Skip to main content

Die kaping van wooneiendom in Suid-Afrika is aan die toeneem.

Georganiseerde eiendomskapingsindikate is besig om links en regs woonhuise en woonstelle te kaap en hulle is boonop goed opgelei in die misbruik van die regstelsel.

So sê Dominic Steyn, ‘n vennoot by Cowan-Harper-Madikizela, en ‘n prokureur wat hierin spesialiseer.

Hy sê soms gaan die wettige inwoner van ‘n eiendom vir ‘n paar dae weg, en as hy terugkom, kan hy nie toegang tot sy blyplek kry nie want die eiendomskapingsindikaat het die eiendom oorgeneem.

Hulle skop die wettige inwoners uit – soms selfs eienaars – en plaas hulle eie huurders daarin en vorder ook sommer elke maand huur in.

Volgens Steyn vind die eienaar van die eiendom dit dan bitter moeilik om die onwettige besetter(s) uit te skop, want jy kan dikwels nie op die polisie se bereidwilligheid om te help staatmaak nie en jy staar geweldige wetlike uitdagings in die gesig.

Om alles te kroon, is die kapingsindikate nie verantwoordelik om eiendomsbelasting of dienste te betaal nie – dit bly die eienaar se verantwoordelikheid.

Eiendomskapings vind al jare in plekke soos Hillbrow plaas, maar Steyn sê welgestelde woonbuurte – selfs sekuriteitskomplekse – word nou toenemend geteiken.

“Hulle is op hoogte van die nuutste polisie-direktiewe en gebruik dit tot hulle voordeel. Hulle het informante in die polisie, en in die regstelsel,” voeg hy by.

Volgens hom word ‘n spesifieke area of buurt geteiken. Sindikaatlede sal ‘n huis in daardie gebied huur, wat hulle in staat stel om van binne ‘n afgesperde gebied te opereer.

“Hulle hou dop om te sien as iemand met vakansie weggaan, en breek dan in die huis in met die doel om inwoners daar te plaas. Wanneer die eienaars dan terugkeer en onwettige inwoners in die eiendom vind, moet hulle ‘n baie lang en duur proses van stapel stuur om van hierdie mense ontslae te raak.”

Steyn sê jy moet so vinnig as moontlik optree as jy besef iemand is onwettig op jou eiendom. As hulle net op jou eiendom is, kan jy die polisie inroep op grond van betreding. As die nuwe inwoners egter reeds ingetrek het, moet jy die hof nader en ‘n bevel kry wat jou in staat stel om kennis te gee aan hierdie onwettige besetters. Dit is nou wettiglik ‘n siviele hofproses.

“Die besetters is goed opgelei. Hulle weet hulle saak het geen meriete nie, maar hulle weet hulle het die reg om te appelleer,” verduidelik Steyn.

Hy sê soms werk die polisie saam met die skobbejakke, maar die polisie se eie interne direktiewe beperk hulle ook.

“Die Polisie is huiwerig om iemand in hegtenis te neem vir betreding, want hulle sien dit as ‘n klein oortreding. Hulle sal ook so gou as moontlik aanvoer dat die mense die eiendom beset en dat dit ‘n siviele proses geword het en dus nie meer hulle probleem is nie.”

Volgens hom kan die proses om ‘n onwettige eiendomskaper wettiglik uit te skop, tot 15 maande duur.

One Comment

Leave a Reply