Skip to main content

George April

Die DA-raadslid en speaker vir Saldanhabaai Munisipaliteit het glo haar buurmense so erg geskel en gevloek dat ‘n matroos skaam sal raak.

In ‘n regstreekse videogesprek met gasheer Isrial Thys van Opvolg vandag op Facebook, het twee vroue uitgepak hoe raadslid Olween Daniels hulle lewe hel maak. Om alles te kroon, moet die twee werklose vroue boonop nou R5 000 elk betaal, of na die hof opruk.

Mary-Ann en Rose- Ann Johnson is die buurvroue van Daniels, maar volgens hulle word hulle as bure geminag. Die onderonsie tussen die vroue het blykbaar op die aand van Jeugdag op 16 Junie begin toe die speaker en haar vriende geparty het.

Mary-Ann het aan Thys geskets waar en hoe die drama begin en toe ontvou het. “Rose-Ann bly agter in my jaart in ‘n Wendy-huis, en sy het nog ‘n baba. Die bure se musiek was baie hard, maar ons het nie daaroor geworry nie.

“Ongveer 10uur die aand het Rose-Ann vir my kom sê dat die harde musiek die baba pla. Ek het vir haar gevra dat ons nog ‘n halfuur moet wag, dalk draai hulle die musiek teen dan sagter.

“Dit het nie gebeur nie, en ons twee het om na Daniels se huis gestap. Die musiek was so hard, hulle kon ons nie eers hoor roep nie.

“Ek moes my foon se liggie aansit en swaai om aandag te kry, want daar het mense op die stoep gestaan,” het Mary-Ann vertel.

“Die mense kom toe nader, maar net halfpad, toe verskyn en sê Daniels: ‘Dis my jaart, niemand sê vir my wat om te doen op my jaart nie. Toe loop sy terug.

“Sy het nie eers tot by die hek gekom en gevra wat die probleem is nie.

“Sy het nie vir ons ‘n opsie gegee nie, toe bel ek law enforcement, wat eers in die oggendure opgedaag het. Toe gaan ek uit en sien hulle gee ‘n wit papier vir haar. Ek weet nie wat dit was nie, en of dit ‘n fine is.

“Toe die man ry, draai Daniels om en begin verskriklik vloek.”

“Julle ma se p#@$” en alles wat lelik is,” het sy gesê.

“Ek het in die huis geloop om te gaan slaap, toe Rose-Ann later inkom.”

Rose-Ann het verder vertel … “ek het al gelê toe ek hoor hoe sy skel. ‘Ja, die ma se p#@$te, dis my jaart, hulle sê nie vir my nie … hulle hoort nie eers hier nie’.

“Ek dink toe by myself, law enforcement was dan nou by haar, dit raak darem nou te erg … “Dis net die ma se po#&ste, hulle sê nie vir my nie, en alles wat lelik is.

“Later begin ref hulle die kar, my ruite en dak het glad geratel.  Ek het nie geweet wat aangaan nie, dit was verskriklik,” aldus Rose-Ann.

“Ons twee gaan toe om, om weer te praat met hulle, want dit was laat.”

Thys wou weet of die speaker dronk of besope gelyk het. Volgens Mary-Ann het die vrou reg gelyk, en was sy bewus wat sy doen. “Sy was by haar volle positiewe, sy het presies geweet wat sy sê.”

Die twee vroue kon niks regkry nie, omdat hulle blykbaar as minderes uitgeskel was. Mary-Ann was blykbaar by die burgemeester se kantoor om ‘n klag in te dien, maar dié was nie toe beskikbaar nie.

Hulle het nou ‘n dagvaarding van R10 000 ontvang oor die twee Wendy-huise in die erf.

“Die een Wendy staan al meer as 20 jaar en die ander een amper twee jaar, maar volgens die dagvaarding is dit onwettig opgesit in Maart en Junie 2022.

“Voor die verkiesing het hulle T-shirts uitgedeel, ons aangery om te stem, maar noudat hulle in hoë poste is, word neergesien op jou,” het Mary -Ann verontwaardig gesê. 

Albei vroue was dit eens, hulle het geen respek meer oor vir raadslid Olween Daniels nie.

Leave a Reply

error: Content is protected !!