Skip to main content

Yolanda Lemmer

’n Nuwe skoonheidskompetisie wat nie vroue se gewig, voorkoms, ouderdom of verhoudingstatus in ag neem nie, is gister by die Maslow-hotel in Pretoria bekendgestel.

’n Deelnemer hoef dus nie van slaaiblare te leef (jy kan maar die skaal laat kreun), vals wimpers te fladder of jou gesiggie elke dag te grimeer om as Suid-Afrika se eerste Mev. Globe gekroon te word nie.

Die wenner hoef ook nie meer die blink diamant aan haar vinger te hê nie, solank sy net nog die titel mevrou voor haar naam kan skryf.

Die kompetisie bestaan al 25 jaar, maar Renske Lammerding, die uitvoerende hoof, het eers die titelregte vir Suid-Afrika in Mei vanjaar bekom.

Die doel van die kompetisie, het Lammerding voor ’n uitgelese gehoor gesê, is om vroue van alle kulture en figure te vier, op te hef en te bemagtig.

Sy sê dat hulle al bykans tweehonderd inskrywings ontvang het en nie al die vroue lyk soos voorbladmodelle nie.

“Ons fokus eerder op innerlike skoonheid en nie op die uiterlike nie,” het Lammerding gesê.

“Ons wil juis van die stigma wat aan skoonheidskompetisies of titels kleef ontslae raak. Die kompetisie is vir die gewone vrou bedoel. Enige vrou, tussen die ouderdom van 25 en 45 kan vir die kompetisie inskryf. Ons is op soek na ’n rolmodel wat verskillende kulture en vroulike figure verteenwoordig.”

Die wenner se hare kan ook maar soos een van Hannon se poedels lyk …

“Ons eie voorkomskonsultant gaan die vroue help om hulle natuurlike skoonheid na vore te bring,” het Rhona Erasmus, ’n bestuurslid van die kompetisie en ’n sakevrou van Midstream gesê.

“Julle eie voorkoms en die publisiteitsfoto’s van die kompetisie weerspreek die doelstellings van die kompetisie,” het ’n mollige vrou uit die gehoor gevra. “Sal ’n gewone vrou, wat nie noodwendig die voorkoms van ’n model het nie, as wenner aangewys word?”

“Ons doelstellings is werklik edel en die kroon is net ’n bysaak,” het Lammerding gesê. “Ons wil vroue help om ’n goeie selfbeeld en besigheidsvaardighede te ontwikkel. Die meeste vroue wat aan skoonheidskompetisies deelneem het gewoonlik nie ’n goeie selfbeeld nie,” het Erasmus erken. “Daarom bied die kompetisie aan vroue die geleentheid om op verskillende maniere te groei en te ontwikkel. Ons wil anders wees as ander skoonheidskompetisies.”

Skoonheidskompetisies was die afgelope paar maande onder die vergrootglas nadat voormalige Mev. Suid-Afrika deelnemers beweer het dat geld wat vir die bemagtiging van vroue ingesamel word, misbruik word.

Erasmus sê dat fondsinsamelings nie die hoofdoel van die kompetisie is nie. “Die finaliste hoef nie meer as R8 000 in te samel nie.”

Die Suid-Afrikaanse wenner gaan teen skoonhede van 60 lande om die internasionale titel meeding.  Die wenner ontvang ook onder meer kontantpryse van R100 000.

Die 40  finaliste word teen middel Augustus bekend gemaak en die kroningsgeleentheid vind op 12 November by die Time Square Arena in Pretoria plaas.

Vroue het nog tot Vrydag die kans om in te skryf. Besoek die webwerf by https://mrssouthafricaglobe.com/

Leave a Reply