Skip to main content

Kodachrome

Tom Dreyer

Om hierdie skryfsels te lees is soos die oomblik wanneer jy ’n 3D-bril opsit of ’n towersampioen eet: Alles lyk opeens anders, die wêreld is op sy kop gedraai, oral knetter moontlikhede.

Dreyer het die vermoë om op hierdie manier te kyk en te sien en om dan die leser dit ook só te laat sien.

Die essays is ’n wonderbaarlike mengelmoes van alledaagse sowel as fantasmagoriese objekte soos ’n vingerhoed, ’nverdwaalde los skroefie, ’n geel badeendjie op die vloer van ’n afdelingwinkel, die bloop, Napoleon en sy jaggeselskap wat op die vlug slaan voor ’n spul mak hase, die klankeffekte in Star Wars, ’n intakte beesoog in die pad, meerminne, ’n mimeerkunstenaar, Noorderligte, monsters, vampiere, salmanders, ens.

Die skrywer, wat ook digter is, mors nie met woorde nie en sy gedagtes is elegant. Dreyer het in 1998 gedebuter met die roman Erdvarkfontein. Hy volg dit op met die roman Stinkafrikaners, wat in 2001 met die Eugene Marais-prys vir letterkunde bekroon is. In 2007 debuteer hy as kortverhaalskrywer met Polaroid. In 2016 verskyn sy Engelse roman The Long Wave.

Sy vryskut joernalistieke werk verskyn onder andere in Beeld, De Kat en Insig. As digter debuteer hy in Nuwe stemme I en van sy gedigte word ook deur deur Gerrit Komrij in die bloemlesing Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte opgeneem.

Dreyer se prosa tref met die sterk filmiese aard daarvan. Hy erken dat hy aansluiting vind by die taal wat die kamera praat. Ander invloede is die skrywers John Steinbeck, Etienne Leroux en Denis Johnson.

Lesers van kortverhale en rubrieke, mense wat hulle verkneukel in woordprente en uitsonderlike Afrikaans, of van skrywes oor die buitengewone, wat jou die wêreld anders laat beskou sal by sy nuwe boek aanklank vind.

 

Leave a Reply