Skip to main content

George April

Getuienis ter versagting van die man wat skuldig bevind is aan die dood van sy meisie se driejarige dogter weens wrede mishandeling, is in ‘n stampvol Moorreesburg Hooggeregshof aangehoor.

Robyn-Lee Gertze was ‘n skrale drie jaar toe sy op Sondag, 24 Mei 2015 onverklaarbaar in die sorg van Godfrey Jantjies gesterf het. Hy was destyds haar ma, Ashleen Smith, se kêrel. Met haar nadoodse ondersoek is bevind dat sy weens erge mishandeling gesterf het.

Jantjies is onlangs in die Kaapse Hooggeregshof skuldig bevind aan haar dood. Gister, 14 dae na wat die dogter se 11de verjaarsdag sou wees, was Jantjies weer in die beskuldigde bank om getuienis ter versagting vir hom aan te hoor.

Jantjies is reeds op 30 Mei in die Kaapse Hooggeregshof skuldig bevind dat hy die oorsaak was van Robin-Lee se dood. Na die skuldigbevinding, het hoofregter Vincent Saldanha besluit dat die Hooggeregshof moet vir die verdere verloop van die saak nader aan die familie en gemeenskap geneem word. Donderdag was dit die tweede keer dat getuienisse ter versagting, in ‘n stampvol Moorreesburg Hooggeregshof, aangehoor is.

Voor die hofsaak begin het, het Die Waarheid met Ashleen oor haar dogter se dood gesels, om te hoor wat gebeur het.

“Godfrey het daardie Saterdagaand vir my gevra om na vriende toe te gaan, wat vir hom sou gesê het ek moet kom kuier. Hy het ook gesê dis fine, hy sal na Robin-Lee kyk totdat ek terugkom.

“Ek het eers na middernag by die huis gekom, en gaan kyk of my dogter olraait is. Ek het dadelik agtergekom sy haal swaar asem, en dat daar ‘n knop bokant haar koppie is. Ek het dadelik ‘n ambulans, en nooddienste ontbied, wat net daarna met ‘n bakkie opgedaag het.

“Dis toe dat hulle vir my inlig dat Robin-Lee dood is.”

Op ‘n vraag van Die Waarheid, het Ashleen voorts gesê: “Sy het gereeld ‘n hou in haar gesig gehad wanneer sy in Godfrey se toesig was, maar hy het elke keer ‘n verskoning gehad oor wat gebeur het.

“Toe die nooddiensmense haar T-shirt oplig, was my dogtertjie se liggaam vol rooi kolle. Hy moes dit daardie aand aan haar gedoen het,” het Ashleen vertel.

In die nadoodse ondersoek is bevind dat Robin-Lee se kake ook gebreek was. Ek verwyt myself elke dag dat ek nooit agtergekom het dat hy elke keer gelieg het, wanneer Robin-Lee beseer was nie.”  

In Donderdag se hofsaak het die staatsadvokaat Leon Snyman vir Jantjies as ‘n leuenaar uitgekryt en gesê: “U toon nie berou omdat u die daad gepleeg het nie. U toon berou omdat u skuldig bevind is. U het ook baie tyd gehad om verskoning te vra, by die begrafnis, by die huis …”

Snyman het hierop gehamer: “Waar is die berou?”

“U lewe het aangegaan, u het ‘n nuwe meisie, en Robin-Lee sal nooit kan skool toe gaan nie, nooit ‘n matriek hê, of ‘n ouer kan wees nie.”

Landros Saldanha het nadat alle getuienisse aangehoor was, die saak uitgestel tot 23 Augustus in die Kaapse Hooggeregshof vir die korrektiewe getuienisse ter versagting. Die uitslag vir ‘n gepaste straf sal op 2 September in die Moorreesburg Hooggeregshof gelewer word.

In sy slotbetoog, het regter Saldanha gevra dat veral jongmense die hofverrigtinge van 2 September moet bywoon, sodat hulle kan sien wat gebeur as jy jou in ‘n beskuldigde bank bevind.

Leave a Reply