Skip to main content

Isaac Cloete

‘n Senior onderwysbestuurslid se borgtogaansoek vir beweerde verkragting van ‘n negejrige dogter het weer misluk.

Die 56-jarige man het na bewering ‘n negejarige dogtertjie op Concordia naby Springbok verkrag, volgens polisiewoordvoerder, lt. kol Sergio Kock.

Die man het Vrydag vir die hoeveelste keer in die Springbokhof verskyn vir ‘n formele borgtogaansoek. Die staat het sy aansoek sterk teengestaan weens die ernstige aard van die oortreding, volgens die provinsiale woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, Mojalefa Senokoatsane.

Die beweerde voorval het op 11 Mei by die verdagte se huis te Concordia gebeur. Die dogtertjie het by sy huis oorgeslaap nadat sy glo by sy kinders gaan kuier en speel het, het ingeligtes vroeër vertel.

Die verdagte het al verskeie kere in die hof verskyn. Volgens Kock het hy vroeër sy borgtogaansoek laat vaar. Die rede hiervoor was nie bekend nie. Hy moes toe weer op 6 Junie in die hof verskyn. En toe weer op 9 Junie.

Tydens vorige verskynings het van die plaaslike vroue ‘n vreedsame plakkaatbetoging by die hof gehou. Hulle het borgtog teengestaan.

Maria April, ‘n plaaslike vroue-aktivis, is baie ongelukkig omdat verkragtingsake so lank neem om aan die gang te kom. Sy meen dat aanklares en howe hulle ‘n slag moet roer.

Oor die verloop van hierdie saak was sy egter baie bly en uitgesproke. Sy het gesê: “Ons as vroue, ma’s, ouma’s en dogters is baie bly dat die verdagte nie borg gekry het nie. Dit bewys darem nog dat God aan ons kant is. As ons bid dan kry ons sy ondersteuning.”

Volgens haar behoort die verdagte twee maal lewenslange tronkstraf te kry omdat die dogtertjie se lewe onherstelbaar verwoes is.

Die verdagte, wat ‘n senior pos beklee by die onderwysdepartement, is glo ook deur die Departement van Onderwys geskors en van al sy pligte onthef, het Geoffrey van der Merwe na wat verneem word, vertel.

Na afhandeling van die hofsake sal verdere optrede teenoor die beskuldigde oorweeg word, is ook vertel.

Volgens Senokoatsane is die verdagte se volgende hofdatum op 4 Augustus. Ondersoeke deur die polisie duur intussen voort.

Basil “The Jaquar” Kock was die aanklaer.

Leave a Reply