Skip to main content

Rooi stilettos en immigrantseun mik na Downingstraat

Die skoot het geklap in die wedloop om die volgende inwoner van Downingstraat 10 in Brittanje te word. Wie ookal van Liz Truss of Rishi Sunak binnekort die nuwe Tory-leier en Britte se volgende eerste minister gaan wees, die gordyn is gelig vir ‘n nuwe era op die politieke verhoog vir ‘n eietydse millenniumspel soos min. Beide kandidate verklap veel van ‘n vinnig-veranderde wêreld wat nou haas volbring word, en daar is selfs ‘n Afrika-geurtjie in diė vuurwarm stryd in Khakiland, skryf Sonnette Lombaard.

Dit wil gedoen wees. Doer oorkant die waters, sal die Britte se nuwe premier beslis ‘n veertigplusser wees en dalk boonop die eerste keer ook ‘n eerstegenerasie immigrant! Wat bevestig die dae van die oom-politikus en statige, stug en ouer landsleier is al hoe meer getel.

Die twee Britse kandidate in die eindronde is deel van ‘n nuutdenkende era en geslag wat ook al hoe jonger staatshoofde baar – dink aan Justin Trudeau wat in 2015 op 43-jarige ouderdom die Kanadese premier geword het en hoe die 44-jarige Oekrainiese president Volodymyr Zelenskyy die mensdom met sy regeerstyl betower sedert Rusland sy land vanjaar binnegeval het.

Boonop is beide Rishi Sunak en Liz Truss wat op 5 September sal weet wie gaan Downingstraat betrek, uitstekende voorbeelde van hedendaagsde moderne politici, oftwel leiers met voete van klei wat foute, selfs skandes, maak, en steeds ‘n topposisie kan beklee ėn ‘n volk kan lei. Dit is immers ook die verhaal van hulle omstrede voorganger die rooikop Boris Johnson, wat ondanks ‘n rits skandes soos Partygate, gelief was as leier onder die Britse volk. Sy een te veel openbare blapse het hom egter ingehaal en hy moes met ‘n rooi gesig vandeesmaand as Tory-leier en premier bedank en sal aanstons Downingstraat verlaat.

Agt kandidate het daarna as sy moontlike opvolger as leier van die regerende Konserwatiewe Party en dus ook Britse premier na vore getree. Insiggewend, was vyf, meer as die helfte, sterk vroue wat na die topposisie gemik het. Drie evas het toe tot die finale vier kandidate deurgedring, ‘n regmerk dat die Britte op koers is met wêreldtendense en veral die stryd om vroueberegtiging, ook vir die hoogste posisies. Boonop was die handvol vroulike kandidate almal van die jonger geslag. Hoewel Sunak, op 42 self nog jonk, toe die vier vroue getroef het om in die uitdunrondes bo uit te kom, het sy teenstaanders hom stywe opdraand gegee. Truss (wat gister 46 geword het), minister van buitelandse sake, het die beste gevaar en moet nou saam met Sunak die finale hekkie na Downingstraat oor. Nogtans was Penny Mordaunt (49), minister van handel, in die derde plek en Kemi Badenoch (42), minister van plaaslike regering, geloof en gelykheid in die vierde plek waardige teenstaanders. Sou Badenoch, wat Nigeriese ouers het, die eindronde gehaal het, kon sy die eerste swart en swart vroulike Tory-leier en Britse premier geword het.

Beland blondekop Truss – reeds die millennium se Margaret Thatcher gedoop – in Downingstraat, sal sy ongetwyfeld die premierswoning tooi soos nog nooit tevore nie. En dít behels veel meer as binnenshuise versiering!

‘n Onbeskaamde fan van Taylor Swift en Bruce Springteen, laat diė moderne ma sommer haar sosiale media-veldtog aan haar twee tienerdogters oor. Sy het verklap sy sing en dans soggens in op maat van Bruce The Boss se treffer Dancing In The Dark en kan nie ‘n lekker burger weerstaan nie.

Ook bekend as “the Darling of the Tory Right”, was Truss enduit getrou aan Boris en het nie soos Sunak en ander prominente Tories bedank toe die storm om die oudpremier losgebars het nie.

Met haar uithang-voorliefde vir stylvolle modes en rooi hoë-hakskoene en helder klere, veral rokke, is Truss ‘n tydige en welkome breek van die eertydse vroulike vaandeldraers in die politieke leierlandskap se meer stigtelike pakkies en stywer voorkoms.

As voorbokdanser op partytjies, is Truss ook g’n engel of plesierboikotter nie. Sy moes bontstaan nadat haar affair met ‘n hogere Tory-kollega op die lappe gekom het. Sy huwelik het gevou, hare nie en sy vertel sedertdien graag in onderhoude van haar intense huweliksgeluk met haar ouditeurman.

In kort, Truss dirigeer haar opmars na die premierstoel sover meesterlik. Wat wys sy is taai katjie wat Sunak nie sonder handskoene kan pak nie. Wen sy, sal sy vir seker ‘n nuwe betekenis aan Ystervrou gee. Vroue wêreldwyd hou asem op.

Rook Sunak egter die pyp, sal dit ewe epogmaties wees, want nie net sal die Konserwatiewe Party en Brittanje sy eerste leier van Indiese oorsprong in een van die warmste stoele op Aarde hê nie, maar hy sal ook die eerste Britse premier van eerstegenerasie-immigrante wees.

Die winde van veranderinge wat waai weens die moderne era se diasporas en die mens se deulopende migrasie slaan al meer uit, ook in die politiek.

Die Britse hoofstad Londen spog juis reeds met sy eerste Moslem-burgemeester, Sadiq Khan, wat reeds in sy tweede termyn dien. Diė 51-jarige kettingdraer met Pakistani-wortels verteenwoordig ook ‘n eerstegeslag-immigrantfamilie.

Meer interessant, kan Sunak lid word van die al langerwordende lys van staatshoofde spesifiek van Indiese oorsprong. Wat sin maak, as mens in ag neem dat Indië bestem is om eersdaags China verby te steek as die land met die meeste mense in die wêreld. Daar word beraam dat een uit elke ses mense op Moeder Aarde van Indiese oorsprong is en die Indiese diaspora strek wyd en kloof toenemend diep in samelewings in, veral Brittanje en die VSA, maar ook elders.

Wen Sunak, sal hy die sesde staatshoof tans met Indiese wortels word. Onder die leiers in die hoogste posisies met Indiese bloed tel Antonio Costa, eerste minister van Portugal, Mohamed Irfaan, president van Guyana, Pravind Jugnauth, eerste minster van Mauritius, asook diė land se president Prithvirajsing Roopun, en natuurlik die Yanks se vise-president Kamala Harris.

Boonop het Sunak soos oudpres. Barack Obama van die VSA sterk Afrika-wortels en spesifiek bande met Kenia. Obama se pa was ‘n Keniaanse ekonoom wat sy ma tydens sy studies in Hawaii ontmoet het. Sunak se Punjabi-ouers het as deel van die Indiese diaspora in Suidoos-Afrika grootgeword. Sy pa is ook ‘n Kenia-boorling en sy ma is in Tanzanië gebore.

As Boris die windverwaaide stout seun uit die bevoorregte Britse klasstelsel was, is Sunak die goue immigrantseun, wat met beurse moes studeer maar dit ook tot bo gemaak het. Sy bedanking in die kernpos as minister van finansies in Boris se kabinet was die finale hou vir sy eertydse bondgenoot om handdoek in te gooi. Tog is Sunak ook nie skandaalvry nie. Sy skatryk vrou se belastingsake het onlangs opslae gemaak. Akshata Murty is die die dogter van ‘n stinkryk Indiese sakemagnaat. Die Sunak-egpaar het twee dogters.

Hoe dit ookal sy, die twee kandidate wat dit nou uitspook om by Boris oor te neem, is ‘n vars en welkome bries in taai tye waarin wêreldmoondhede vir mekaar grom en gewone burgers grensloos swaar gebuk gaan onder stygende lewenskoste weens die Oekraïne-oorlog.

Liz Truss en Rishi Sunak lui vir seker ‘n nuwe opwindende era in internasionale politiek in. Vir die Weste is die stryd om die Britte se topposisie juis nou van allerbelang, maar dit het ook wyer implikasies wat rondom  tydsgees, ouderdom en roots wentel. Dit slaan juis ‘n stewige bres vir geslagkwessies en die moderner manier van dink en doen wat die mensdom in die 21ste eeu moet deursien. En dit sal tydige doepa bring vir die Tories en hul ondersteuners wie nog hul wonde lek oor die debakels wat hul geliefde Boris so blitsig uit die gewigtige kussings gelig het.

Leave a Reply