Skip to main content

 

Isaac Cloete

‘n Kinderverkragter moes onlangs uitvind dat hy lank gaan boet weens sy lustigheid wat ander se lewens verwoes het.

Diė pa van die dorpie Brandvlei in die Noord-Kaap het ‘n allemintige 150 jaar tronkstraf gekry vir onder meer kinderverkragting.

Die man is Donderdagoggend in die streekshof op Calvinia baie swaar gestraf vir verkragting en statutêre verkragting.

Een van die slagoffers was sy eie dogter, wat ten tye van die eerste voorval in 2015 net agt jaar oud was.

Die man het Vrydag hier op twee klagtes van statutêre verkragting en vier van verkragting tereggestaan.

Volgens die staat het die voorvalle tussen 2012 en 2021 te Brandvlei gebeur. Die tweede slagoffer was 14 jaar oud toe die man haar die eerste keer verkrag het, luidens getuienis.

Sy eie dogter het hy weer vir ‘n tweede keer, in Junie 2021, verkrag toe sy 14 jaar oud was, luidens verklarings.

Volgens ingeligtes het die dogtertjie en haar ma by diė geleentheid glo stry gekry omdat laasgenoemde blykbaar dronk was.

Die dogtertjie het toe met die sak patats uitgekom en aan haar ma vertel dat haar pa haar al sedert agtjarige ouderdom verkrag het.

Volgens polisiewoordvoerder lt. Sergio Kock was daar reeds in 2013 klagtes van verkragting teen dieselfde man gemaak – deur ‘n buurvrou. Hy is destyds gearresteer, maar weer vrygelaat omdat die klaagster toe nie opgespoor kon word nie.

“As gevolg van die verkragting van sy eie dogter, was hy weer gearresteer en is die klagte van die buurvrou ook weer op die rol geplaas.”

Die landdros het die man vir die twee statutêre klagtes tien jaar tronkstraf opgelê.

Vir klagte drie is hy 20 jaar tronkstraf en vir klagtes 4, 5 en 6 is hy tot 40 jaar elk tronkstraf gevonnis. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word, volgens die ondersoekbeampte.

Die hof het verder gelas dat die gevonnisde ongeskik is om ‘n vuurwapen te besit, dat hy nie met kinders mag werk nie en dat sy naam in die nasionale register vir seksuele oortreders aangeteken sal word.

Gizela Opperman, LP van die Hantam-streek, het verklaar dat die minimum straf in die saak lewenslank moes gewees het.

Sy het voorts gemaan dat ouers ten alle tye meer waaksaam moet wees, selfs binne hul eie wonings.

Verder het sy zero tolleransie vir bloedskande.

“Ek hoop die psigo-sosiale ondersteuning en beradingsnetwerke is reeds in plek om hierdie moeder en kind verder te ondersteun na die trauma van hierdie hofsaak.”

Volgens haar is kinder- en intrafamiliêre verkragting aan die toeneem op die platteland.

‘n Familielid van die gevonnisde het anoniem bygevoeg dat hulle baie hartseer is oor die gebeure, maar nou niks daaraan kan doen nie. Die gevonnisde is haar oom.

“God se planne is nie ons s’n nie. God sal ons nie in sulke situasies plaas nie as hy nie ‘n plan daarvoor het nie.”

Solly John Sass was die aanklaer in die saak.

One Comment

Leave a Reply