Skip to main content

 

Gert Basson

’n Negejarige seun van Brackenfell in die Kaap is getraumatiseer na ’n ontvoeringsdrama toe hy reg voor sy huis in ’n sekuriteitskompleks gegryp is.

“Ons het so baie vrae. Ons weet nie hoekom hulle ons kind geteiken het nie,” vertel die ma.

Die gesin het Maandagmiddag oudergewoonte hulle roetines gevolg.

“Ek was besig om my dogtertjie te bad en my man was voor die rekenaar. Ons het ons seun gevra om gou ’n leë boks melk in die asblik buite weg te gooi. Die asblik is nie eens vyf meter van ons voordeur af nie.”

Dit was toe dat die verdagtes die seun gegryp het.

“Ons het glad nie onraad vermoed nie. Oorkant ons huis is ’n parkie waar hy gereeld speel. Hy is in en uit die huis. Daar was niks vreemd aan die situasie nie.”

Teen halfses was die seun egter nog nie tuis nie en sy ouers het begin bekommerd raak.

“Daar was ’n klop aan die deur en toe ek oopmaak staan daar vier sekuriteitswagte met my seun in een van hulle se arms. My eerste gedagte was dat hy dalk iets aangevang het, maar toe sê hulle hy was ontvoer.”

Die ontvoerders het die seun glo voor die huis gevat en met hom in die rigting van die Cape Gate winkelsentrum gery toe hulle besluit het om hom in die pad af te laai.

“Ons weet nie hoekom hulle besluit het om hom te laat gaan nie. Hy is nog baie deurmekaar en ons het nog baie vrae.”

’n Motoris het die seun, bang en verward, langs die pad gekry, maar hy het weghardloop vir die persoon.

Nadat sekuriteitsbeamptes in kennis gestel is, het hulle die seuntjie in Marlboroughweg gekry. Hy het vir hulle gesê hy is deur twee onbekende mans ontvoer.

Hy het dit reggekry om vir die beamptes aanwysings te gee oor waar hy bly.

’n Saak van ontvoering is by die polisie oopgemaak.

“Ons het hom gevat vir speelterapie en ons het ook berading gekry. Hy het die hele tyd vir ons gesê hy was nie bang nie. Hy het geweet die Here is by hom.”

Leave a Reply