Skip to main content

George April

“Die polisie het vir my en my dogter en nog ‘n 17-jarige tienermeisie in ‘n kamer toegesluit, toe word al ons klere uitgetrek, voordat hulle met handskoene aan, in ons vaginas vir drugs begin soek het.”

Aan die woord is Etwene Nero (32) van Moorreesburg, die ma van die 12-jarige dogter wat saam met haar diė nare ondervinding moes deurmaak. Sy het aan Die Waarheid vertel wat gebeur het.

“Dit het Vrydagaand, 15 Julie omstreeks 7.30nm gebeur, terwyl ek by ‘n ander huis in die straat besig was om vis en chips te bak en dit verkoop het.

“Die polisie het my daar kom haal en saam met my dogter in die kamer gevat. Nadat hulle met ons klaar was, was dit die 17-jarige meisie wat ook by die huis was, se beurt.

“My hel was egter nie toe oor nie, want ek moes toe met drie polisiemanne agter in my jaart ingaan, nadat ek eers my klere aangetrek het.

 “Met my arms agter my rug, word daar toe ‘n kombers om my gedraai. Toe word ek op die grond, op my rug gemaak lê, waarna ‘n polisieman bo-op my kom sit het.

“Met my arms agter my rug, was ek op my rug, op die grond. Hy skree toe op my, ek moet sê waar die drugs is, anders maak hy my vrek.

“Hy het twee plastieksakke gevou, en oor my mond en neus gedruk, terwyl hy op my geskree het. Hy het aanhoudend gesê as ek nie sê waar die drugs is nie, sal hy ‘my vrek maak’.

“Toe hulle met my klaar is, was dit my kêrel se beurt, en hy is so erg aangerand, hy het sy bewussyn verloor.

“Toe vat hulle hom kombuis toe, lê hom op die grond neer en gooi hom met ‘n emmer water nat, sodat hy kan bykom.

“Toe vat hulle vir my en my kêrel en gaan gooi vir ons agter in ‘n vangwa. Maar voordat hulle dit gedoen het, het hulle gesê van al die drugs wat hulle in die huis gekry het.

“Daar was agt polisievoertuie, ons het nie drugs gehad nie, so waar het hulle al die drugs gekry?,” wonder Etwene ernstig.

”Die een polisieman verskree toe die twee dogters en sê: “en julle sê nie van die kak wat ons hier aangevang het nie, dan kom ons vir julle.

“My dogter slaap nog steeds nie ordentlik na die behandeling van die polisielede nie.

“Ek het vanaf vieruur die middag vis en chips gemaak en verkoop, en het net R875.20c op my gehad. Hulle vat toe sommer die geld en sê dat dit drugs-geld is.

“Ek moes die naweek saam met my kêrel in aparte selle deurbring, voordat ek die Maandag vrygelaat is,” vertel Etwene.

“Die polisie was erger as varke, en hulle het nie eers ‘n lasbrief getoon nie.”

Volgens Etwene het Bronwin Adonis, ‘n gemeenskapswerker, die Saterdagoggend die twee dogters na Swartland Hospitaal in Malmesbury geneem, waar bevestig is dat die twee dogters bloed in hul urinering het.”

Moorreesburg se polisiestasiebevelvoerder, AP Conradie, het die volgende bevestig: “Hierdie kantoor kan bevestig dat ‘n operasie plaasgevind het, met die nodige deursoekingslasbriewe by die vermelde adres.

“Die operasie was suksesvol met inhegtenisnemings, en daar is beslag gelê op dwelms en geld.

“Daarna is drie sake van seksuele aanranding (verkragting) deur die klaers geopen en verwys na IPID vir verdere ondersoek. Die genoemde voorvalle word ook dissiplinêr ondersoek.”

Leave a Reply