Skip to main content

 

Seuns (en meisies) vat begeesterd die mat

Stoei is een van die oudste sportsoorte op Aarde. Dit dateer vanuit ongeveer 15 000 jaar terug met rotstekeninge wat gevind is en wys hoe krygers mekaar die stryd aansê. Babiloniese en Egiptiese hiërogliewe wys boonop baie van die grepe wat die stoeiers toentertyd gebruik het, word steeds vandag aangewend. Daar is selfs verwysings daarna in die Bybel, spesifiek in Genesis waar Jakob met ʼn engel stoei. Minder mense weet egter dié sport is amper net so gewild onder meisies as wat dit onder seuns is. Gerald Eloff het met ʼn paar stoeiers in Gauteng gesels, om meer uit te vind waarom hulle so passievol oor dié sport is.

“Stoei is ʼn sport wat baie seuns in mans verander het, en baie mans in leiers. Dit is ʼn sport waar jy ʼn reus kan word, ten spyte van hoe groot jy is.” Die woorde van Carl Albert, gewese Amerikaanse politikus.

Hoor hulle egter die woord “stoei”, duik beelde by meeste mense op van The Rock of Hulk Hogan van WWE-faam. Of daai Undertaker-kêrel, wat op almal se T-hemde gepryk het in die 1990s. Dis egter ʼn kolossale miskonsepsie van hierdie gewilde sportsoort.

In Olimpiese-stoei (die soort waarna Albert hierbo verwys) is geen voorafbespreekte passies van wie doen wat, wanneer, of wie verloor nie. Daar is geen teatrale vermakerigheid wat die toeskouers op die punte van hul stoele hou nie. Hier is net bloedsweet, determinasie en dissipline betrokke. En ʼn groot hoeveelheid passie en liefde vir die sport.

Van toentertyd se dae …

Stoei het reeds ʼn prominente plek in antieke Griekeland gehad, as ʼn mens kyk na daai era se literatuur en filosofie. Stoei was in die voorgrond, dog nog baie brutaal destyds by die antieke Olimpiese Spele. Die Romeine het baie by Griekse stoei geleen, maar het weer baie van die brutaliteit weggevat. Daar is tonne verwysings na stoei in die Griekse en Romeinse literatuur, en selfs filosowe soos Plato, Sokrates, Aristotle, Xenophon, Epictetus, Seneca, Plutarch en Marcus Aurelius het of self gestoei, of gereeld daaroor geskryf. Baie van Plato se dialoë is in stoeiskole gebaseer. Selfs die antieke Griekse digter, Pindar, het odes aan uitblinkers van die sport geskryf.

Gedurende die Middeleeue was stoei beoefen onder die Franse, Japanese en Engelse koninklikes. Die Britse setlaars het stoei na Amerika gebring, waar dit alreeds onder die Indiane gewild was. Amateur stoei het baie aftrek in die Noord-Amerikaanse kolonies gekry en die eerste georganiseerde kompetisie is in New York in 1888 gehou.

Sedert 1904 was stoei deel van elke moderne Olimpiese Spele.

As die gogga jou seun én/of dogter byt

Gerrie Grové het in 2017 die Bears Stoeiklub gestig, wat tans by Mark’s Park in Johannesburg gevestig is. Hy vertel meer oor sy groot liefde vir die sport, en waar dit begin het. “Ek wou my seun, ook Gerrie, se belangstelling in stoei prikkel, omdat ekself toe ek op skool was gestoei het. ʼn Jaar nadat ek die klub gestig het, kom jong Gerrie se sussies na my toe (Gerrie, Mieke en Marisan is ʼn drieling!) en sê hulle wil ook graag stoei. So, nou stoei al drie my tienerkinders – die drieling is 14-jaar oud.”

Gerrie glo stoei is vir almal. “Dit maak nie saak of jy klein of groot, jonk of oud of manlik of vroulik is nie, jy kan kom stoei. Ons het ʼn stoeier by ons wat op 29-jarige ouderdom begin stoei het, en oor twee weke stoei hy in die Nasionale Kampioenskappe – en hy het skaars nege maande gelede begin stoei!

“Jy kan enige tyd begin. Ek glo stoei kan jou soveel lewenslesse leer.”

Afrigting lê Gerrie naby aan die hart. “Wanneer die stoeiers na ʼn toernooi toe gaan en hulle doen iets wat ons as afrigters hulle geleer het, en hulle kom terug met glimlagte, want hulle weet hulle het iets reg gedoen, dis wat ek die meeste van afrigting geniet.

“Die enigste ding waaroor ek spyt is, is dat ek nie aangehou stoei het na skool nie. Dit is ʼn sport wat jy kan aanhou beoefen, tot op jou oudag. Daar is stoeiers in die Meesterskategorieë in die land wat ouer as 70 jaar is, wat steeds stoei en kompeteer.”

Marisan, Gerrie se een dogter, het reeds drie Suid-Afrikaanse goue medaljes verower, en is ook in 2021 vir die internasionale Intuthuko-span gekies. “Ek het begin stoei toe ek 11 jaar oud was, maar ek is ook lief vir atletiek, alhoewel stoei my gunsteling bly. Ek glo dis belangrik dat jy moet kyk na wat jy eet.”

Haar suster Mieke, staan egter nie terug nie. Sy het reeds twee Suid-Afrikaanse silwer – en een bronsmedalje verower, en is ook vir die internasionale Intuthuko-span gekies.

“Stoei is vir my lewensveranderend, dit help baie met negatiewe emosies, dis asof die ander sportsoorte nie dieselfde uitwerking het nie. Ek wens wel, dat daar nog meer meisies was wat stoei.”

Die voordele is legio

Charl Reyneke, ʼn maatskaplike weker van Pretoria wat meestal met tienerseuns te doen het, is vol lof vir die sportsoort. Sy seun het selfs redelik onlangs begin stoei. “Ek weet nie waar om te begin as ek moet praat oor die voordele van dié sport nie.

“Eerstens, dit maak jou net soveel meer atleties. Ek weet van heelwat kinders wat gimnastiek ook aangepak het nadat hulle begin stoei het, en hulle is net soveel beter toegerus as kinders wat dit van die staanspoor af aanpak.

“Omdat dit nie ʼn spansport is nie, is net jy verantwoordelik vir hoe goed jy gaan vaar. Wat jy fisies insit, is wat jy gaan uitkry. Stoei maak jou geestelik taf, en dit kan jy later in jou lewe ook toepas. Dis nie lekker om te verloor nie, en terugslae kan pynlik wees, maar dit berei jou voor vir die terugslae in die lewe wat nog voorlê.”

Daar is ander voordele ook, volgens Charl, en dit het hy gesien met sy eie seun. “My seun Pieter het begin kyk wat hy eet. Toe hy bietjie gewig begin verloor het, het hy in ʼn ander gewigsklas geval, wat die kompetisie bietjie makliker maak. Hy is die heeltyd bewus wat hy eet, en handhaaf ʼn goeie balans.”

Vir Charl is die grootste voordeel aan stoei verbonde die bonus van selfverdedigingsvaardighede aanleer. “Dis moeilik vandag om ʼn jongmens te wees. Daar is verskriklik baie boelies daarbuite – dis vir my asof dit erger as vroeër jare is. Ouens sukkel nie met ʼn stoeier nie. Ek onthou toe ek op skool was, was daar hierdie buksie wat vrees ingeboesem het onder die manne. Hy was ʼn goeie stoeier. Toe hy in St. 8 was selfs die matrieks bang vir hom! Hulle het geweet as Piet hulle grond toe vat, was dit tiekets met hulle.”

Behalwe vir die voordele wat Charl hierbo noem, is daar ook ander voordele aan dié sport gekoppel, volgens nagevorste bronne. Leierskap kom in stoei na vore – dit gebeur gereeld op die stoeimat dat jong stoeiers mekaar aanmoedig, leer en ondersteun.

Dit leer ook dissipline – daar is geen manier hoe jy in diė sport gaan vorder sonder om harde besluite te neem nie, en jy moet jouself verantwoordbaar vir jou eie aksies hou.

Nog ‘n positiewe element van die sport is dat dit kulture en gemeenskappe bymekaar bring. Of jy nou ryk of arm is – op die stoeimat is almal gelyk. Dit gaan jou ook nie ʼn fortuin kos om deel te neem nie (dink byvoorbeeld aan gholf of krieket, met al die sporttoerusting wat jy eers moet aankoop voor jy kan begin).

Laastens, bied stoei die geleentheid om die wêreld te sien. Baie van die plaaslike stoeiers (jonk en oud), woon gereeld toernooie regoor die wêreld by.

As grensloos-gewilde sport is stoei gewis hier om te bly. So, as jy voel jou kind het ʼn behoefte om meer atleties te word, daai boelie by die skool ʼn les te leer, of om te leer om op sy of haar eie voete te staan, is dit dalk net die ding vir hom of haar.

En om alles beter te maak, jy kan langs hom (of haar) op die mat met die volgende stoeioefening staan.

Besoek: https://www.facebook.com/BearsWrestling

En terloops: Indien WWE jou ding is, staan Suid-Afrika nie terug nie. Die African Pro Wrestling Academy (APWA), hou gereeld vertoonwedstryde by kunstefeeste, skoue en skole. Hulle is in 2008 deur die stoeier “Anansi” gestig, en APWA roem hulself daarop dat hulle ʼn oase vir die land se beste talent is.

Daar kan jy sien hoe ouens soos “The Loudmouth”, “Super Dragon” en “Renegade” mekaar laat les opsê. So, trek jou John Cena T-hemp aan en gaan gil jou longe uit!

Besoek: https://www.ananziprowrestling.co.za/

Leave a Reply