Skip to main content

 

Retha Pretorius

Boekversamelaars ken die gevoel van frustrasie oor daai een boek wat kort!

Ywerige boekwurm is Chris Vermeulen van Bethlehem in die Oos-Vrystaat ken van. Hy is ‘n afgetrede polisieman, wat regoor die land diens gedoen, tot onlangs in Ladybrand waar hy by die logistieke afdeling van die SAPD werksaam was. Maar met twee van sy kinders onderwysers in Bethlehem en die paaie daarheen so onbegaanbaar, het hy en sy vrou besluit om eerder na Bethlehem te verhuis.

Chris is ‘n begeesterde versamelaar van die eertyds-gewilde Duitse romanskrywer Heinz Konsalik se boeke wat in Afrikaans vertaal is. Deur die jare het hy ‘n versameling van al Konsalik se boeke opgebou, 104 van hulle om presies te wees. Hy het egter een boek gekort om die volle versameling van 105 te voltooi.

Chris Vermeulen oorhandig die afgehandelde boekrakke aan Susan Bell, bestuurder van die Poverty Crusaders-winkel.

Hoewel die plaaslike biblioteek die uitstaande boek op die rakke het, wou hulle dit nie aan Chris verkoop nie. Chris kom toe te hore van die groot hoeveelheid boeke by ChangeNetSA se Poverty Crusaders-winkel in Unionstraat.

Chris het gaan kyk of hy moontlik die uitstaande boek daar kan opspoor. Toe hy die stapels en stapels boeke sien, het sy ordelike boekliefde blitsig die oorhand gekry en het hy aangebied om dit as vrywilliger uit te sorteer en in rakke te organiseer.

Gelmar Boards het afvalhout vir die rakke geskenk en dit ook volgens mate gesny. Chris ken gelukkig ook van houtwerk, hy het die rakke behendig aanmekaar gesit en siedaar – die boeke het ‘n netjiese tuiste gevind! 

Tussen die baie boeke het Chris ‘n paar waardevolle geskiedkundige Bybels en teologiese boeke ontdek. Hierdie boeke is deur ChangeNetSA aan die Bethlehem Museum Trust geskenk. Van die boeke is in Hollands geskryf deur bekende predikante soos prof. G.P. van Itterzon van die Rijks Universiteit in Utrecht, Nederland en dr. A. Trouw van Amsterdam. Van Itterzon was ‘n bekende skrywer van kerkgeskiedenisboeke en dr. Trouw het verskeie teologiese boeke geskryf. Van die Bybels dateer uit die vroeë 1900’s en is ook in Hoog-Hollands geskryf.

Renette Loots van ChangeNetSA oorhandig ‘n dankie-pakkie aan Chris Vermeulen vir sy harde werk met die boeke in die Poverty Crusaders-winkel.

Daar was ook kinderboeke uit Den Haag wat dateer uit vroeëre tye. Nog ‘n vonds is ‘n boekie vir De Jonge Lidmaat wat oorhandig is aan Christina Joachima van der Merwe met haar aanneming en voorstelling in Graaff Reinet se NG Kerk op 27 Januarie 1912, deur ds. P.A. Theron. 

Voorts het hy ‘n gedenkboek wat in 1949 uitgereik is vir die 100-jarige viering van die NG Kerk op Harrismith en die Jubileum-Gedenkboek van die Nederduits Hervormde- of Gereformeerde Kerk van Suid Afrika in 1942 ontdek. 

En Chris se Konsalik-versameling? By die winkel waar hy die boeke so mooi uitgesorteer het, was daar ongelukkig nie die een boek waarna hy so lank al soek nie. Die goeie nuus is hy het intussen die uitstaande boek wel in Bloemfontein opgespoor, en gaan dit binnekort daar afhaal, vertel hy opgewonde.

 

Leave a Reply