Skip to main content

 

Gert Basson

’n Verdagte is Vrydag (5 Augustus) in hegtenis geneem vir die skietery by die Mputlane Inn-taverne in Katlehong.

Volgens brig. Brenda Muridili, polisiewoordvoerder, is die 24-jarige verdagte verlede week Vrydag in Katlehong in hegtenis geneem.

Dit kom nadat vier mans op 8 Julie by diė taverne ingestap het en op die kroeggangers begin skiet het. Drie mense is dood en drie ander is gewond in die voorval.

“Daar is ook beslag gelê op ‘n 9 mm-pistool en ammunisie. Die vuurwapen sal vir ballistiese toeste gestuur word om vas te stel of dit vir enige misdaad gebruik is,” sê Muridili.

Dit kom ná ’n vlaag tragiese voorvalle waarin talle mense in dié informele kuierplekke gesterf het in die afgelope twee maande.

In Julie is een persoon dood na ’n skietery by die Monaco-taverne in Mamelodi, Gauteng.

In nóg ’n voorval is 15 mense in Soweto in Julie by ’n kuierplek afgemaai en vier by ’n taverne in Pietermaritzburg. Twee verdagtes is in hegtenis geneem vir die skietery in Pietermaritzburg.

Daar was ook die tragiese voorval waartydens 21 tieners onlangs in die Enyobeni-taverne in Oos-Londen dood is.

Die verdagte wat aangekla word van moord en poging tot moord by die taverne in Katlehong sou na verwagting vandag in die landdroshof in Palm Ridge verskyn het.

Leave a Reply