Ja, maar nie soos jy gedink het nie
Sommige mense dink dis ʼn samesweringsteorie. Maar ons almal het ʼn storie ʼn storie te vertel. Jy en Mariaan gesels oor koeksisters. Later die dag maak jy jou Facebook oop, en siedaar! – daar is ʼn advertensie wat koeksisters adverteer (en dalk nog erger, dieselfde koeksisterwinkel waarvan julle gepraat het). Jy begin oor jou skouer loer. Jy voel blootgestel. Luister ons slimfone ons af? Is dit dalk Facebook? As jy digitale advertensies sien nadat jy oor ʼn onderwerp gesels het, mag jy dalk dink hulle luister af. Daar is ʼn rede hiervoor, maar dis dalk nie afluistering nie… Gerald Eloff stel ondersoek in.
Jy praat oor iets, en daar is ʼn advertensie op jou sosiale media. Jy droom selfs oor iets en daar is ʼn advertensie. Meeste mense ervaar dit. Dit laat jou wonder: Luister tegnologie ons af?
Dié vraag is al telkemale vir Mark Zuckerberg (Facebook) en Adam Mosseri (Instagram) gevra. Elke keer, het hulle ontken dat ons slimfone se mikrofone ons afluister. Kenners is van mening dat hulle die waarheid praat. Eerstens sal dit onwettig wees. Tweedens, die logistieke uitdagings om almal konstant af te luister en dit op te neem, is feitelik onmoontlik. Daar is sekerlik nie iemand in ʼn massiewe kantoor êrens met oorfone op wat die heeltyd luister wat ons sê nie. Of hoe? So, as hulle nie luister nie, hoe word ons gesprekke en denke omgeskakel in advertensies?
Slim algoritmes
Ons sien konstant digitale advertensies na gesprekke omdat sosialenmediaplatforms soos Facebook en Instagram konstant ons bewegings naspoor, aanlyn en ook wanneer jy nie aanlyn is nie.
Kom ons kyk na dié voorbeeld: Jy is by ʼn verjaarspartytjie en jou vriendin vertel jou van ʼn nuwe plek wat klaargemaakte maaltye vir kinders voorberei (kom ons noem die plek Flink Maaltye). Jyself het nog nooit Flink Maaltye ge-Google nie – jy en jou vriendin het bloot daaroor gesels. Ure later is daar ʼn advertensie van Flink Maaltye op jou Facebook. So het Facebook julle gesprek afgeluister? Nee, hulle is net baie goed met ander maniere om jou dop te hou sodat dit wel so voel.
Ons weet tot dusver dat Facebook ons aanlyn-optrede en bewegings dophou deur te kyk watter webwerwe ons besoek, waarvoor ons soek en wat ons aanlyn koop. Dié opspoor-metodes (wat baie meer kompleks is as wat ek hier verduidelik), het ʼn regstreekse invloed op die advertensies wat ons sien.
In die geval van Flink Maaltye, was location tracking die rede. Selfs al is jy nie op daai stadium ingeteken op Facebook nie, sien Facebook presies waar jy is (jy het hulle natuurlik wetend of onwetend toestemming gegee). Hulle weet deur jou slimfoon. So sien hulle ook dat jy en jou vriendin wat die gesprek het, ook op dieselfde plek is. Indien jou vriendin ʼn aanlyn-interaksie met Flink Maaltye gehad het, is dit hulle konneksie. Facebook weet julle is aanlynvriende. Hulle weet julle is saam op daai oomblik. Hulle weet selfs of jou vriendin by Flink Maaltye se winkel was.
Facebook se algoritmes vergelyk jou belangstellings, waar jy bly, plekke wat jy besoek het, groepe waarvan jy deel is en selfs die hutsmerke wat jy volg met die van jou vriendin.
As dit dieselfde is as jou vriendin sʼn is en sy het reeds leidrade gelos – soos broodkrummels – sal Facebook die kans vat en sien of jy sou belangstel in dieselfde produk of diens.
Blote toeval?
Nou hier is waar dit interessant word. Wat van die kere waar jy bloot aan ʼn produk gedink het? Dit mag bloot toevallig wees. Enige stukkie inligting (selfs vaagweg verwant aan die gedagte) wat Facebook opgetel het voor of na die gedagte, mag gelei het na die advertensie. Elke beweging wat jy op Facebook maak, maak die algoritme sterker – deur te reageer op ʼn plasing, wanneer jy iemand anders se foto like en selfs wanneer jy by ʼn ander webwerf inteken met jou Facebook rekening – dié is alles voorbeelde. In essensie, “luister” daai algoritme na ons, maar nie deur ons slimfone se mikrofone nie.
Riaan Venter, ʼn prokureur van Randburg, is nie heeltemal oortuig nie. “Ek glo vas my foon luister my af,” sê hy. “Ek het dit al probeer. ʼn Verskeidenheid produkte wat ek nog nooit aanlyn gesoek het nie, waaroor ek net oor gepraat het, lei tot advertensies op my sosiale mediabladsye. Hulle luister. Of ten minstens gebruik hulle ʼn stemherkenningalgoritme.”
Riaan vertel verder. “n Mens moet ook nie vergeet dat maatskappye soos Samsung en Vizio hulle al skuldig gemaak het aan die opneem van gesprekke deur hulle slimtelevisies nie. Facebook het ook al erken hulle het private gesprekke opgeneem (alhoewel hulle gesê het dit was nie vir bemarkingsdoeleindes nie). Apple, Amazon en Google is al uitgevang dat hulle persoonlike oudio terugstuur via hulle “slim” apparate na hulself toe – sonder toestemming.”
Wat ʼn mens ook nie moet vergeet nie, is die hoeveelheid data wat maatskappye soos Google en Facebook by marknavorsingmaatskappye aankoop, wat oor dekades se data beskik. Daardie data gebruik hulle dan weer om jou en my te teiken.
Willie Viljoen van Pretoria is betrokke in die sekuriteitsbedryf. Hy voel dis nie nodig vir groot maatskappye soos Facebook en Google om mense af te luister nie. “Facebook en Google se algoritmes is van so ‘n aard dat hulle navorsingsafdelings het binne hul maatskappye. Hulle kan letterlik voorspel hoe lank mense gaan leef, is hulle depressief, ens. Hulle kan voorspel wat mense volgende gaan doen. Onthou jy die fliek Minority Report? Ons is daar.” ʼn Skrikwekkende gedagte, inderdaad.
Willie sê: “Facebook het ʼn enorme hoeveelheid datapunte wat aan ʼn persoon gekoppel is. Behalwe vir jou naam, verjaarsdag, name van familie en gunsteling-rugbyspan, is daar baie ander inligting waaroor hulle beskik.
Hoe die algoritme werk is as volg: Hulle is nie meer gepla oor wat jy “like” op Facebook of aan watter groepe jy behoort nie – hulle kyk hoe lank jy op ʼn sekere foto stilstaan, hoe lank neem dit jou om ʼn berig te lees – en vanaf die inligting maak hulle akkurate gevolgtrekkings oor waarvan jy hou.” Willie gaan voort: “Dis ʼn kringloop. Kom ons sê jy staan te lank stil by ʼn foto van tandepasta, dan gaan hulle meer foto’s en advertensies van tandepasta vir jou wys, sodat jy na ʼn dag of twee net dit sien, en so klim hulle in jou onderbewussyn in.”
So hoe stop ek dit?
Daar is toestemmingfunksies waarmee jy kan speel wat Facebook kan beperk met hoe hulle jou inligting gebruik, maar indien jy aktief is op die platform, het hulle reeds meer as genoeg inligting om jou voorkeure te bestudeer, wat hulle dan vir advertensie-doeleindes kan gebruik. Die enigste manier om dit te stop is om geheel en van sosiale media weg te bly. Maak jou profiele toe.Vee dit van jou foon en rekenaar af. Maar soos ek en jy weet, is dit ook makliker gesê as gedaan…