Jammer
Somerson
Vir die MK-generasie is die naam Henry Wickens van die groep Laaste Duplikaat sinoniem met pop-punk.
Sy diep sensuele stem het die meisies laat sidder, en tesame met sy lirieke het dit die eerste dekade van die nuwe millennium se storm-en-drang treffend vasgevang.
Hoewel hy toe nog in graad 10 was, het diė “outjie” van Upington in die Noord-Kaap die musikale tonge laat klap en dit het niemand verbaas toe die Laaste Duplikaat in die Top 8 van MK Rock-Spaaider beland het nie.
Nou is Henry, wat sedert verlede jaar die naam “Jammer” as verhoognaam gebruik, terug met ’n enkelsnit Somerson. Nogeens verwoord dit die nuwe musikale dekade – waarin liedjieskrywers meer op hartstog en die liefde fokus – raak.
Somerson, wat uit sy eie pen verskyn, is ‘n lekker luisterliedjie. Dit verskil egter deurdat dit nuwe “waarhede” bevat. Henry verduidelik dat hy sedert 2011 op soveel vlakke gegroei het – emosioneel en musikaal – en daarom het sy eie waarheid ook verander.
Die snit handel oor gebrokenheid; oor verset en opstand. Oor ’n liefdesverhouding wat iewers langs die pad skipbreuk gelei het. “Die snit se lirieke is baie op my eie lewensdraaie gegrond. Ek het myself baie keer verloor, en moes myself weer vind. My hart is ’n paar keer gebreek – ek het besef dat ek eers hard moes val voordat ek weer kon opstaan.
“Die liedjie het net na my toe gekom. Nadat ek die lirieke geskryf het, het ek eers besef dat die liedjie eintlik ’n dieper betekenis het en dat dit nie net oor ’n gebroke verhouding gaan nie, maar dat jy eers iets moet verloor om uit te vind waarvoor jy lief is,” vertel hy.
Volgens Henry het hy al in 2018 met die “Jammer”-konsep begin. “Ek het al soveel foute gemaak en het baie keer vergeet om die woordjie jammer te gebruik. Nou kan ek sommer vir almal, wat ek al in my lewe te na gekom het, jammer sê,” lag hy.
Die MK-generasie, glo hy, het saam met sy musiek beweeg en van hulle is steeds getroue ondersteuners. “Daar bestaan ’n diep konneksie tussen my lirieke en my hart en ek dink dit is waarom my ondersteuners nog altyd aanklank by my musiek vind.”
Nadat hy gematrikuleer het, het hy die pad na Pretoria gevat en waag sedertdien sy hand aan verskeie musiekprojekte. Sy ouers ondersteun hom en moedig hom sedert sy skooldae aan om soveel instrumente moontlik te bemeester. Hy is meester van die bas- en akoestiese kitaar en kan ook klavier speel.
Sy grootste plesier is om ’n nuwe kitaar te koop. Hy gebruik ses kitare om die beurt op die verhoog. “My skryfproses begin altyd by my kitaar. Op ’n manier vertel kitaar ook my lewensstorie.”
Henry is ’n sterk liriekskrywer en het die afgelope 11 jaar verskeie liedjies geskryf wat op radiostasies se trefferparades geboer het.