Skip to main content

Charmaine Lourens

Dis vinnig maar versigtig trap oor die hoë bulte en deur die slote vir talle ywerige fietsryers wat aan die Limpopo Skolebergfietsreeks deelneem.

Meer as 250 fietsers van sowat 27 skole het onlangs aan die eerste en tweede been van diė reeks deelgeneem. Die tweede been, naamlik die Tour de Lip, is onlangs op Louis Trichardt gehou waar die deelnemers met ‘n onblusbare gees en met die ondersteuning van hul ouers die onderskeie roetes kafgedraf het.

Die fietsryers van skole in onder onder meer Bela Bela, Mookgophong, Mokopane, Polokwane, Lephalale, Phalaborwa en Tzaneen spook sake in die opwindende reeks uit.

Die deelnemers se ouderdomme wissel van 7 tot 19 jaar en hulle neem in verskeie afdelings vir hulle skole deel. Vir die laerskole is daar die “Nippers” (7-10 jaar) en die “Sprogs” (11-12 jaar). Die tieners van die hoërskole neem deel in die afdelings, genaamd die “Youths” (15-16 jaar) en Juniors (17-19 jaar). Die jong fietsryers durf rondes van ‘n 1-2km aan, terwyl die hoërskoolleerders 4-6km rondes plattrap.

Kobi Erasmus wat saam met die fietsrykomitee werk, sê die Limpopo Skole Fietsry bied jaarliks vier byeenkomste in die provinsie aan. Die eerste ren, die Tour de Maroela, is op 23 Julie by Hoërskool Ellisras op Lephalale gehou met 240 deelnemers.

“Die reeks daag die ryers uit om deel te wees en betrokke te raak in hierdie vining groeiende sportsoort. Dit maak ook voorsiening vir leerders om vir die eerste keer deel te kan neem aan ‘n fietswedren. Die beginner, asook meer gevorderde ryer kan dus hiertydens deelneem en goed presteer.”

Die renne word by verskillende plekke aangebied om die deelnemers se vermoëns te evualeer en hul vaardighede te help verbeter, verduidelik Erasmus.

“Die besondere medaljes wat op die spel is, is fantasies as gevolg van die kreatiewe ontwerp. Dit is in vier dele verdeel en by elke wedren ontvang die fietsryers wat die ren volltooi ‘n medalje wat hulle soos ‘n legkaart inmekaar pas om ‘n hele sirkel te vorm aan die einde van die reeks. Indien suksesvol, kry hulle ‘n trofee.”

Die deelnemende skole kompeteer ook intern om te sien wie verower die meeste punte, asook wie die meeste fietsryers by elke wedren het.

Erasmus sê die organiseerders se mikpunt is om met die oorblywende wedrenne ‘n interprovinsiale byeenkoms saam met Noord-Wes, Mpumalanga en die Noord-Kaap aan te bied. “Ons hoop om meer as 600 fietsryers te kry wat dan gaan kom saam trap.”

Op 27 Augustus word die bergpaadjies by Stanford Lake College in Haenertsburg naby Magoebaskloof aangedurf en die laaste been van die reeks is op 17 September by Wesvalia in Tzaneen.

Leave a Reply