Skip to main content

Aardklop bring fees na die mense

Die kunstefees moet aanpas by die tyd, glo Alexa Strachan, hoof uitvoerende beampte van die Momentum Beleggings Aardklop Kunstefees. Sy het met Schalk Schoombie gesels.

Die baas van Aardklop is ‘n rooikop. Dit sein iets van passie, vasberadenheid en kreatiwiteit. ‘n Vurige persoonlikheid. Want dit verg vasbyt om Aardklop te laat herleef ná die pandemie.

Alexa Strachan (53) wikkel effens stram in haar sitplek by Paputzis, ‘n kleurryke kuierplek waar gesprekke oor aktuele sake, drama en boeke vanjaar plaasvind as deel van Aardklop se Opwipfees in Linden, Johannesburg.

‘n Paar maande gelede het sy ‘n groot fusie-rugoperasie gehad. Sy moes ophou rook, want dit benadeel beendigtheid en die genesingsproses.

“Die afgelope drie jaar het kunstenaars baie houe gevat,” peins Alexa. “Tog is ons positief en veerkragtig. In donker tye moet ons lig bring.

“Kunstenaars is in hul wese aanpasbaar. Die bedeling het ons so gemaak toe die streekrade verdwyn het. Dit is ‘n organiese proses om vernuwend te bly dink.

“Die feeste ontwikkel en pas aan saam met die kunstenaars. Die kunste is ‘n noodsaaklikheid. No culture no future. Dit is noodsaaklik vir die gemeenskap se genesing en gesondwees. Tog is dit vir gewone mense ‘n luukse. Hulle dink aan oorlewing, die petrolprys, en het nie altyd geld vir konserte nie.”

Sy broei oor die yslike vermorsing van staatsgeld bedoel vir die kunste. “Sportbase is gou om hul stemme dik te maak, maar jy hoor nie die leiers in die kunste se stemme nie.

“Kunstenaars wil nie voel hulle is bedelaars nie,” beklemtoon sy. “Jan Publiek het ons nie geag nie, ons lot nie besef nie. Kunstenaars wat hul huise en karre verloor het. Selfrespek is gekoppel aan werk. Baie van ons worstel daarmee, ek inkluis.”

Kunstenaars bel haar knaend: “Almal het jou selnommer en wil weet hoekom hul stukke nie gekeur is nie. Elkeen baklei vir elke pond vleis. As iemand wat self kunstenaar was, weet hulle ek verstaan, maar ek kan ook my kant oor die bedryf stel.”

As kunstenaar was sy geneig om heeltyd te kerm, lag Alexa. Deesdae sien sy dinge ‘n bietjie anders.

Vanjaar vind die Momentum Beleggings Aardklop Kunstefees op drie plekke plaas, as Opwipfeeste in Pretoria (30 September – 9 Oktober) by die Voortrekker Monument, Afrikaans Hoër Seunskool, die Afriforum-teater en die Atterbury-teater; in Johannesburg (6 – 9 Oktober) by verskeie venues; en in Potchefstroom (30 September – 2 Oktober).

Dit is deels om teatergangers wat kreun onder die petrolprys tegemoet te kom, die fees as’t ware na die gehore te bring. Want feeste moet aanpas by die tye.

“Die mens is ‘n kuddedier. Ons is nie gemaak om voor skerms te sit nie. Alles van teater is ‘n gedeelde belewenis – om te ry soontoe, tussen ander in ‘n gehoor te sit en te hoor wat mense daarvan sê. ‘n teaterstuk is ‘n algehele sensoriese ervaring en die gehoor is deel daarvan.”

“Met die eerste streng grendeltyd in Maart 2020, aan die einde van die Woordfees, toe ons hoor KKNK gaan nie plaasvind nie, het almal gewonder of teater gaan oorleef,” onthou sy.

“Dit was ook die reaksie toe rolprente en televisie gekom het. Maar niks kon teater nog doodmaak nie. Die regering ag en ondersteun ons nie, en ons moet onsself aan die lewe hou.”

Toe sy in 2016 aangestel is as hoof van Aardklop het sy nie ‘n clue gehad nie: “As ek geweet het waarvoor ek my inlaat, het ek gesê ‘nee dankie’. Maar al is jy ‘n baba in die bos, is daar die voordeel van alles vir jouself ontdek en ‘n eie identiteit vorm. Ek kon op my eie daarby uitkom, dis nie op my afgedwing nie.”

Alexa verduidelik die fees se visie: oftewel die vier v’s: versoen, verryk, verras, vermaak.

Alexa (‘n nooi De Villiers) is gebore in Pretoria en getoë in Potchefstroom, waar sy skoolgegaan het by Laerskool Baillie Park en Hoërskool Volkskool.

Pa Chris was ‘n staatsamptenaar by die destydse Bantoe-administrasie – ‘n woord wat haar pootjie – en ma Margaret was ‘n huisvrou. Haar pa is oorlede en haar bejaarde ma woon “net om die draai van my af”. Sy het ‘n ouer broer, Retief, ‘n ingenieur wat in Doebai gebaseer is.

Sy skerts dat sy BA (Manvang) aan Tuks studeer het. “My vakke was filosofie en kunsgeskiedenis. Wat op aarde kan ‘n mens daarmee doen?”

Haar vriendinne het sakgeld verdien as kelnerinne, terwyl sy in Truk se ad hoc operakoor gesing het. Haar eerste optrede was in Neels Hansen se Turandot. Toe was daar La Boheme en The Singing Christmas Tree. “Ek het geleer onder die meesters in teater en TV.”

Sy het haar haar merk gemaak as musiekkunstenaar en kabaretster wat “wou sing en act”; sy het haar eie solo-vertonings geskryf en vervaardig. Dalk is sulke karabarette vir eers as genre iets van die verlede, want teater moet vernuwend bly.”

Alexa is ma van vier spruite. Weens Covid-19 beperkings kon sy nie die troue van haar oudste, Lorentz (29), in Kanada bywoon nie. Xander is 27, wyl Christoff (18) vanjaar in matriek is. Haar dogter, Tana, is gehoorgestrem en dra ‘n kogliêre inplanting om te kan hoor. “Tana is die rede hoekom ek Pretoria nooit sal verlaat nie. Die beste kogliêre afdeling is by Tuks.”

Destyds was sy een keer ‘n maand in Potchefstroom. Deesdae geskied alles rondom virtuele vergaderings, Sy pendel minder, terwyl sy aansterk ná die rugoperasie. Daar is nie meer ‘n heeltydse kantoor in Potchefstroom nie, almal werk van die huis af. Die klein span wat die fees bestuur, bestaan uit vier mense, Alexa ingesluit. Spesialiste kom by op kontrakbasis. Die maksimum personeel is tien mense. En die tyd van groot funksies is verby.”

Haar posisie as hoof uitvoerende beampte van Aardklop verg ‘n positiewe instelling: “Jy kan nie kla oor al die struikelblokke nie, jy kan nie negatief raak nie, dan moet jy eerder wegstap en die pos oorlaat aan iemand anders. Ons is hier om die kunste en die publiek te dien.Jy moet positief bly te midde van alle uitdagings.”

‘n Groot gemis in Alexa se lewe is haar vriend en mentor, wyle dramaturg PG du Plessis. “Ek mis hom daagliks, veral wanneer ek belangrike besluite moet neem of bietjie wil skinder, of bekommer is oor die losskakel wat die Springbokke gekies het. Hy was my ander pa. Hy was trots op my maar ook krities. Hy het my vlerke gegee wanneer ek iets reg doen, dan het ek onfeilbaar gevoel. Vra ek sy kommentaar oor iets wat ek geskryf het, sou hy soms antwoord: ‘Hierdie teks is jou nie waardig nie.’ Ek was in trane, maar dit was ook ‘n kompliment, Ek is geseënd en baie dankbaar ek het hom geken.”

Deesdae is daar mense wat na haar opsien. “Dis skrikwekkend om ‘n mentor te wees,” erken sy. “Mense van my generasie voel soms hulle is dit nie waardig nie. Jy dink jy’s nie PG du Plessis of Sandra Prinsloo nie.

“Wie kan die toekoms voorspel en sien waarheen Aardklop gaan? Wat is ‘n haalbare finansiële model in ons onseker tye? In 2021 kon daar 50 mernse in die teater vergader. Nou het ons weer 100% kapasiteit. Oor twee maande kan dit weer verander. Met elke nuk van die regering moet die fees probeer aanpas.

“As jy heeltyd aanpas sal daar nooit ‘n fees wees nie. Jy knyp die oë toe en storm vreesloos voort. Ek weet dis ‘n risiko. Maar ek en my span het nie met ‘n nuk opgestaan nie, ons het lank gedink, beplan en begrotings uitgewerk.”

 Bespreek aanlyn. Die program is beskikbaar by www.aardklop.co.za

Leave a Reply