Skip to main content

Gert Basson

Terwyl mense by ’n hopsitaal in Middelburg, Mpumalanga, gesondheidsdienste gesoek het, het ’n toneel so reguit uit ’n Clint Eastwood-rolprent voor hulle oë ontvou.

Op 21 Julie het skote geklap en mense histeries gegil toe twee faksies van sekuriteitsbeamptes voor die Middelburg Provinsiale Hospitaal rubberkoeëls op mekaar begin vuur het.

Volgens brig. Selvy Mohlala was die twee groepe van verskillende sekuriteitsmaatskappye.

Geen van die beamptes het ernstige beserings opgedoen nie en een van hulle is by die hospitaal vir ligte beserings behandel.

“Die voorval is aan die Middelburg-polisie gerapporteer en tot dusver is vyf verdagtes tussen die ouderdom van 26 en 40 jaar in hegtenis geneem,” sê Mohlala.

Die verdagtes is aangekla van die afvuur van ’n vuurwapen in ’n openbare spasie en aanranding met die doel om ernstig te beseer.

“Ons ondersoek ook of lewendige ammunisie gebruik is. Die motief is nog onbekend, maar die verdagtes gaan binnekort in die landdroshof in Middelburg verskyn.”

Die voorval het lt.gen. Semakaleng Daphney Manamela, provinsiale polisiekommissaris, diep gegrief. Sy het die sekurteitskluster herinner dat hulle hoof verantwoordelikheid is om vrede te handhaaf.

“Die gedrag by die hospitaal is onaanvaarbaar, veral as sekuriteitsbeamptes of enige beamptes van die gereg daarby betrokke is,” sê Manamela.

 

Leave a Reply