George April
“Moet asseblief nie kos op die bus se vloer gooi of neersit nie, want hier is kokkerotte in die bus,” het die busbestuurder vir die passasiers gevra.
Dit het op ‘n Vrydagaand gebeur, toe ‘n paartjie van Elsiesrivier met ‘n passasiersbus Hopefield toe gereis het. Toe die vrou diè storie vertel, het dit beslis nie na die waarheid geklink nie, want die busmaatskappy is ‘n groot naam wat landwyd diens doen.
Maar dat die kokkerotte wel deel van die passesierslys is, is hierdie week deur ‘n paartjie van Hopefield bevestig. John Papier en sy liefde, Sanna Smit, het die storie uitgepak.
“Ons het die Sondagaand met die bus uit Hopefield Langebaan toe gery, het John vertel. “In Langebaanweg het ‘n kind skielik in die bus opgespring en gekla van die goggas. Ek het letterlik tussen die vensters gesien dis kokkerotte.” “Niemand het meer gesit nie, mense het met sakke in hul hande in die bus gestaan. Ons het ook daardie 16km na Langebaan gestaan, en ons sakke in ons hande gehou,” het John vertel.
“Daar was selfs mense van Saldanhabaai in die bus, en dis nogal ‘n stywe rit om te staan,” het Sanna ‘n stuiwer bygegooi. Die media het verskeie oproepe na die busmaatskappy gemaak, maar kon nie kommentaar kry nie.