was ‘n lang, tawwe reis na herstel vir Thys, maar hy gryp sy tweede kans met ‘n dankbare hart aan. Hy was lank in hospitale, deur depressiewe dae en het eindelik van die rystoel na die walker gevorder en is na dese net op ‘n kierie aangewese.

En gepas aan sy kreatiewe kunstenaarsiel het hy sommer tien kieries; “elkeen is funky en spesiaal”. By die onderhoud het hy opgedaag met ‘n lieflike kierie wat deur sy neef, Johan Streicher, spesiaal vir hom gemaak is. Die handvatsel is die horing van ‘n rooibok, wat Thys, steeds ‘n ywerige jagter, self neergetrek het.

Thys het ook een van die kieries geskenk vir sy alma mater, Die Hoërskool Belville, vir opveiling in Oktober by sy matriekklas se reünie in Oktober. Hy beoog ook om dan sommer ‘n paar songs vir sy nuwe album by pelle se Kaapse ateljee op te neem. Hy hoop om die eerste snitte daarop teen Oktober vry te stel.

Nodeloos om te sê, met die gesondheidskrisis wat hom getref het reeds voor die pandemie, is hy nog sterk aan die herstel. Dinge was sedert sy stamselbehandeling broekskeur en toe kom grendeltyd waar hy ook as kunstenaar gestrand was.

Oor die donkerste dae in diė uitdagende tydperk praat hy sag en sonder ophef. Maar erken “dit was pikgietswart donker”. Tog was daar lig en hoop, veral met herontdekking van geloof as anker en was daar positiewe groei in sy menswees.”

Hoewel hy in ‘n tradisionele Afrikaanse huis met godsdiens grootgeword het, het hy tydens sy loopbaan “te besig” geraak om tyd daaraan te spandeer en dit het agterweë geraak.

“Mens moet eers jou gat sien, voor jy God sien,” verklaar hy onomwonde. Die pad na herstel is durend maar hy hoop dat hy dalk vorentoe die kieries ook kan los. MS is ‘n progressiewe siekte wat voortdurend monitering vereis.

Hy is dalk platsak en woon tans saam met sy bejaarde ma in ‘n klein plekkie in Pretoria-Noord, maar Thys se vuur is nog lank nie geblus nie. Hy is ook ‘n bekende en gekwalifiseerde afslaer en hoop om weer vorentoe al meer tot die samelewing toe te tree.

Diė bielie van die Bosveld is nederig dankbaar vir die ondersteuning van veral vriende wat saam met hom hierdie tawwe tyd deursien. Bekende sakeman Louis Liebenberg, eienaar van Die Waarheid Media, het aan Thys ‘n bakkie geskenk om makliker oor die weg te kom. Hy is diep dankbaar, ook oor dit hom in staat sal stel om nou weer sy seun Stian (12) uit sy gesneuwelde huwelik, wat saam met sy ma in Kemptonpark woon, te sien.

Boonop is hy van aanstaande week as omroeper op Die Waarheid Media se radiostasie te hoor. Radio is lank nog ‘n passie van hom, verklap die innemende man. Ja-nee, g’n swaar en seer kan sy lewenslus blus of die glinster in sy oog steel nie.

6 Comments

Leave a Reply to Isabel Steynberg Cancel Reply