Skip to main content

Charmaine Lourens

Haar liefde en passie vir Afrikaans is tydens die ATKV se Afrikaanse Olimpiade deeglik getoets, vertel Anke Weideman, ‘n gr. 12-leerder van die CVO Skool Pogietersrus. Sy is onlangs aangewys as die senior provinsiale wenner.

Leerders van die CVO Skool Potgietersrus in Mokopane het ywerig aan diė jaarlike Olimpiade deelgeneem waar hulle kennis in Afrikaans die deurslag moes gee.

Die ATKV Olimpiade vir Afrikaans as huistaal is vanjaar vir die 42ste keer geskryf en die ATKV Senior Olimpiade vir Afrikaans as eerste adddisionele taal vir die 35ste keer.

Jeanné Naudé, projekorganiseerder vir taal, sê dat die Afrikaans Olimpiade een van die oudse taalprojekte van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) is. Sy meen dat die projek bydra tot die status van Afrikaans as ‘n hoëfunksietaal en beloon die leerders van grade 7-12 vir die verskil wat hulle met die taal maak. Die Olimpiade dien ook as ‘n goeie voorbereiding vir die skooleksamens.

Die Olimpiade bestaan uit vier vraestelle vir beide huistaalleerders en eerste addisionele taalleerders (senior: grade 10-12 en junior: grade 7-9). Tegniese taalvaardighede word getoets en die leerders word uitgedaag om hul liefde en kennis vir Afrikaans uit te brei.

Anke vertel sy was eers huiwerig om deel te neem. “Olimpiades is gewoonlik moeilik en ek was bang dat ek nie daarvoor sou tyd hê tussen my matriekwerk nie. Uit nuuskierigheid oor hoe die vrae sou lyk, het ek egter ingeskryf.”

Sy sê die vraestel was aansienlik anders as die vraestelle wat ‘n mens van grade 4-11 skryf. “Die fokus het meer geval op letterkunde en die interpretasie daarvan, met minder van die taalleer waaraan ‘n mens gewoond is. Selfs al was dit meervoudige keusevrae, was dit regtig nie maklik nie.

“Ek het groot respek vir die ATKV wat so ‘n hoë standaard van Afrikaans handhaaf. Die werk wat hulle vir en in Afrikaans doen, is besonders en help om ons taal uit te bou.”

Anke deel sy is al van jongsaf lief vir lees. Hierdie liefde het gegroei tot ‘n passie vir taal. “My jarelange Afrikaanse onderwyseres, juffrou Rina van Schalkwyk, praat gereeld van ‘die wonder van Afrikaans’ en hoe taal ‘n gawe van God is.”

Alhoewel dit nog nie in gr. 8 vir my sin gemaak het nie, stem ek nou in matriek heelhartig met haar saam.”

Anke is nie net lief vir lees nie, maar ook vir skryf. Ek het al aan ‘n paar digkompetisies deelgeneem. “Met die publikasie van die GHA se Stemme uit die Suiderland 15 is ek in 2021 deur Groep 7 die geleentheid gebied om my eie digbundel te publiseer. Dit was vir my ‘n groot voorreg dat diė droom van eindelik vir my kon waar word.”

Haar opvolgbundel Drome, gedigte en dierbare gesigte het in Oktober van haar graad 11-skooljaar die lig gesien.

Leave a Reply