Charmaine Lourens
DIE inwoners van Mokopane (Pogietersrus) stof al hul feesstewels af vir die 20ste KierieklapperKunstefees (KKKF) wat op Donderdag, 4 Augustus afskop.
Dit gaan die dorp ‘n broodnodige ekonomiese inspuiting gee, sê Fritz Lourens, President van die Mokopane Sakekamer in Limpopo. “Die fees is ‘n baken van hoop na twee jaar se ekonomiese en sosiale droogte in die Bosveld. Armoede vier hoogty op die dorp en liefdadigheidsoganisasies kan steeds nie voorbly om kos aan verskeie gesinne te voorsien wat weens die pandemie swaartrek nie.”
Die KKKF is die grootste fondsinsameling van die Potgietersrus Dienssentrum vir Bejaardes. Die sentrum is ‘n nie-winsgewende organisasie wat in 1986 sy deure oopgemaak het. Tans is daar 430 bejaarde lede en die meeste kry net hul maandelikse Sassa toelaag.
Martie Pelser, bestuurder van die Dienssentrum, vertel dat dit broekskeur met die sentrum gegaan het toe Covid-19 kop uitgesteek het. “Ons is net dankbaar vir die geld- en kosskenkings wat ons vanuit die gemeenskap ontvang het. Dit het gehelp dat ons die potte aan die kook kon hou.”
Die bejaardes kry elke dag teen slegs R12 ‘n gebalanseerde gekookte ete. Ander lekkertes wat hulle kan geniet, is ‘n haar-, nael en masseersalon, biblioteek, naaldwerkklasse, speletjiesaande, koorsang en die optrede van van verskeie kunstenaars reg deur die jaar. Die sentrum het ook ‘n kliniek.”
Inwoners op die dorp smag na sosiale samesyn sonder maskers en die gewilde fees beloof om vir vier dae se pret te sorg op die sportterrein van die Hoërskool Piet Potgieter.
Santie Vorster, ‘n kleuterskoolonderwyser, sê sy en haar vriendinne sien uit om Steve Hofmeyr op Saterdag, 6 Augustus, op die feesverhoog te sien. “Ons gaan gepanser teen die koue vroeg opdaag om voor die vehoog plek te kry. Die fees sorg dat nie net die inwoners nie, maar ook feesgangers van elders na al die inperkings saam sosiaal kan kuier en smul aan al die lekker eetgoed.”
Ander kunstenaars wat die gees gaan aanwakker sluit in Demi Lee Moore, Robbie Wessels, Ruhan du Toit en Dirk van der Westhuizen. Feesgangers wat gewoonlik van oral in die land opruk, kan ook uitsien om Francois van Coke te sien.
Pedro Kruger gaan Donderdag, 4 Augustus, in die skoolsaal by ‘n gasvrougeleentheid optree terwyl die gaste kan smul aan ‘n heerlike ete.
Die fees word Sondag, 7 Augustus, afgesluit met ‘n gratis optrede van Jannie Moolman in die NG Hulp en Hoop Gemeenskapskerk in Chroompark.
Die KKKF se feeshekke gaan soggens om 09:00 oopmaak en daar sal tot 21:30 gekuier kan word. Soos gewoonlik sal daar weer ‘n magdom stalletjies op die rugbyveld wees. Benewens al die eet en drinkgoed sal daar klere, juwele en allerlei artikels te koop wees. Die Dienssentrum se lede is slaggereed om weer die pannekoek en jaffelstalletjie te beman.
‘n Groot trekpleister is die biertent naby die feesverhoog met die tafelaars van die Kameeldoring ’92 Tafelronde wat hier aan stuur van sake is.
Vir die jongklomp is die pretpark vanjaar terug met onder meer ‘n ‘runaway train, pirate ship’ en ‘n reuse glybaan.
Wil jy kom saam draf, is daar die gewilde pretdraf van 8km wat Saterdag vroegoggend gehou word. Diegene wat nie so fiks is nie, kan die 4km staproete volg.
Gholfliefhebbers kry kans om hulle stokke op Donderdag, 9 Augustus, saam te swaai by die Kameeldoring Gholfklub buite die dorp. Daar is goeie pryse op die spel.
Benewens twee hotelle, Park hotel en die Lonely Oaks, is daar oorgenoeg gastehuise op die dorp waar feesgangers kan tuisgaan.
Vir meer inligiting oor die fees en verblyf kontak gerus die Dienssentrum soggens by 015 491 3129 of besoek die KierieklapperKunstefees se facebookblad.
FEESPROGRAM
Voorskoolse kinders gratis, pensioenarisse betaal slegs R50 toegangsfooi.
Donderdag, 4 Augustus
Toegangsfooi: Volwassenes R100 en laerskoolleerders R50.
Optrede deur Mokopane Primary School se trompoppies.
Kwaggabees.
Sanger, Pieter Smith.
Die sanger Ricus Nel en sy vrou, Lisa Brönner.
Hoofkunstenaar: Robbie Wessels.
Vrydag, 5 Augustus
Toegangsfooi: R120 en laerskoolleerders R50
Plaaslike sanger, Eugene Cooper.
Wessna.
Francois Bouwer.
Dirk van der Westhuizen.
Ruhan du Toit.
Hoofkunstenaar: Francois van Coke
Saterdag, 6 Augustus
Toegangsfooi: R140 en laerskoolleerders R50
Pretdraf om 06:00.
Laerskool Krugerpark se trompoppies.
Mej. Kierieklapper.
Bee Bee die By vir die kleinspan.
Z’s Dansstudio.
Wessna.
Eugene Cooper.
Francois Bouwer.
Dillon Lerm.
Demi Lee Moore.
Hoofkunstenaar: Steve Hofmeyr.
Sondag, 7 Augustus
Gratis optrede om 18:00 deur Jannie Moolman in die NG Hulp en Hoop Gemeenskapskerk in Chroompark.