Skip to main content

‘n Oos-Kaapse boer lê snags wakker in Hartenbos.

Sy suster betaal vir hom en sy vrou maandeliks vir die verblyf in ‘n klein woonstellentjie en hulle voer ‘n sukkelbestaan.

Hy weet nie meer wat om te antwoord wanneer die bankamptenare wat nie ‘n idée het van boerdery nie, hom gereeld bel om sy agterstallige betalings in te vorder. Hy het niks en antwoord: “Julle moet maar my lewe ook kom vat, want ek gee eintlik ook nie meer om nie”.

Ten spyte van sy magteloosheid, slaan hulle weekliks die spykers net dieper en dieper in.

Hy het twee plase gehad. Die een plaas van 1 055 hektaar, ‘n beplande ekotoeristeplaas in ‘n trust, was gereed om aan voornemende kopers verkoop te word.

Die plaas was gewaardeer vir R32 miljoen. Hy het op hierdie plaas ‘n lening aangegaan van R6 miljoen by ‘n landboumaatskappy wat hy gebruik het om ontwikkeling te doen asook om speenkalwers in te koop.

In samewerking met Grain Vest het hy en sy seun jaarliks speenkalwers op aangeplante weiding op aangrensende plase onder besproeiing, wat gehuur is, laat groei. In sy eie voerkraal op sy plaas het hy tot 250 kalwers op ‘n slag afgerond tot ‘n gewig van 250kg.

Die kalwers is gelaai en deur Grain Vest verkoop en sy aandeel is binne ‘n week aan hom betaal. Dit het goed gegaan met die boerdery. Meer as ‘n duisend kalwers is jaarliks vir GrainVest gelewer.

In 2017 het die wiele egter vir Grain Vest uitgeval. Nadat hy ‘n dubbeldekkertrok en sleepwa vol kalwers vir hulle gelewer het, kon hulle nie die R700 000-00 wat hulle aan hom moes betaal, uitbetaal nie. Hy moes in die ry staan vir ‘n persentasie van die geld. Dit was ‘n gatslag.

Om alles te kroon het dinge begin lol by die landboumaatskappy ook. Hulle skroewe het ook begin losraak. Dit het ‘n direkte impak op die boer gehad.

Hoewel hy nog sesmaandeliks soos die reeling was sy verpligtinge nagekom het, het hulle besluit om die termyn te verander en is daar van die boer verwag om sedert 2017 maandeliks sy paaiemente te betaal. Dit was nou skielik nie meer moontlik om die lening te diens nie en is die skroewe vasgedraai en die plaas in September 2018 gelikwideer.

Hulle het egter nie die plaas verkoop nie en hy het ook nie die reg om verder van die plaas ontslae te mag raak om sy bategedeelte daarop te kan kry nie.

Die ander plaas, ‘n wildsplaas van 1 680 hektaar wat deur die bank gewaardeer was vir R21 800 000, is in 1999  gekoop en ontwikkel. Die plaas was wildomhein met 21 wildspesies, vyf standhoudende fonteine, ‘n vierslaapkamerhuis, swembad, ‘n chalet, ‘n lodge vir die jagters, store en ‘n staal-voerkraal en beeskrale waar tot 250 beeste gevoer kon word.

Daar is ‘n koelkamer en klein vleisverwerkingsaanleg waar die vleis jaarliks verwerk was. Tydens die jagseison het hy hoofsaaklik buitelandse jagters gekry om te jag en het hy minstens ‘n wins van R1 200 000 jaarliks verdien.

Op die plaas het hy R5 000 000 geskuld en moes hy jaarliks twee paaiemente van R300 000 betaal.

Hy kon na die verlies van die een plaas van 2018 tot 2020 aangaan met sy boerdery op die wildsplaas waar ook die voerkraal en veehanteringsgeriewe is. Hy het jaarliks met die jaginkomste sy eerste paaiement by die bank betaal en dan met die res en sy bestaande oortrokke fasiliteit by die bank, kon hy tot 250 speenkalwers aankoop wat hy laat groei en weer verkoop het vir die hoër omset waarmee hy sy verpligtinge kon diens.

Toe hy egter as gevolg van die Covidkrisis in Maart 2020 nie kon jag nie en die depositos terugbetaal is, het hy nie die geld gehad om sy verpligtinge by die bank na te kom nie en kon hy ook nie die kalwers koop om sy bedryf op koers te hou nie.

Die likwidateurs van die bank het vinnig toegeslaan en in Oktober 2020 is al die voertuie, die beeste en los bates verkoop. Die wild is op die plaas agtergelaat en hy moes trek. Daar is geen toesig nie en  die likwidateur van die bank het hom verbied om weer sy voet op die plaas te sit ten spyte dat die bank se skuld net 25% van sy plaasbate was.

“Wanneer die betaalvermoë van die boer bedreig word deur Covid of ‘n droogte word sy bates oornag niks werd nie. Kan mens nog in so ‘n onvriendelike land boer? Is dit die werkswyse van ons finansiële instellings in Suid-Afrika? Of is dit die reg wat likwidateurs, prokureurs en afslaers hulle toeeïn om ‘n winskopie vir die vriend of familielid te bekom?” vra ‘n boer van Zeerust aan Die Waarheid.

Ons sal binne die volgende weke die name van die instellings en die boer bekend maak asook die pryse wat die boer se toerusting behaal het.

2 Comments

  • Dries Havenga says:

    Maak asb DAAI vuilgoed van n bank se naam asook die likwidateurs wat die boer van die Oos-Kaap so ingeloop het ???
    Groot ASB
    Dankie
    Dries

  • Loma Janse van Rensburg says:

    Wat ‘n skande dat banke, prokureurs, likwidateurs soos aasvoëls op die boer toesak en alles net toeeïen > hy het
    twee winsgewende plase besit en bedryf. Hy weet hoe boerdery werk. Hoekom word hy nie ook gehelp nie?

    Name and shame daardie aasvoëls.

Leave a Reply to Dries Havenga Cancel Reply