Charmaine Lourens
Die inwoners van Modimolle (Nylstroom) is gereed om hul kruisies môre (Woensdag), in die belangrike munisipale tussenverkiesing in Wyk 12 te trek.
Dit volg nadat raadslid Sarna Groenewald van die Demokratiese Alliansie (DA) in Meimaand bedank het. Haar bedanking het gekom skaars ses maande na die munisipale verkiesing wat in November 2021 gehou is.
Volgens die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se kantoor op die Bosvelddorp het meer as 3 600 kiesers reeds geregistreer.
Die stemlokale by die Susan Strijdomskool in Kerkstraat en die Kokanje Aftree-oord maak om 07:00 oop en sluit om 21:00.
Die vier kandidate waarvoor gestem kan word, is Wiets Botes (DA), Mariska Greyling (VF Plus), Thabiso Makanatleng (ANC) en Precious Lechelele (EFF).
Wiets Botes is ’n sakeman en het van 1999 tot 2016 as raadslid in die Modimolle Munisipaliteit gedien voor die samesmelting met Mookgophong (Naboomspruit). Hy was ook sowat vyf jaar voorsitter van die Waterberg Sakekamer. Hy wil veral aandag gee aan goeie dienslewering en is reeds betrokke by verskeie dorpsprojekte, soos met die aankoop van benodighede om gebarste waterpype in Wyk 12 te herstel.
Mariska Greyling van die Vryheidsfront Plus woon op ‘n plaas buite die dorp saam met manlief, Jan. Haar passie is bejaardes en kinders en sy is betrokke by verskeie gemeenskapsprojekte. Sy sê die VF Plus is ‘n party wat die plaaslike munisipaliteit wil verbeter tot voordeel van die hele gemeenskap. Sy wil ‘n daadwerklike verskil maak en toesien dat slaggate reggemaak word en sorg vir water en doeltreffende sanitasie vir alle inwoners.
Thabiso Makanatleng is ‘n jong kommersiële boer en regsstudent. Indien hy verkies word, sal hy die swak dienslewering en administrasie wil verbeter. Hy wil ook korrupsie hokslaan en beleggers en toerisme na die dorp lok wat meer werkgeleenthede sal skep.
Precious Lechelele is ‘n onderwyser-assistent by ‘n plaaslike laerskool. Sy wil haar daarvoor beywer om dienslewering te verbeter en te sorg vir skoner en rommelvrye strate en paaie wat onderhou word. Die veiligheid van die inwoners is vir haar belangrik daarom sal sigbare polisiëring en die herstel van die straatligte aandag geniet.