Sonnette Lombaard
Vreugdevure brand weer hoog in talle huishoudings nadat MultiChoice se omstrede besluit om vier kanale van e.tv op satelliet-televisie summier te verwyder, tydelik omgekeer is. Dit beteken derduisende Afrikaanssprekendes kan weer hul grensloos-geliefde Turkse sepies op DStv kyk.
In sy appèl-uitspraak het die Kompetisie-Tribunaal ‘n bevel uitgereik aan DStv om die kanale van eExtra, eMovies, eMovies Extra en eToonz te herinstalleer. Die summiere verwydering van diė vier gewilde kanale in die herfs is wyd bitter begroet. Die dramareekse word plaaslik in Afrikaans oorgeklank en word nie net geloof vir die hoogstaande oorklankgehalte nie maar verskaf die laaste vier jaar welkome werk aan ‘n groot gros van ons voorste akteurs en tegnici.
In ons stram vermaakbedryf bring dit ruim werkgeleenthede vir van ons bekendste Afrikaanssprekende akteurs, stemkunstenaars, vertalers tot sinchroniseerders en klanktegnici en bied ook opleidingskans aan die jonger geslag.
Daar is openlik bespiegel oor professionele jaloesie omdat e.tv se reuse-sukses met die internasionaal-gewilde en bekroonde Turkse reekse kykNET in die skadu gestel het. Wat kyksyfers bevestig het. Beskuldigings van boelietegnieke van ouboet was ook sterk. Dit was boonop toe reeds bekend dat MultiChoice deur kykNET beoog om voortaan die hipergewilde Turkse TV-bedryf te betree en in e.tv se gebaande weë te ploeg met oorgeklankte Afrikaanse reekse uit Turkye. Twee oorgeklankte Turkse telenovelas word sedertdien op kykNET & kie uitgesaai.
Die vier kanale is in Junie terstond gestop sonder behoorlike vooraf waarskuwing en duisende Suid-Afrikaanse aanhangers van die Turkse TV-reekse landwyd was onkant gevang en oornag gestrand. Die Turkse reekse is gewilde voorkeurvermaak vir oud en jonk oor alle inkomstegroepe.
Die uitspraak eergister is hangende ‘n bitter geding waarin die Kompetisie-Tribunaal die saak verder ondersoek oor die vier kanale op MultiChoice se satelliet TV-platform DStv. Die herstelde kanale sal nou geld tot met die finale bevinding. eMedia het hom in April tot die Kompetisie-Tribunaal gewend nadat MultiChoice met hernuwing van sy kanaalverskaffingsooreenkoms geweier het om e.tv verder op die vier kanale te huisves.
e.TV se oorgeklankte Turkse reekse word op DStv se kanale 194 en 195 uitgesaai. Die meeste word hier in Afrikaans oorgeklank en verskaf aan honderde plaaslike akteurs en tegnici in Suid-Afrika, waarvan baie werkloos is, werk.
Intussen het eMedia, eienaar van e.tv, sy blydskap met die nuutste bevinding en sege verklaar. Volgens ‘n verklaring is die mediamaatskappy “verheug dat ons kanale weereens toeganklik is vir n groter aantal kykers”.
eMedia was deur e.tv die voorloper om die globaalgewilde Turkse TV-reekse na Suid-Afrika te bring. Suid-Afrikaanse kykers het soos talle lande wêreldwyd die laaste paar jaar voor die onweerstaanbare “seepsjarme” uit Turkye geswig met die aanbieding van topvermaak propvol intrige, aksie en romanse, wat eweveel tot Christen- en Moslemkykers spreek. Die reekse is ook uiters gewild in ander dele van Afrika.
Die mega Turkse TV-bedryf word wyd as ‘n sosiale fenomeen beskou en kring sedert die 2000s uit. Dit oorrompel die mensdom oraloor en pasgemaakte toere na die reekse se stelle in Turkye is deesdae gewild. Die Turkse bedryf is nou naas Hollywood die grootste uitvoerder van TV-reekse. Dit vul die vermaakgaping tussen Hollywood se glansgeneigdheid en Bollywood se oordaadstreep.
Die Turkse tsoenami het Suid-Afrika vier jaar gelede getref en was blitsig ewe gewild hier. Die dramatiese maar “skoon” storielyne sonder eksplisiete seks en kru taal, aansienlike Turke en hul beeldskone land sorg vir top-tuisvermaak.
Marli Schulze, inhoudspesialis by e.tv, het al erken geldgebrek vir die maak van eie peperduur plaaslike produksies het alternatiewe opsies genoodsaak. “Die Turke se klem op familiebande en morele waardes stem ooreen met Afrikaanssprekendes se leefstyl en voorkeure. Die Turkse nasie is ook veelrassig en taal- en geloofverskille word sensitief hanteer.”
Voorts het e.tv van die begin daarop gefokus om met oorklanking álle Afrikaanssprekendes tuis te laat voel met keurige, verteenwoordigende en toeganklike taalgebruik. Verskillende streekdialekte van Afrikaans word gehoor.
Bring die hoop terug! Vreeslik trots om dit te kan beleef!