Skip to main content

Ja, mits dit die regte boek is …

Gaan besoek enige vriend of familielid se huis en die kans is baie goed dat daar êrens ʼn selfhelpboek in hul boekrak pryk. Hoe om jou lyf viets te kry. Hou op rook in ʼn week! Skop die Donker Hond onder sy bas. Maar werk dié boeke regtig? Of is dit maar net nóg ʼn slim bemarkingsfoefie om ons meer ellendig te maak? Gerald Eloff het gaan kyk of hy homself kan help.

Daar is beslis nie ʼn tekort aan selfhelpboeke nie. Duisende is beskikbaar en daar verskyn amper elke dag ‘n nuwe een. Hulle is ook baie gewild – dink maar aan Mark Manson se boek wat in 2018 gepubliseer is, The Subtle Art of Not Giving a (ek is seker jy weet wat), asook Steven R. Covey se blitsverkoper, The 7 Habits of Highly Effective People. Nie almal is egter ewe opgewonde oor selfhelpboeke nie …

Gelief en gehaat

Die geestesbreier Gielie Hofmann meen enigiemand wat verandering in hul lewe wil bewerkstellig kan baat by interessante insigte, onlangse bevindinge of relevante, praktiese voorbeelde – dus, deur selfhelpboeke.

“Gedragsverandering is bitter moeilik en net ’n idee of ’n boek gaan nie noodwendig enige sukses waarborg nie, maar dit kan iemand help om opnuut te probeer of ’n beter eerste stap te doen. Enige nuwe inslag sal natuurlik versterk word deur aktiewe stappe en iemand wat jou verantwoordbaar hou.

“’n Boek bly egter baie keer die plek waarin iemand ’n vonk van inspirasie kry en daarom bly hierdie tipe boeke gewild en gelief.”

Johannes de Villiers, skrywer van onder andere Blydskap, Kalmte in die malle gejaag en Meer as jou seerkry laat hom só uit oor die gewildheid van selfhelpboeke: “Mense is geneig om negatief te wees oor selfhelpboeke. Maar as jy dit lees sal jy sien dat dit dikwels goeie raad bevat. Baie van die boeke vat die insigte voortspruitend uit navorsing baie goed saam en maak dit toeganklik vir gewone lesers.

“Die realiteit is dat professionele hulp soms verstommend duur kan wees – en baie mense wat terapie benodig, kan dit bloot net nie bekostig nie. Dis wat van die selhelpboeke so gewild maak – dit gee mense toegang tot hulp wat hulle nie noodwendig sou gehad het nie.”

Ten spyte van hulle gewildheid, is daar egter ook heelwat kritiek oor selfhelpboeke. Van die kritici voel dat dié boeke die verkeerde advies gee, dat dit mense vals hoop gee, dat dit mense wat reeds onseker voel oor hulself, meer onseker laat, en dat dit veroorsaak dat mense nie professionele hulp soek nie.

Ander kritici voel weer al vind sommige mense selfhelpboeke interessant om te lees, is die advies te voor die hand liggend en eenvoudig en mense pas dit ook nie toe nie. Die kritiek vind jy oral en dit wil voorkom of die afkeer aan selfhelpboeke net so gewild is soos selfhelpboeke self!

So hoekom het dié boeke nie die gewenste uitwerking waarvoor die skrywers hoop nie? Daar is weinig navorsing al gedoen oor die doeltreffendheid van selfhelpboeke. Die een verhandeling van ʼn Nederlandse sosiale wetenskaplike, Al Bergsma, getiteld Do Self-Help Books Help? het wel tot die gevolgtrekking gekom dat dit kan help – mits die volgende kriteria gevolg word.

Eerstens is daar twee tipe-boeke volgens Bergsma: Boeke wat fokus op probleme en groei-georiënteerde boeke. Probleemgefokusde boeke lewer advies hoe om probleme soos slaaploosheid, stres, verslawing, angstigheid en depressie te oorkom. Groei-georiënteerde boeke is meer holisties van aard, soos hoe om geluk en jou doel in die lewe te vind, hoe om doelwitte te stel, hoe om in jou loopbaan te vorder en hoe om beter verhoudings met mense te hê.

Kyk hierna voor jy koop

In die geval van probleemgefokusde boeke, bestaan daar wel konkrete bewyse dat dit werk. Byvoorbeeld, navorsers het bevind ʼn meta-analise oor die behandeling van depressie deur ʼn selfhelpboek oor die onderwerp is net so effektief as om vir sielkundige behandeling te gaan – dieselfde met boeke oor angs en matige-alkohol misbruik.

Daar is egter geen navorsing oor groei-georiënteerde boeke nie. Dit is egter nie te sê dat hulle nie help nie, volgens Bergsma. Daar is wel ʼn paar aanduidings waarvoor jy op die uitkyk moet wees, om te kyk of dit wel sal help.

Indien die boek met die nuutste wetenskaplike navorsing ooreenstem, is jy op die regte spoor. De Villiers stem hiermee saam: “Dit help om te kyk of die skrywer van die boek sy stellings op wetenskaplike navorsing grond. Alhoewel baie van die boeke nie uit ʼn wetenskaplike hoek geskryf word nie – sommige skrywers het hul eie pad gestap met hulle probleme, en deel hul gewaarwordinge en wat vir hulle gewerk het uit hul eie perspektief.”

Baie boeke propageer egter neigings en modes wat met populêre kultuur en tendense saamstem – byvoorbeeld ʼn boek beweer dat indien jy baie geld maak, jy gelukkig sal wees. Daar bestaan geen wetenskaplike bewyse dat rykdom lewensgeluk waarborg nie. In daai geval, moet die skrywer en die boek se advies bevraagteken word. Indien die skrywer sê dat jy aan jou verhoudings met ander mense moet werk, en dat dit jou dan meer gelukkig sal maak, is jy op die regte spoor – navorsing het getoon dat goeie menseverhoudinge ʼn belangrike bestanddeel van geluk is.

ʼn Ander kenmerk waarna ʼn mens kan kyk, is ʼn realistiese benadering. Alles is nie net maanskyn en rose nie – as die boek nie melding maak van die struikelblokke en uitdagings wat oor jou pad gaan kom voor jy jou doelwit bereik nie, gaan dit nie deug nie.

Navorsing het bevind dat mense wat net op hul drome fokus en die beloninge wat daarna volg, geneig is om op te gee indien hulle teenspoed kry. ʼn Goeie selfhelpboek sweep jou op, maar hou jou voete terselfdertyd op die grond.

Dit help natuurlik baie as jy reeds gemotiveerd is – indien jy die energie en ʼn positiewe gesindheid het om die advies te implementeer, is jou kanse op sukses groter. As die wil reeds daar is om te verander, kan selfhelpboeke jou daai ekstra hupstoot in die regte rigting gee. Moet egter nie tussen die bladsye van selfhelpboeke vir motivering gaan soek nie – dan is dit dalk beter om eksterne hulp te kry, sodat jy nie alles op jou eie hoef te doen nie, beweer Bergsma.

Só pas jy toe wat jy lees

So nou dat ons weet waarvoor ons moet kyk, hoe pas ons dit toe? Dis belangrik om die regte boeke te kies – kyk uit vir boeke wat deur kenners geskryf is, wat gegrond is op navorsing deur kenners en raad wat realisties is. Pasop vir oordrewe eindresultate – “verloor gewig in sewe dae” en “vind oornag lewensgeluk” is bemarkingsfoefies en onrealisties. Baie van dié boeke kan jou selfvertroue ook ʼn knak gee – jy mag dalk net dink: “As die wonderlike boek my nie help nie, gaan niks my help nie.” Die meeste persoonlike verandering is stadig en nie maklik nie. Daar sal ook terugslae wees want verandering gebeur nie oornag nie.

De Villiers beveel aan dat jy onderskeid tref. “Gee die skrywer advies, of motiveer hy jou? Baie skrywers verskaf net emosionele advies om jou op te rui – jy wil egter nie net in ʼn goeie bui wees nie, jy benodig praktiese raad wat jy kan toepas. Mik vir boeke met praktiese advies, in stede van boeke wat jou net motiveer ”

Jy moet besluit wat jy wil toepas en jy moet bereid wees om te eksperimenteer,volgens Bergsma. Die fout wat baie boeke maak is om te dink dat iets wat vir een persoon werk, gaan vir almal werk – mense is verskillend met verskillende behoeftes.Gebruik wat vir jou werk en wat pas by jou persoonlikheid en skedule, en indien dit nie werk nie, hou op daarmee sonder om sleg te voel.

Seker die belangrikste van alles, is om dit te doen. Dit maak nie saak hoe goed die advies in ʼn boek is nie, as jy dit nie gaan probeer nie, help dit absoluut niks. Dit is dieselfde as om te gaan berading – ʼn sielkundige kan jou advies en raad gee maar as jy dit nie toepas nie, help dit niks nie.

Na als, hang dit eindelik van ons af – die lesers van selfhelpboeke! Dit is ons besluit, of ons iets omtrent die advies in die boek wil doen. Jy is alreeds een treetjie in die regte rigting met die koop van die boek – pas dus nou toe wat jy daarin lees!

 

Leave a Reply