Waar is die hardebaarde?
Die luidsprekers is stil. Die kitare het ophou huil. Die gille en gromme uit die mae van jong Afrikaners is getem. Waar is die nuwe Fokofpolisiekarre? Waar is die tiener-angs wat die luggolwe gebuig het? Die manne uit Potchefstroom? Die nuwe Bellville Bendes? Waar is die nuwe Afrikaanse Rockers? Of mis ons iets? Gerald Eloff het gaan kyk of daar nog lewe is.
Gedurende die middel-2000’s was dinge aan’t gebeur. ʼn Nuwe rockgroep uit Bellville, Fokofpolisiekar, was in volle swang en het tieners se ouers teen die mure uitgedryf. Daar was laaities soos Straatligkinders vanuit Potchefstroom wat baie geraas gemaak het. Hulle klone het gevolg. Daar was ʼn kanaal, MK89, op DStv, waarop elke outjie met ʼn kitaar ʼn musiekvideo gehad het. Daar was Angola Badprop se fantastiese artikels in Sondag. Afrikaanse Rock op Tuks FM en RSG Tempo. Daar was Rumours Lounge in Johannesburg en Steak & Ale in Pretoria. Daar was Oppikoppi – dit was elke jong band se droom om daar te speel. Mense, daar was lewe. Afrikaanse Rock was op sy piek. En toe? Toe raak alles mettertyd sagter… En nou is dit doodstil, behalwe vir ʼn paar veterane wat aan die laaste, vergete noot probeer vasklou. Wat het gebeur?
Henry Davies, ʼn klankingenieur en ook eienaar van PAS Media Academy in Bloemfontein, glo dit het alles te doen met die era tussen 2005 en 2015 waar internasionale rock ook baie lewendig was.
“Die status quo tans, is sad.” Vertel Henry. Gedurende 2005 tot 2015 was groepe soos Straatligkinders en Fokofpolisiekar aan die brand. Ek dink dit het te doen met die hoofstroom Amerikaanse rock van daai tyd wat baie gewild was. Die musiek was hard en baie kitaar-gedrewe. Dit was maklik vir ʼn Afrikaanse rockgroep om daai klank na te boots. Rock tans, is all over the place. Selfs Machine Gun Kelly en HAIM word as rock geklassifiseer. Ek sien dit onder my studente ook, kitare is net nie meer die in-ding nie. Alles gaan oor sagteware, almal wil DJ.” Die ander probleem het te doen met die winsgewendheid van musiek, voel Henry.
“Jy maak nie meer geld deur CD-verkope nie en die stromingsdienste betaal jou ʼn appel en ʼn ei, so jy moet toer, of jy moet merchandise verkoop.”
Blootstelling, borrelgom en kwaad-wees
Riaan Grobler is ʼn joernalis en het destyds die musiekwebwerf Pressto bestuur. Hy beskryf die probleem as drie-ledig. “Daar is beslis minder geleenthede as vroeër jare vir opkomende rockgroepe wat blootstelling betref – dink maar aan die Rockspaaider kompetisie (waarvan die tans suksesvolle Spoegwolf ʼn produk was) en MK89.” sê hy.
“Die pandemie het ook nie gehelp nie ten opsigte van kunstefeeste en Jool op kampusse wat nie gebeur het nie. Tweedens dink ek dat hoofstroom-borrelgommusiek die alternatiewe musiekgenre verdrink – die groot aanvraag van Afrikaanse musiek lê daar, want dis waar die geld is. Mens hoor deesdae hoe kunstenaars wat bekend was vir rockmusiek, deesdae al hoe meer die hoofstroom betree met ʼn meer kommersiële klank.
Laastens, voel Riaan dat: “Rockmusiek was nog altyd gebore uit protes. Dink maar aan die Voëlvry-Beweging wat protes aangeteken het die politieke bestel van daai tyd, en dan Fokofpolisiekar, alhoewel dit meer ʼn kulturele protes was, gemik op ʼn kultuur wat hulle oorgeërf het van die vorige generasies. Nou sit ons met ʼn situasie waar daar niks meer oor is om oor te baklei nie. Daar is tans nie ʼn protesbeweging wat Afrikaanse rock rugsteun nie.”
Die reg op protes?
Danie Marais, skrywer, digter en musiekkenner, skets ʼn meer somber prentjie. In ʼn globale konteks, sê Danie die volgende: “Ek dink die rock-era oor die algemeen is verby. Dalk vir ʼn dekade al. Die vorige dekade het aan Hip-Hop behoort, dit was die belangrikste stemme van die tyd in terme van sosio-politieke kommentaar.”
Hy gaan voort: “Op 17 Julie 2017 het Forbes-tydskrif aangekondig dat hip-hop/R&B (wat die gesaghebbende Nielsen SoundScan as een genre reken) vir die eerste keer in die geskiedenis rock verbygesteek het as die mees verbruikte musiekgenre in die VSA.”
“Die kultureel toonaangewende ‘rock-sterre’ van die 2010’s het hip-hop, R&B of pop gemaak. Wat Bob Dylan, die Beatles en Rolling Stones vir die 60’s was, was Beyoncé, Kendrick Lamar en Taylor Swift vir die afgelope dekade. As jy #BlackLivesMatter in Amerika sien as die 2010’s se ekwivalent van die Burgerregtebeweging, was die “We Shall Overcome” en “The Times They Are a-Changin’ ” van die afgelope dekade, Childish Gambino se “This Is America” en Kendrick Lamar se “Allright”. Laasgenoemde is ’n snit van Lamar se 2015-hip-hop-album, To Pimp a Butterfly, wat volgens Metacritic.com dié plaat van die 2010’s is as jy die toptienlysies van verskeie publikasies in die VK en VSA vergelyk.
In die dekade waarin Bob Dylan in 2016 die eerste sanger-liedjieskrywer geword het om ’n Nobelprys vir Letterkunde te ontvang, het Lamar in 2018 vir sy album Damn die Pulitzer vir Musiek gewen – die eerste keer dat dié gesogte prys nie aan ’n jazz- of klassieke musikant toegeken is nie.”
Op plaaslike bodem, het Danie die volgende te sê gehad: “Plaaslik het die oorwegend wit jongmense wat altyd rock gemaak het, geweldig bewus geword van die bevoorregting wat baie van hulle geniet. Dit is verlammend is jy wil skree teen die onregte van jou tyd. Ek dink ook daar is ʼn onderliggende narratief hieraan wat sê, ‘luister bedorwe, bevoorregte wit kinders – as dit julle nie hier pas nie, voertsek!” Is dit regtig die stemme wat ons wil hoor in protesmusiek?”
“Daar het ʼn verskuiwing plaasgevind waar wit rockgroepe sukkel om hul voete te vind en hulself skerp polities uit te druk. Persoonlik vir my, was kunstenaars soos Churchill Naude, Frazier Barry en Tribal Echo gedurende die laaste tyd baie goed. Dis dié mense van wie se struggle ek wil hoor.
ʼn Tikkie hoop?
Daar is tog ʼn paar groepe wat ʼn lig (dalk nog bietjie flouerig) in die tonnel verskaf. Henry Cloete, voorsanger van die groep Die Skynmaagde, verwys na die bands Bloumoord en De Wallen wat goeie musiek maak. “Hulle beweeg egter onder die radar, want radiostasies gee nie veel lugtyd aan rock nie.
Die rocker Koos Kombuis glo ook, alhoewel elekties, “daar steeds lewe is”, en verwys na groepe soos Draadhond, Millennium en Die Skynmaagde (sien bo).
Henry Davies voel ook dat daar wel nog ouens is wat probeer. “Frank Freeman van VOLK se musiek is kookwater.”
Danie haal ook vir Simon Reynolds aan, uit sy boek Retromania. “Daar gaan nog goeie rockmusiek gemaak word, net soos wat daar goeie Jazz was nadat die Jazz-era tot ʼn einde gekom het, maar rock gaan nie meer die genre wees waarteen ouers hul kinders teen gewaarsku het nie, net soos Jazz in 1920 en 1930’s. Daar sal wel nog herlewing wees – net nie meer die toonaangewende, kulturele fenomeen, wat die psige van die jeug regeer nie.”
Kom ons hoop maar vir die volgende herlewing. Want as daar iets is wat ons geleer het, is dit dat geskiedenis homself altyd herhaal. Net soos skinny jeans, afros en Moon Bags. En kom ons hoop dit gebeur gouer as later – want nie almal is lus om te kou aan “Borrelgom-musiek” nie.