Skip to main content

Plesierrit op wiele kronkel jou na wasdom …

Vir die generasies wat voor die 21ste eeu grootgeword het, was die Sondag-plesierrit ‘n bekoorlike bestanddeel van ons opgroeijare. Met brandstof bekostigbaar, het Suid-Afrikaanse gesinne oor naweke uitgewyk vir heen-en-weertjies na buurdorpe, of vir window shopping, melkskommel of draairoomys by padkafees of piekniek by die dam. Partykeer is sommer net gecruise of ander mense, hul motors en die rykes se huise beloer. Saam met landgenote, onthou Sonnette Lombaard diė towertydverdryf.

Reg in Welkom se hart is ‘n lowergroen-dorpsplein omring met strate wat eens diė bymekaarkomplek was waar jonger mense oor ‘n paar generasies op Sondae hul motors, musiek ėn hulself kon paradeer. Bekend as die Hoefie, was dit ‘n gewilde bestemming vir die legendariese Sunday Drive wat Suid-Afrikaanse gesinne in die vorige eeu ywerig “beoefen” het. Soos in Yankland, Australië en Kiwiland, het ons daai jare ook pleks van ‘n Sondagslapie eerder die gesintjor uitgetrek en die oop pad gevat om sorgvry en saam te lag en te ontdek … en jou verbeelding kon vry saamvlieg. Dit was voor die kleinkassie se koms na ons land en selfs daarna toe dit nog nie ons lewens agter heinings oorheers het nie en voor die kuberruim en globale gemeenskap die moderne samelewing grensloos in gelid sou massaverpak.

Tydskrifredakteur en bekroonde skrywer Johan Jack Smith onthou die Hoefie-“verskynsel” in Welkom goed. “Om en om die plein, het die motors in die middedorp gery. Dit was die vreemdste ding om te aanskou.” Johan wat op die Vrystaatse mynersdorp Virginia grootgeword het, en sy gesin het ook die ikoniese plesierritding gedoen. “Op ons dorp het nie veel aangegaan nie en Sondae is uitgewyk na Ventersburg waar ‘n polisiemuseum was of na Kroonpark in Kroonstad vir ‘n milkshake of vir die dag na Allemanskraaldam naby aan Winburg.

“Baie van my kinderjare memories was agter in my pa se 1973 Chevrolet 4.1. En Vrydagaande het ons wiele gerol na Welkom vir window shopping in die Liberty Sentrum en ‘n draai by die roadhouse.”

Alet van Rensburg van Johannesburg se Sondagrit-herinneringe met die gesinsmotor het in Kimberley geskied. “Daar het bittermin gebeur, veral op ‘n Sondag. My pa het dan sy Mercedes uitgetrek en my ma en ons drie dogters opgekommandeer ‘om ‘n entjie te gaan ry’ … tot ons verveling!

“Gedienstig het ons saam gekoekoeloer na en gekoer oor die ‘ryk’ huise wyl ons deur die rykmanswoonbuurt Monumenthoogte gecruise het. Soms het ons aan die ander kant van die lughawe se draad – letterlik – parkeer en gekyk hoe die enkele Boeing van die aanloopbaan opstyg (pa het natuurlik geweet wanneer die een-van-min vliegtuie op ‘n Sondag vertrek). Totdat die vliegtuig een keer bietjie gevaarlik laag oor ons koppe opgestyg het, en pa se PW-styl-hoed afgewaai het. Dit was die laaste sien van diė uitstappie,” lag Alet.

Vir politieke ontleder Piet Croucamp is “loer na jou medemens” padlangs op ‘n Sondag ewe bekend. Al het hy in ‘n kinderhuis in Windhoek grootgeword, het hy ook die Sondagplesierrit beleef toe ‘n polisieman en sy vrou hom naweke uitgeneem het. “Hulle het ‘n Zephyr gehad en ons het na Windhoek se middestad gery. Dan loop ons van een kant na die ander kant van die straat en kyk in die winkelvensters. Dit word sommer ook ‘n padpiekniek in die kar wyl ons toebroodjies en meatballs en lekkers eet, en na die ander mense kyk, wat, wel ook na winkelvensters en na ons kom kyk het.

“So kyk almal wat daar vir dieselfde doel is, na mekaar en word ons mekaar se winkelsentrums in die proses,” mymer Piet filosofies. “Die grootmense het ook die karvensters afgedraai en gekuier, wyl die kinders met die hond agterin tjoepstil was. Word die geselse lank, is uitgeklim en in groepies gestaan en gesels. Soms was ons ook na die Daan Viljoen-natuurreservaat om langs die dam te sit of ‘n entjie in die Koppe te stap.

“Dit was ‘n sosiale ervaring, destyds se tropdierding – ons het bloot die winkelsentrums en Daan Viljoen se waters gebruik om bymekaar te kom,” verklaar Piet.

Modeontwerper Simon Rademan het in Ceres “in die skoot van die godin van vrugbaarheid” grootgeword. “Ritte was min, maar ‘n seëning en onvergeetlik met sneeu op die Witzenberge, Citrusdal se lemoene en Malgas se skape. Plaaslike boere se ekstra appels, pere en druiwe was padkos, wat buite die dorp by ‘piekniekstoppe’ geniet en aan rondloper bobbejane gevoer is. DuToiskloof-pas, of Bainskloof was ‘n luukse bederf. In Tulbach het ons stadig (maar heel statig) in die rykmansbuurte rondgery.

“Vanaf vyf jaar was diė wonderervaringe van my agter in ‘n Prefek 1969 en vanaf 10 jaar agter in ‘n wit Fiat. Die petrol het altyd opgeraak of die radiator het geblaas, maar pa Dofie het gesorg vir oos, wes, tuiskoms bes!”

Simon meen plesierritte bly gesonde vermaak om van ‘n gejaagde lewe te ontvlug en jou onmiddellike omgewing te verken en ontdek. “Ek is gesinloos, maar sit maklik my foon af, slaan op ‘n Sondag die wit koets se kap af en ry met ‘n maatjie of my hondekind doelloos en sonder kompas enige van die 26 paaie uit Pretoria uit … ontdek graag kunsplekke of ‘n boom om te skilder. Natuurlik is petrol duur, maar dis al duur vandat ek kan onthou … die verskil is vandag is data nog duurder!”

Die trio Meyer-sussies van Pretoria se Moot koester eweneens hul grootwordjare se Sondag-samesyne met die gesinsmotor saam met pa Buks en ma Elsa. “Sondagaande het ons sommer in ons pajamas in die kar geklim en window shopping gaan doen by Greatermans en Uniewinkels op Strijdomplein in Kerkstraat. Nou is dit daar saans onveilig. Daar was ook uitritte na die Fonteine en waterorrel by Centurion. Boonop was meeste uitstappiegoed gratis, wat dit binne bereik van almal geplaas het,” onthou ousus Elmarie wat steeds in die Moot bly.

Jongste sus Stephanie Neville wat al dekades in Doebai woon, vertel van die uitry na Harties op Sondae – die slangpark en hoe hulle met die ry oor die damwal by die vensters uitgehang en gegil het sodat die kranse dit kan terug eggo. “Dis pretherinneringe en met kuiers nou tuis, besoek ek steeds die dam en skreeu in die tonnel.” Sy onthou ook rolskaats en die vrye gevoel van baie en sorglose lag …

Oppad terug, het die Meyer-gesin varssag witbrood in Tuine gekoop waar jy soms moes wag vir dit om eers uit die oond te kom. Tuis is die vuurwarm broodsnye met botter en appelkooskonfyt verorber, aldus middelsus Danel Schoeman, wat al 20 jaar saam met haar gesin in Australië bly. Sy onthou Grapevine, Copenhagen-roomys en markstalletjies in Sunnyside, asook die dieretuin en sypaadjiesmouse tydens Sondag se rondlope. En hoe mens sommer net by familie kon inval.

Ook Annette Jacobson, oud-burgemeestersvrou van Pretoria, ken van die onaangekondigde kuiers vir koek en koffie. “Daar was altyd ‘n tuisgebakte koek vir Sondae.” As ‘n na-oorlogse baba is sy op Wakkerstroom gebore. “Ons grootste pret was om met die donkies na die vlei, berg en dam te ry, terwyl my ouers hul Sondagmiddagslapie gevang het.

“My pa het dikwels voertuie verwissel. Die veteraanmotors was raserig en ons kinders was bang as die plaasgrondpad se op-en-afdraandes gevaarlik gelyk en gevoel het. Pa se eerste motor was ‘n model A Ford Roadster van 1930.” Annette se man, dr. Ernie Jacobson, het self veteraanmotors versamel waarmee hulle later uitstappies sou maak na besienswaardighede, opvoerings en vir kuiers.

Brakpan se legendariese Casbah Roadhouse was ‘n voorkeur-uithangplek naweke vir inwoners, ook van buurdorpe, nie net vir die smulkos bedien in jou kar nie maar ook vir die swart-en-wit Bruce Lee-movies in die restaurant, vertel Pierre Lombaard. Hyself het daar sakgeld verdien. As deel van ‘n groot gesin het die Lombaards wye plesierdraaie gegooi. “Sondae het ons tuis vars ‘Cone-skonsies’ met tamatie en polonie, soms kaas, gemaak en dan laai my pa ons ma en hul kroos in die rooi Kombi en koers ons na die buurdorp. Aangekom by Benoni-dam, gooi ons komberse uit, sit die piekniekmandjie neer en begin die Sondagkoerante van oudste tot jongste lees, wyl die motorspoedbote om en om die dam verby blits.

“Ons het ook dikwels saans ‘gou’ deur die dorp vir ‘n draaitjie gaan ry, wyl ons die nuus, weer en storie op die karradio geluister het. Was ‘n groot nuusgebeurtenis vanaf oorsee afgewag, het die wiele weer fluks gerol sodat ons saam kon hoor of Mej. SA die pyp gerook het by die Mej. Wereld-kompetisie in Londen en of Gerrie Coetzee ons mede-Oos-Randers met sy vuiste trots sou maak in die VSA.”

Hermien Ackroyd van Johannesburg is op ‘n plaas in Lady Grey in die Oos-Kaap gebore. In 1950s moes die gesin vir haar pa se werk na Pretoria verhuis. “Van die plaas na ‘n stadwoonstel was swaar en die Sondaguitstappies buite die stad was ons hulpkreet na spasie en ruimte. Ons het huise gaan kyk en later jare ook in Hillbrow gaan rondloop. Die Sondagrit is altyd afgesluit met ‘n draairoomys by die Doll House padkafee in Kerkstraat. Window shopping was Saterdagaand se vermaak. In my pa se Buick, een van die nuwe Pontiacs wat van Australië gekom het, het ons gery, gekyk, gewens, begeer en gefantaseer. Dit was wonderlike tye wat ek vir niks sou verruil nie.”

Volgens Hermien is dit hartseer dat diė goue tydverdryf iets van die verlede is. “Vandag sal ons dit egter met ‘n ander verlange, wense of selfs naywer doen … doei jare het ons en ons ouers meer drome gehad as hedendaagse mense. Daar was altyd iets om na uit te sien. In my lewe het daardie ‘uitsien’ afgesterf.”

 

Leave a Reply