Karin se werk verbeter net met tyd
Die kunstenaar Karin Preller het in 2022 by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees die Kanna-toekenning vir haar bydrae in visuele kunste ontvang. Haar wortels lê diep begrawe in Johannesburg, van haar grootwordjare in Montgomery Park, tot waar sy tans woonagtig is in Melville. Gerald Eloff het met haar oor haar unieke skilderproses, die gebruik van ou foto’s in haar werk, die uitdagings van werk en studeer en die pad vorentoe gesels.
Jy maak gebruik van ou foto’s, asook fragmente uit 8mm films om dit op doek met olieverf vas te vang. Presies hoe werk dié proses?
Hier wil ek net sê – die kies van die foto’s vir bronmateriaal is net so belangrik soos die skilderproses. Ek kyk na foto’s as objekte, die lig en die skaduwees, en elemente wat bruikbaar is, wat die stilte van ʼn stillewe kan weergee. Ek benader fotografie as ʼn spesifieke manier van kyk. Ek probeer die alledaagsheid behou, met banale gewone voorwerpe in foto’s met banale uitbeeldings. Alhoewel ek foto’s in effek repliseer, tree verandering in deur hoe ek die foto crop (of nie), deur detail en skadu of lig te beklemtoon of te vereenvoudig. Vroeër jare het ek van fotostate en soms ʼn projektor om buitelyne vinnig vas te vang, gebruik gemaak. Soms sal ek dele wat uit fokus is, meer uit fokus skilder. Daar is iets in ʼn foto wat ons die naaste kan bring aan ʼn oomblik in die verlede. Iets vreemds, onrusbarend, soms nie eers doelbewus vasgevang nie. Dis daai vervreemding wat ek wil weergee. Die vervreemding is dalk in die alledaagse oomblik uit die verlede wat skielik amper meer “sigbaar” word in skilderye. Dit het baie jare se eksperimentering gekos om by die produk uit te kom soos hoe dit nou lyk.
Gedurende die skilderproses, pas jy ook fotografietegnieke toe?
Ek konsentreer nie op tegniese perfekte foto’s nie. Inteendeel, is die teenoorgestelde waar. Ek vind foto’s interessant waar daar ʼn baie sterk speling tussen lig en donker is, waar die beelde amper abstrak word en waar die detail verdwyn. Ek sal doelbewus foto’s sonder detail neem. Ek dink, om visuele steurnisse in swak foto’s in skilderye te gebruik, vestig ek die gevoel van verganklikheid van tyd in my skilderye, deur die foto’s.
Jy is tans ook besig met jou doktorsgraad in kuns aan die Universiteit van Johannesburg. Hoe het jy tot dusver wat jy geleer het toegepas in jou nuutste uitstalling, Beyond Memory?
Dis ʼn praktyk-gedrewe PhD wat bestaan uit ʼn praktiese deel en dan ʼn tesis. Die praktiese het reeds vorm in my uitstalling Almost no Memory aangeneem. wat in 2020 by Lizamore and Associates by Rosebank plaasgevind het. Baie van my teoretiese navorsing was toe reeds gedoen, so die teoretiese en praktiese deel het mekaar aangevul. Wat nou oorbly, is die skryf van die verhandeling. Ek het gedurende Covid-19 ʼn studiebreek geneem, so dis nou skouer aan die wiel sit. Die hele studieproses het my in staat gestel om anders te kyk na my werk – ook deur die oë van ander kunstenaars waarna ek in my studie verwys het. Omdat dit ʼn interdissiplinêre studie is, het ek baie geleer van hoe filosowe, kunstenaars en selfs sielkundiges oor fotografie dink – as ʼn manier van sien, en konsepte soos geheue en verlies. Al hoe meer nuwe idees en gedagtegange gaan vir my met die studie oop.
Baie van jou skilderye het ʼn blou-grys kleurskakering – hoekom verkies jy dié kleurskema?
Ek het in baie van my skilderye die sepia-kleur en spesifieke skakerings van grys probeer vasvang, maar dit het mettertyd verander na blou-grys. Dis moeilik om te beskryf – miskien kan die blougrys-kleur gesien word as ʼn film wat oor die detail van die foto en die verlede getrek word, asof jy na die skildery deur ʼn kamera se lens kyk. ‘n wasigheid, wat eerder deur ‘n amper kliniese proses van skilder bewerkstellig word. Die tegniek is nie “ekspressief” in terme van bv. duidelike kwashale nie, maar dis ook juis die spesifieke manier van skilder wat op ‘n ander manier ekspressief is. Dis ʼn skans tussen my en die foto – ʼn tipe verwydering, ʼn pynlike onthou. Dis nie sentimenteel nie, dis ook nie ʼn hunkering na die verlede nie.
Jou kuns wek soms ʼn melancholiese gevoel by die kyker, het dit te doen met ʼn vergane tyd of met nostalgie? Of moontlik met heimwee?
Dit het. Ek dink, geheue en verlies is in my werk bepalend. Daar is ʼn fyn lyn tussen skilderye wat oormatig net werk met nostalgie en sentiment, en tussen fragmente van ʼn verlede wat iets uitbeeld van ʼn vreemde gewaarwording wat ʼn mens moeilik vasvang. Die probleem is – wat ek wil vasvang in my skilderye is juis moeilik om te verwoord. Dis soos ʼn soeke na die essensie van ʼn persoon in ʼn foto – as ʼn mens dit vind in die detail van ʼn sekere foto, is dit moeilik om te verwoord wat daardie essensie is. Die oomblik as jy dit kan verwoord, dan is dit meer bekend, en minder uncanny. Dis alledaagse uitbeeldings, soos die woonbuurte Langlaagte en Montgomery Park – maar ek wil iets onheilspellende uitbeeld van die alledaagse, iets wat buite die raamwerk van die foto val, en dan begin die skildery werk. Soms is die trefkrag in assosiasies wat die kyker maak met dit wat nie uitgebeeld is in die skildery nie, met hulle eie herinneringe.
Jy doen ook werk op aanvraag (kommissiewerk) – hoe verskil jou benadering dan ten opsigte van temas en werkswyse – of eerder: benader jy dit anders as wanneer jy ou foto’s skilder van jou eie familie? Poog jy vir dieselfde resultaat?
Ek doen verkieslik nie kommissies nie – maar het in die afgelope drie of vier jaar wel ʼn paar gedoen. Ek wil egter eers die foto sien, dan sal ek besluit. Dis moeilik, oor die verwagtinge wat die persoon het. Hier het ek net die foto – in my eie werk het ek geheue en ander foto’s as verwysing. Die mate van vryheid wat ek het maak ‘n verskil, anders word die eindproduk gevaarlik naby aan illustrasie. Dit vat ook baie langer. Ek moet eers ʼn gesprek hê met die persoon oor wat verwag word.
Watter metamorfose ondergaan ʼn ou foto deur jou werk, van ʼn foto na ʼn olieverfskildery?
Ek dink die metamorfose lê bloot in die skilderproses, in die skaal van die skildery, in hoe dit gehang of vertoon word in die uitstalruimte …
Sal jy sê dat die impak wat ʼn skildery maak meer kragtig is as ʼn foto?
Dis kragtiger as ʼn foto. Dis die tyd wat dit neem om te skilder. Skilderye word meer waardevol geag as gevolg die langer kyk-proses, daar is ander detail wat bykom. Die skildery beklemtoon amper die broosheid van ʼn foto.
Voel jy dat die klassieke filmfoto’s meer eg is, as die foto’s wat vandag geneem word in die digitale era met moderne kameras?
Dit voel dalk meer eg in terme van geheue, omdat ons deesdae so deur foto’s gebombardeer word. Dis ook net soveel makliker om deesdae foto’s te neem. Die ou tegnologie van die ou foto’s word amper ʼn metafoor van hoe alles mettertyd verdwyn het.
Hoe het jou werk sedert Snapshots in 2007 gegroei en verander?
Die figure en detail in die skilderye in Almost no Memory verdwyn meer doelbewus in lae verf. Die klem is op beelde wat verdwyn, m.a.w. op ‘n proses van vergeet, eerder as op duidelike fragmente uit die verlede. Die finale skilderye beweeg baie verder weg van die detail van die foto’s of films wat as bron gebruik is. Soms onherkenbaar. Ek sal in die toekoms steeds met foto’s werk maar met die klem op foto’s wat ek self neem, dalk van dieselfde omgewing in en om Johannesburg, en met die klem dalk op detail in foto’s wat totaal verdwyn in abstraksie. Ek dink vernuwing is op die horison, nou moet ek net die PhD klaarmaak sodat ek weer kan skilder.