Skip to main content

George April

Die omstrede speaker van die Demokratiese Alliansie (DA) in Saldanhabaai se raad, het in ‘n spesiale raadsvergadering onder druk verkrummel toe die opposisiepartye antwoorde van haar geeīs het.

Olwene Daniels was onlangs in die nuus nadat sy haar matroostong op haar bure losgelaat het.

Raadslid Ryan Don van die Good Party het ‘n dringende mosie ingedien oor ‘n formele brief wat reeds in 2021 deur die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, Anton Bredell, aan die speaker gestuur was.

Daarin het die minister blykbaar antwoorde gesoek oor klagtes en bewerings van wanadministrasie, onregmatige inmenging in die administrasie by aanstellings van personeel, en nepotisme met betrekking tot die aanstelling van familielede van die speaker.

Dit het in die pasafgelope raadsvergadering uitgekom dat diė brief nooit in ‘n raadsvergadering bekend gemaak is nie.

Die EFF, Good Party, ANC en die Patriotic Alliance het antwoorde van die speaker geeïs en wou weet waarom sy versuim het om die brief aan die raad voor te lê vir bespreking en besluitneming. Die raadslede wou weet waarom die brief en inhoud verswyg is.

Die opposisie het daarop aangedring dat die speaker vir die raad vertel hoekom sy al die raadslede vir meer as agt maande in die duister gehou het oor die brief van minister Bredell.

Daar is in die raadsvergadering aangedring dat diė ernstige aantygings teen die speaker ondersoek word.

Daniels kon nie antwoorde bied nie. In die hewige debat wat gewoed het, het die speaker onder druk verkrummel, en het toe boonop die raadsvergadering onregmatig gestop en saam met haar DA-kollegas uitgestap.

Na ‘n hewige debat is die vergadering egter weer hervat, met die speaker wat toe die raadslede versoek het om teen die mosie wat teen haar ingedien was, te stem.

Die opposisie het die speaker uitgedaag om haarself te verskoon van deelname aan die stemming en bespreking aangesien die mosie haar direk impliseer.

Die speaker het egter die versoek geweier, wat die stemuitslae in die guns van die DA met 13 stemme geswaai het. Die opposisie (PA, EFF, Good Party en ANC) het 12 stemme getrek, terwyl beide die Vryheidsfront Plus en die Kaapse Kleurling Kongres buite stemming gebly het.

Na die stemming het die opposisiepartye die wettigheid van die speaker se stemming oor ‘n saak wat haarself direk impliseer, betwis. Diė raadslede het haar tot orde geroep, aangesien sy ’n belofte gemaak het om die grondwet, wette, munisipale reëls van orde en die gedragskode vir raadslede te eerbiedig.

Groot druk is ook op die speaker geplaas om op te hou om die munisipaliteit en raad as haar spaza-winkel te gebruik.

Hoewel sy die aanslag oorleef het, is sy daarvan beskuldig dat sy familie en vriende bevoordeel wanneer vakatures of werk beskikbaar is. Sy is ook deur die opposisie gevra om nie in te meng met die aanstellings of in die administrasie nie.

Leave a Reply