Skip to main content

Gert Basson

Om van jou gehoor gestroop te word is meeste van ons se grootste nagmerrie. Weg is die stemme van jou geliefdes en weg is die klanke van jou gunsteling liedjie …

’n Jong man van Bloemfontein laat hom egter nie onderkry nie, al is hy gestremd. Diė moedige man maak homself in sy gemeenskap handig en red fluks lewens.

Duncan Swart, ’n paramedikus van Bloemfontein, kan slegs sekere klanke hoor en glad nie hoë-frekwensie klanke nie, maar tog is hy ’n ware lewensredder in die Rosestad.

“Ek was gr.1 toe my onderwyser agterkom ek het ’n gehoorprobleem. My ouers het my na ’n oudioloog toe gevat en hy het bevestig dat ek gehoorgestremd is. Daar is nie ’n mediese term vir dit nie, maar ek kan net sekere klanke hoor.”

Volgens Duncan se ma, Petro, het haar seun al van kunsbeen af die passie gehad om ander te help.

“As die niggie en nefies kom kuier het en iemand stamp hulle toon, was Duncan altyd eerste op die toneel om te help. Dan sou hy boonop terugkom na ons toe en vir ons sê ons hoef nie bekommerd te wees nie, daar was gelukkig nie baie bloed nie.”

Duncan het reeds op die ouderdom van 12 jaar begin om vrywilligerswerk vir ER24 Nooddienste te doen.

“Ek sou aanvanklik by funksies vrywilligerswerk doen. Dit was toe al vir my baie bevredigend om mense te help. Ek het toe al baie daarvan gehou om iemand te laat glimlag met die werk wat ek doen.”

Petro vertel sy sou altyd seker maak haar kop is na Duncan toe gedraai as hulle met mekaar praat en sy het sy vingers op haar lippe gesit as sy gepraat het.

Hy het later homself geleer lippe lees en het deesdae ’n gehoorstuk.

Duncan werk al vir die afgelope sewe jaar by ER24 as ’n voltydse paramedikus.

“Ek het deur die jare geleer om dankbaar te wees vir wat ek het. Mense gaan jou oordeel, maar dit maak jou sterker. Dit maak nie saak wat ander van jou dink nie. Ek het my eie struikelblokke oorkom en dit is vir my goed genoeg,” vertel hy trots.

Leave a Reply