Skip to main content

Charmaine Lourens

Rugby is bobaas in Suid-Afrika en in die Bosveld is dit kerngesond.

Limpopo spog juis met van die oudste rugbyklubs in die land en strawwe klubkampioenskappe vier nog hoogty in dié provinsie.

Potgietersrus Rugbyklub se eerstespan en Louis Trichardt se eerstes het onlangs in die naelbyt-finaal van die 2022 Noordstreek/Boet Fickliga sake uitgespook.

Die was die swart en wit streeptruie van Potties wat eindelik koning gekraai het op die rugbyveld van Hoërskool Piet Pogieter in Mokopane.

Na ‘n taai wedstryd was die eindtelling 25-21 in Potties se guns.

Die loskakel Zander Bylevelt is as die Agterspeler van die wedstryd aangewys en die Beste Voorspeler was die agtsteman Wickus Pretorius.

Weens die Covid-19-pandemie is die liga nie in 2020 gespeel nie en in 2021 moes die spelers in die middel van die seisoen eers hul stewels ophang weens die inperkings.

Dit was ‘n soet sege vir Potties Rugbyklub wat vanjaar 103 jaar oud is, vertel Werner Rossouw, administrateur van die klub. Die klub is in 1919 gestig.

Pottties Rugbyklub het ook in 2019 nie net as wenners van die Boet Fickliga weggestap toe hulle Louis Trichardt in die finaal met 22-9 geklop het nie, maar dit het juis in hul Eeufeesjaar geskied en daar is toe na behore gevier.

Die streeptruie was in 2016 ook die Boet Fickliga-wenners en in 2017 die Limpopo Assupol naaswenners.

Rossouw sê hoewel die spelers nou eers ‘n blaaskans kry, lyk die pad vorentoe belowend.

”Daar is baie jong spelers wat aangesluit het en die klub in die toekoms gaan dra,” vertel hy opgewonde.

Foto: Anneline Venter

Leave a Reply