Isaac Cloete
Plaaslike gemeenskappe in die Noord-Kaap kan nie wag nie dat ‘n nuwe reuse-myn ten volle operasioneel sal wees.
Dit is veral gemeenskappe in die Namakwa-streek wat “tand skerpmaak” om te gaan werk by die nuwe myn. Fase 2 van diė reuse mynbou-projek is Vrydag by die Gamsbergmyn, naby Aggeneys, ongeveer 110km vanaf Springbok, geopen.
Dr. Zamani Saul, premier van die Noord-Kaap, het die amptelike sooi gespit. Saam met hom by die opening was die hoof uitvoerende beampte vir sake by die reuse-sinkmyn, Arun Misra, asook Abraham Vosloo, LUR vir finansies, ekonomiese ontwikkeling en toerisme in die groot provinsie.
Fase 2 teen ongeveer R7 biljoen, sal tydelike werk verskaf aan 2 500 mense. Nadat die konstruksiewerk afgehandel is, sal ‘n bykomende 1 000 permanente werksgeleenthede beskikbaar wees.
Die myn behoort aan die Indiese maatskappy, Vedanta Zink International. Fase 1 teen R14 biljoen het in 2019 afgeskop. Dit is destyds deur pres. Cyril Ramaphosa by Gamsberg geopen. Die ontwikkeling is deel van die Namakwa Special Economic Zone (NSEZ).
Saul het tydens fase 2 se opening die mynbestuur bedank omdat diė reuse-projek help om werkloosheid in die Noord-Kaap hok te slaan.
Tans is daar ongeveer 2 700 permanente werkers by die myn, het Pushpender Singla, uitvoerende direkteur, vroeër bekendgemaak.
Teen 2023/’24 sal die kapasiteit van die myn van 4 miljoen tot 8 miljoen ton sinkerts per jaar verhoog word. Dit sal dan die grootste sinkprodusent in Afrika wees.
Die bou van ‘n aanleg, waar metale soos sink, geaffineer sal word, is ook in die pyplyn. Die kanse is baie goed dit dit eersdag goedgekeur kan word, sodat met die konstruksie daarvan begin kan word, volgens ingeligtes. Dit sal R10 biljoen kos en werk aan ‘n verdere 15 000 persone verskaf, volgens lede van die mynbestuur.
“Dit is sulke tipe werkskepping wat die Namakwa-gebied broodnodig het,” het kapt. Paul Swartbooi, stamhoof van die Namas, vandeesweek op Springbok opgewonde gesê.
Voorts meen hy dat die Namakwalandse jeug by die myn opgelei moet word tot voordeel van hulle gemeenskappe, in plaas van “om net gereedskap rond te dra”.