Statebondspele wys hoe sport klaarspeel met grense
Skielik is sport weer voor in die koor met ons tanende nasieboupogings. Wyl Bokkoors na die skittersege oor die magtige All Blacks hoogloop, bult Suid-Afrikaners se borste eweneens saam met die res van Afrika oor die vasteland se spogvertonings by die pasafgelope Statebondspele. En in lyn met Vrouedag tel evas eweveel onder die sterre. Sonnette Lombaard berig.
Toe Thabo Mbkei by die draai van die eeu die leisels in Suid-Afrika oorgeneem het, was sy groot droom die herlewing van die Afrika Renaissance, wat al die 1940s beslag gekry het. Vir Mbeki, ‘n geleerde filosofiese denker, was voetsoolvlak-regeer veel moeiliker as vir Madiba, sy charismatiese voorganger. Tog was sy droom dat alle Afrikane hul identiteit moet omhels en op internasionale verhoë sal skitter en finaal die meulstene van kolonialisme en slawerny moes afskud wat die vasteland se mense lank teruggehou het.
Met Mbeki al langer as ‘n dekade uit die magskussings, begin sy Afrika-droom en visie nou eers grenslose gestalte kry, op veral die internasionale sportveld. Die pasafgelope Statebondspele in Engeland is ‘n dawerende bewys. Afrikane se spogprestasies daar in ‘n verskeidenheid sportsoorte is nog meer soet omdat die gasheer vir vanjaar se 22ste Spele aanvanklik Durban was – dit sou die eerste keer wees dat die Statebondspele in Afrika aangebied is. Geldnood het egter daartoe gelei dat Durban sy gasheerstatus verloor het en dit is toe aan Birmingham toegeken.
Die Spele oor tien dae wat gister geeïndig het, was een van die suksesvolstes nog. Met die eietydse leuse Sport is just the beginning het 5 054 atlete van 72 Statebondslande deelgeneem. Dit het opnuut sport se kragrol in die afbreek van grense en as brugbouer van alle mense oor alle grense en kultuur-, taal-, inkomste- en geslagsgroepe beklemtoon. Dit sluit in die al sterker opkoms in die sportarena van eens “verstote” en armer lande uit die sg. tweede of derde wêreld, asook van sportvroue, juis ook van hierdie lande, wat Afrika insluit.
Gert van der Westhuizen, oudsportredakteur en nou politieke redakteur by Netwerk24, bevestig dat vrouesport al hoe meer na vore tree. Hy meen die kernrol van spesifiek sokker en krieket hierin is ongelooflik. “Dis besig om baie groot te word. Vroue regdeur die wêreld kry nou meer geleenthede om hul staal wyd te toon.”
Politieke ontleder Piet Croucamp stem dat vroue ver in sport gekom het en dat beter en/of gelyke vergoeding met mansatlete ook ‘n rol speel. Hierin was tennis en sokker se evas voorbokke. “Testosteroon-maatstawwe kan nie langer gebruik word om sport te beoordeel nie. ‘n Ander waardestelsel het begin posvat om sport aan te meet en dis gelukkig meer menslik van aard.”
Voorts spreek dit boekdele dat die Statebondspele, wat elke vier jaar gehou word, vanjaar waarlik die vining-veranderde wêreld en millennium-samelewing deurgaans breëbors afgewys het. Dit bestaan nie verniet bekend as die “Vriendelike Spele” nie en bied aan kleiner en agtergeblewe lande die gulde kans om op die hoofverhoog hul merk teen die bestes te maak. En so dan nasie te bou na binne en buite …
Gert wys daarop dat sport al brûe bou deur al die eeue. Dit gaan juis nie net oor wen nie, maar meer die belangriker rol van sport as bandbouer tussen verskillende mense vir ‘n meer verdraagsame globale samelewing. “Ek wens net sulke oomblikke het langer geduur! Die Statebondspele plaas mense van lande in die kollig wat dit dikwels nie by die groter Olimpiese Spele kan nadoen nie. Dis goed so.”
Piet is dit eens dat sport help om veral vroue van “kulturele verknogting” te bevry. “Die losmaak van tradisionele bande spruitend uit o.a. kultuur en geloof is egter ‘n tydsame proses – die wêreldwye vooruitgang van vroue tans, ook op die sportveld, is verblydend.”
Vanjaar kon vir die eerste keer meer medalje-items deur vroue as mans by die Statebondspele gewen word. En die evas het hierdie gaping fyn gevat om met hul vordering in internasionale sport voor miljoene sportaanhangers, op die volgepakte paviljoene en voor kleinkassies reg oor Moeder Aarde, te pronk. Afrika se vroulike atlete was juis van die groot sterre.
Waar Afrika se mans, veral die Keniane lankal koning kraai in veral langer atletiekafstande is dit nou ook diė land se vroue wat daarin al sterker presteer. Ook in die korter afstande en velditems het Afrika Annas flink presteer. Ook toenemend van ons buurlande Namibië en Botswana.
Span Nigerië het die beste van die Afrikalande op die medaljeleer presteer: met 35 in totaal was dit die sewende meeste medaljes en Suid-Afrika met 27 was negende op diė lys. Die Nigeriese vroue het onder meer in gewigstoot goud en brons gewen en ewe uitmuntend in die 100m-hekkies, verspring en in die 4x100m -aflos vir mans en vroue vertoon. Daar was ook twee goue medaljes, een elk in die mans- en vroue-afdeling, vir Nigeriese stoeiers.
Ook Suid-Afrika kan trots wees op sy atlete. Dit blyk sport kom weereens tydig tot ons redding, soos in die middel 1990s toe ons spogpretasies, insluitende die Wêreldrugbybekersege op tuisgrond die reënboognasiedroom bestuif het. ‘n Welkome wegbeweeg destyds nadat ons sport lank swaar moes ly weens die skandvlek oor ‘n omstrede politieke bestel. Sedertdien het die land en demokratiese droom talle terugslae en teleurstellings beleef wat Suid-Afrikaners voos en honger laat vir nasiebou-oomblikke. En na die Springbokke se skittersege Saterdag oor die Kiwis in Mpumalanga ėn ons ryk medalje-oes by die Statebondspele kom sportprestasies se kernrol hierin weer sterk na vore.
Inmiddels kon niemand ook die vroulike atlete in sluiers uit tradisionele Moslemlande miskyk by die Spele nie. Soos die Maleisiese span wat in die eindronde van die vroue-rolbal die Engelse rose aangepak het. Die “gesig” van vanjaar se Spele het inderdaad die veranderde wêreld en migrerende mensdom se diasporas weerspieël.
Net op name en vanne kan jy nie meer noodwendig raai van watter land ‘n atleet kom nie – daar is nou bv. Afrikaanse name en vanne in talle ander lande se spanne, ditto Oosterses in Australiese of Kanadese spanne, ens. Om nie te praat van lande se spanne wat trots uit alle “rasgroepe” saamgestel is en saam die ding doen, soos die seëvierende Engelse vrouespan in die 4x400m-aflos.
Piet meen internasionale sport is al hoe meer die ware reënboogheelal. “Britse en Europese sokkerspanne het deesdae meer gekleurde as wit spelers. En ons voorste afrigters rig nou sportspanne wêreldwyd af wat teen Suid-Afrika moet meeding. “Dit wys sport is groter as die individu en nasionalisme, asook die groei na professionalisme gekoppel aan vergoeding en oorlewing.”
Hoewel mededingendheid deel van die mens se geskiedenis is, draai dit in sport om ‘n mensliker weergawe. “Ons vat mekaar aan maar kan steeds daarna bladskud en as medemense saam verkeer. In vroeër tye was mededingendheid se gevolg oolog en die uiteinde was verwoesting. Nou met sport is die nadraai meer konstruktief,” aldus Piet.
Sport as brugbouer dolwe durend snel alle soort grense om, met verreikende gevolge wat bly uitkring tot voordeel van die mensdom. Eens geswore vyande en stryders teen koloniale magte het by vanjaar se Spele, nogals op die Engelse grond van die eens onderdrukker-sondebok, die bordjies met sportvernuf verhang. Dit wys hoe ver die moderne mens gekom het om allerhande jukke en vooroordele uit verledes af te skud om saam ‘n sport- en mensskouspel te lewer. In ‘n omgekrapte wêreld besaai met probleme en taai uitdagings bied dit stywe hoop vir vorentoe …