Skip to main content

Zeus van Wyngaardt en die skrikgodin

Julio Agrella

Roman/Misdaadfiksie

Hierdie is die tweede boek in die Zeus van Wyngaardt-misdaadfiksiereeks. Die eerste boek, Zeus van Wyngaardt en die godin van die jag, is besonder goed ontvang:

Volgens Emile Joubert (Rapport, 24 Oktober 2021) kan mens die debuutroman in een woord opsom en dit is “bef*k”.

“Die ware Zeus was die opperste van alle Griekse gode, maar nie eens die uiterstes van sy bomenslike kragte sou die ontknoping van hierdie vernuftige plesierrit van ’n speurverhaal kon voorspel nie,” skryf Joubert.

Voorts wys hy daarop dat die “skryfstyl vernuftig” en die “plot behendig saamgestel” is.

Thys Human (Netwerk24, 15 November 2021) beskryf Agrella se debuut as “’n onderhoudende roman wat baie lesers verdien”.

“Een van die verkwiklike aspekte van Agrella se roman is dat dit net so min in ’n netjiese boksie pas as die eiesoortige titelkarakter, Zeus (Zet) van Wyngaardt.” En: “Agrella […] kán skryf en weet hoe om met maksimum effek ’n fyn balans tussen humor en erns te handhaaf.”

In die nuwe boek word Zeus se buurman, Atif Dinali, se tienerdogter Tahina vermis.

Zeus vermoed dat mensehandel en prostitusieringe iets met haar verdwyning te doen het. Sy ondersoek lei hom na die verleidelike Wildene du Bois, ’n courtisane wat eens op ’n tyd betrokke was by ’n mensehandelsindikaat.

Zeus besef egter gou dat hierdie saak maar net een tentakel van ’n groter monster is.

Agrella se aanvanklike belofte blink voort. Hy is in Springs gebore en het daar en in Brakpan grootgeword. Dit verklaar baie. Ná dekades in die (veral Engelse) korporatiewe wêreld tree hy op 50 af en lei ’n semi-kluisenaarslewe saam met sy vrou, honde en katte op ’n piepklein-plasie by Dieprivier in die Outeniekwas.

Die mark vir goeie, toeganklike misdaadfiksie raak gewilder by die dag. Agrella se reeks handel uiteindelik oor mense en dit wat mense ander mense aandoen – en die letsels wat dit laat. Dis uiters relevante boeke binne die hedendaagse Suid-Afrikaanse konteks en tydsgees.

Voeg daarby dat die outeur ’n charismatiese persoon is wat aktief op sosiale media is en weet hoe om homself (en die boek) te bemark. Sy aanhangers strek van lesers van goeie populêre literatuur, veral misdaadfiksie, en ook diegene van meer ernstige literêre werke.

 

Leave a Reply

error: Content is protected !!