Skip to main content

Charmaine Lourens

Die Demokratiese Alliansie (DA) sit stewig in die saal in wyk 12 na ‘n hewige tussenverkiesingstryd in Modimolle.

Wiets Botes, die DA se kandidaat in dié wyk, het gisteraand in ‘n belangrike tussenverkiesing met ‘n twee derde meerderheid weggestap. Hy het 68.31% van die stemme gewen.

Die drie ander kandidate was Mariska Greyling (VF Plus), Thabiso Makanatleng (ANC) en Precious Lechelele (EFF).

Die tussenverkiesing is gehou nadat die vorige DA-raadslid Sarna Groenewald in Meimaand bedank het. Haar bedanking was slegs ses maande na die munisipale verkiesing wat in November verlede jaar gehou is.

‘n Verheugde Botes het gisteraand na die bekendmaking van die uitslag aan Die Waarheid gesê dis lekker en ‘n voorreg om in die huidige politieke landsklimaat ‘n DA-raadslid te wees.

“Die DA-span is ‘n goed geoliede masjien wat agter my gestaan het en my dogter, Mikayla (19), was my regter- en linkerhand deurgaans.”

Botes, ‘n boorling en sakeman van dié dorp, het reeds van 1999 tot 2016 as raadslid in die Modimolle Munisipaliteit gedien voor die samesmelting met Mookgophong (Naboomspruit). Hy was ook sowat vyf jaar voorsitter van die Waterberg Sakekamer.

Botes meen dit is belangrik om die hele munisipaliteit reg te ruk en om te draai. Hy is reeds besig met verskeie dorpsprojekte wat hy uit sy eie sak finansier. Vir hom gaan dit egter nie net oor basiese dienslewering soos slaggate en waterlekke aanspreek nie, stadsbeplanning moet ook aandag kry.

“Die bouplanne van die breër gemeenskap moet goedkeuring kry. Dis belangrik om geld van buite af na die dorp te bring.”

Hy brei kortliks uit oor sy planne om saam met ‘n paar sakemanne ‘n private hospitaal op die dorp te bou. “Ons werk nou al so vier jaar daaraan. Die lisensie-aansoek moet nog goedgekeur word. Dit sal ‘n reuse-ekonomiese inspuiting vir ons mooi dorp beteken.

“‘n Hospitaal met ‘n volledige ongevalle-afdeling is noodsaaklik, want na-ure is dit ‘n gesukkel om reg te kom. Die hospitaal sal ook help om werkloosheid hier hok te slaan.”

Marlene van Staden, DA burgemeester van die Modimolle-Mookgophong Munisipaliteit, het al die kiesers wat so fluks kom stem het, bedank.

“Die kiesers het bewys dat hulle steeds die DA vertrou om dienste te lewer in Wyk 12. Ek sien uit om saam met Botes in die raad te werk.”

Foto: Wiets Botes saam met die leier van die Demokratiese Alliansie, John Steenhuisen.

Leave a Reply