Skip to main content

 

Slange ontwaak na winter: Bly só veilig

Na ‘n winter verdonker deur gereelde kragbeurte en universele krisisse, word die aantog van die lente tans wyd begroet. En Suid-Afrikaners is begeesterd om ons buitelugbates opnuut te geniet. Maar dis ook slangtyd in Afrika se suide. Charmaine Lourens het by ‘n slangkenner van die Bosveld gaan vis hoe om slang se kind te hanteer.

Lente is vroeg vanjaar in die lug. Dis ook wanneer slange uit hulle “winterslaap” ontwaak en weer meer aktief begin raak. Van die giftigste slangspesies op Moeder Aarde kom hier en op die res van ons vasteland voor.

Bosvelder Pieter Swanepoel bevestig dat slange tans meer aktief begin raak en daarom is dit belangrik om jou erf skoon te hou van bourommel en tuinvullis. Visdamme en voëlhokke lok ook paddas en muise, wat op hulle beurt slange lok.

Diė slangkenner en -vanger van Limpopo met g’n bang haar op sy kop nie, vertel slange is koudbloedige diere wat staat maak op hitte om hulle metabolisme te versnel om sodoende prooi vinniger te verteer.

“Gedurende die koue maande in Suid Afrika is slange steeds aktief, maar heelwat minder as in die warm maande. Baie van die inheemse spesies se paartyd is gedurende die winter.

“Omdat dit begin warmer word in die lente, begin slange dan meer aktief jag en word meer gereeld gesien. Daar is ook meer prooi beskikbaar in die warmer maande.”

Swanepoel sê water en kos lok slange. Om jouself te beskerm, is dit raadsaam om die gevaarlike slange in jou gebied te leer ken en te weet hoe om hulle te identifiseer.

“Doen ‘n slangidentifisering, -hantering en noodhulpkursus as jy kan,” raai hy almal aan.

In Limpopo is die algemene gevaarlike slange wat in die meeste bytgevalle betrokke is, diė van pofadders, Mosambiekse spoegkobras, sypikslange en nagadders.

“Inwoners moet hul deure toe hou en muskietnette gebruik om te verhinder dat slange in beddens inkruip.”

Volgens hom word Mosambiekse spoegkobras gereeld in beddens gevind en meeste van die byte is dan wanneer die persoon of op die slang gaan lê, en hom of haar verras. Nog geen navorsing kon bepaal hoekom diė spoegkobras dit doen nie.

Benewens diė spoegkobras is gevaarlike slange wat meestal naby huise gevind word, wipneskobra en pofadders.

Swanepoel verduidelik “druppel vir druppel is die boomslang die giftigste slang in Afrika”, maar byte deur hulle is selde, en daar is darem ‘n baie doeltreffende monovalent-teengif beskikbaar.

Dis moeilik om “gevaarlike slange” te verduidelik, voeg Swanepoel by. Hy meen die gevaarlike slang is altyd die een wat jou gebyt het.

Daar is drie verskillende gifsoorte by slange betrokke, naamlik neurotoksies, wat die senuweestelsel aanval, sitotoksies wat die weefsel beskadig, en haemotoksies wat die bloedstollingsfaktore aanval en dus keer dat jou bloed stol.

“Swart mambas se byte is fataal as daar geen behandeling is nie en ‘n mens kan binne minute daarna sy/haar bewussyn verloor. Wipneuskobras het ‘n kombinasie van neuro- en sitotoksiese gif, maar met spoedige mediese behandeling behoort die pasiënt te oorleef.”

Met pofadder- en Mosambiekse spoegkobra-byte is dit noodsaaklik om so gou moontlik by mediese hulp te kom vir teengif-behandeling om erge weefselskade te verhoed. By bogenoemde byte is polyvalente teengif beskikbaar, aldus Swanepoel.

Volgens hom byt slange net uit selfverdediging, maw as hulle bedreig voel, of seergemaak word. “As jy jou afstand hou en hulle uitlos, sal jy nie gebyt word nie.

“Slange val nie mense aan of jaag hulle nie. Slange is banger vir ‘n mens as wat jy vir hulle is en sal eerder vlug as om te byt of spoeg.”

Die langste slang wat Swanepoel al gevang het, was ‘n Suid Afrikaanse luislangwyfie van 5.05m op die Maribashoek- kleinhoewes buite Mokopane. Die langste gevaarlike slang wat hy moes verwyder, is ‘n swart mamba van 3,25m, wat hy by ‘n huis op dié dorp vasgetrek het.

Boomslange is die giftigste slange wat hy al gevang het, en swart mambas is die slange wat hom die vinnigste sou kon doodmaak.

Swanepoel se raad vir diegene wat ‘n slang in hul erf gewaar, is om ‘n slangvanger onmiddellik te kontak, terwyl die slang op ‘n veilige afstand gehou word.

“Hou jou oë te alle tye op die slang totdat die slangvanger opdaag.”

Daar is altyd ‘n risiko dat jy gebyt kan word wanneer jy die slang probeer vaskeer of doodmaak. Indien die slang binne die huis is, moet jy kyk waar dit ingaan en maak dan die vetrek of plek toe sodat die slang nie kan ontsnap nie.”

Swanepoel sê jy moet weet wie om te kontak indien daar ‘n slang is om te verwyder en neem kennis dat daar ‘n donasie verlang sal word om die koste te dek. “Om ‘n donasie te gee, is baie goedkoper as om vir ‘n byt behandel te word. Maak ook seker jou dokter is opgelei om ‘n slangbyt te behandel.”

Raad indien ‘n slang jou byt of spoeg:

 Indien jy gespoeg word deur ‘n spoegkobra, spoel die gedeelte af met skoon water. As dit in jou oë is, spoel uit met koel, lopende water vir 20 minute en gaan so gou moontlik na jou dokter vir antibiotiese oogsalf.

 Indien jy gebyt word, moenie die slang doodmaak om saam te vat hospitaal toe nie. Deur dit te doen, staan jy die kans om meer kere gebyt te word. BLY KALM (dis moeilik, maar kern) en probeer so min as moontlik rondbeweeg. Moet onder geen omstandighede die bytplek sny, suig, of afbind met ‘n tou of iets soortgelyks nie. Kom so gou moontlik by ‘n hospitaal of mediese hulp uit.

 Indien ‘n dokter voldoende in slangbytbehandeling opgelei is, sal hy/sy die byt simptomaties behandel en weet om na die ondergenoemde simptome te kyk om vas te stel of teengif nodig is, of nie. 

PPS Sindroom (pynvolle, progressiewe swelling) kom voor na byte van pofadders, Mosambiekse spoegkobras, nagadders, en sypikslange.

PW Sindroom (progressiewe swakheid) volg na byte van swart mambas en wipneuskobras.

B Sindroom (bloeding) is weens byte van boomslange en takslange.

 

Leave a Reply