Skip to main content

Charmaine Lourens

Na ‘n afwesigheid van twee jaar het die 20ste KierieklapperKunstefees (KKKF) gister (Donderdag) met ‘n “bang” in die Bosveld afgeskop.

Die KKKF is die grootste fondsinsamelingsprojek van die Potgietersrus Dienssentrum vir Bejaardes in Mokopane, wat afhanklik is van fondse en hulp om gerat te bly.

Martie Pelser, bestuurder van die dienssentrum, sê oud en jonk geniet die fees. “Ons glimlag breed met dankbare harte. Dit was die afgelope twee jaar ‘n gespook om die dienssentrum se wiele aan die rol te hou tydens die pandemie.

“Die fees is klaar ‘n reuse-sukses en die dienssentrum se bejaardes bak pannekoek en jaffels vir ‘n vale.”

Die feesgangers het gistermiddag begin saamkloek by die ingangshekke en daar is heerlik gekuier by die talle stalletjies op die rugbyveld van die Hoërskool Piet Potgieter. Teen laatmiddag het die jonges in die pretpark begin baljaar.

Pedro Kruger het gaste agter sy klavier trakteer by ‘n gasvrou-glansgeleentheid in die skoolsaal. Die op-en-wakker musiek van Kwaggabees Pieter Smit en Ricus Nel en sy vrou, Lisa Brönner. het die gees op die feesterrein aangewakker. Robbie Wessels het laataand die gehoor aan sy voete gehad het met sy gewilde treffers.

Vanaand (Vrydag) is die sangers Ruhan du Toit en Dirk van der Westhuizen op die verhoog met Francois van Coke wat laataand die hoofkunstenaar is.

Vir die fikses is daar Saterdagoggend om 07:00 ‘n pretdraf. Feesgangers kan ook Saterdagaand uitsien na Steve Hofmeyr en Demi Lee Moore op die verhoog. Sondag om 18:30 sing Jannie Moolman in die NG Hulp en Hoop Gemeenskapskerk in Chroompark.

Vir die gholfliefhebbers is daar op Vrouedag, Dinsdag, 9 Augustus, ‘n gholfdag by die Kameeldoring Gholfklub.

 

Leave a Reply