Isaac Cloete
“Bietjie vreugde, maar baie pyn, hartseer en dankbaar vir ten minste afsluiting.”
Dít is hoe die familie van wyle Chris Whitlow nou voel nadat sy liggaam Donderdagnamiddag na byna twee jaar gevind is.
Daar was steeds Donderdagaand ‘n sombere atmosfeer by die Gamsbergmyn naby Aggeneys nadat die oorblyfsels van die liggaam van die gewese mynwerker gevind is.
Chris van Buffelsrivier het op 17 November 2020 gesterf nadat rotse en sand op verskeie mynwerkers geval het tydens ‘n fratsongeluk. Hy het vir die Moolmans Maatskappy gewerk.
Een werker van Concordia se liggaam kon na die ramp gevind word, maar nie die vanWhitlow nie. Die reddingspanne moes tevergeefs in moeilike omstandighede probeer kyk of hulle hom tussen die tonne sand en rotse kon vind.
Sy kollegas het destyds vertel dat Whitlow nog laas op die groot skraapmasjien gesit het, wat hy as ‘n operateur bestuur het.
Dit was die laaste sien van hom en reddingspanne het sedertdien onverpoos na hom gesoek wanneer daar kans was.
Donderdag het die myn en werkers op ‘n emosionele manier hulde aan Chris gebring toe sy oorskot na binne die myngebied gebring was.
Loeiende polisievoertuie, ambulanse en die brandweer het die stilte in die myngebied versteur. Hier het hordes mynwerkers, met strak gesigte, in gelid gestaan en op sy oorskot gewag.
Volgens ingeligtes was sy oorskot gevind net soos was hy laas gesien is …waar hy gesit het, op die massiewe masjien. Sy beendere was in ‘n sittende posisie, soos voor die sand en rotse die mywerkers daai dag in 2020 oorval het.
Chris is Mariana Whitlow se susterskind. Sy het gesê dat hy ‘n staatmaker en sokkerafrigter was. En dat hy net sy allerbeste onbaatsugtig aan almal gegee het.
“Sy laaste boodskap aan sy oudste seun, Cornville, ure voor sy sterfte, was nog dat hy hom
baie lief het.”
Volgens sy niggie, Juliana Whitlow, is die familie oorweldig en dankbaar dat hy nou gevind is. Sy het gesê dat sy en Chris vir 12 jaar lank saam op die bestuur van die plaaslike sokkerklub, Riverstonses, was. Hy het ook daar afgerig.
Chris se vrou, Rowena, was nie beskikbaar om met die media te praat nie. Volgens familie was sy nog te “deurmekaar” en probeer om oor die onlangse gebeure te kom.
Intussen het sy familie vir die mynbestuur, sy kollegas, reddingsspanne en die inwoners van Namakwaland bedank vir hulle gebede en ondersteuning die afgelope byna twee jaar. Die familie het nou afsluiting en sal begin met begrafnisreëlings, nadat forensiese verslae afgehandel is, volgens Mariana.