Isaac Cloete
Amptenare van die onderwysdepartement moes bontstaan en naarstelik vrae beantwoord oor ‘n onveilige skoolgebou in Calvinia.
Maar die antwoorde Woensdag van Zolile Monakali, LUR vir Onderwys, aan die ouergemeenskap van die Hantam Hoërskool op Calvinia het gemoedere nie rêrig laat bedaar nie.
Sy besoek het gevolg nadat die skool sy sowat 690 leerders Dinsdag huis toe gestuur het weens die onveilige skoolgeboue.
Die skoolhoof, Maria Scheffers, en skoolbeheerraad, het die besluit geneem omdat hulle meen die leerders en leerkragte se veiligheid moet eerste gestel word.
Monakali se besoek volg nadat daar klagtes was dat van die mure en vloere van die klaskamers vibreer weens tydelike stutte wat daar binne opgerig is.
Die stutte was vroeër aangebring nadat ingenieurs in 2021 bevind het dat die drie skoolgeboue onstabiel is en ‘n veiligheidsrisiko kan inhou vir die leerders en leerkragte.
Monakali het belowe dat 15 mobiele klaskamers binne twee maande aan die skool beskikbaar gestel gaan word.
Intussen gaan die ingenieursverslag bestudeer en bespeek word en die stutte vervang word met permanente versterkings, het hy aan die besorgde ouers vertel.
“Leer en onderrig in ‘n gunstige omgewing, wat veilig vir leerders, leerkragte en personeel is, is ons hoofprioriteit. Leerders kan dus nie bekostig nie om tuis te bly.”
Celesté Kammies is ‘n matriek-ouer. Sy het bekommerd vertel dat die matrieks reeds so baie werk verloor het omdat die skool vanjaar laat oopgemaak het.
“Daar is slegs ses weke oor dan begin die matrieks met die belangrike September-eksamen. My kind was reeds in die eerste twee kwartale onder geweldige druk geplaas omdat verlore werk ingehaal moes word.
“Sy wonder nou ‘hoegemaak?’ as die leerders nog verdere werk gaan verloor.”
Die DA-LP van die Hantamstreek, Gizela Opperman, het verklaar dat hulle nie leë beloftes en verklarings gaan duld nie. “Ons soek daadwerklike optrede en gaan die situasie by die skool fyn dophou en moniteer,” het sy ontevrede gesê.
Sy kon ook nie verstaan nie waarom die LUR glo eers Woensdag van die veiligheidsrisiko bewus geword het.
Die veiligheidsdebakel loop ‘n wye draai, volgens Opperman. Luidens dokumentasie was ‘n hoofkontrakteur vroeër aangestel nadat ‘n ingenieur in fase1 bevind het dat die geboue versterk moes word.
Fase 2 het egter geëindig met die aanbring van die tydelike stutte, wat tans vibreer volgens leerders en opvoeders.
‘n Opvolg vergadering tussen die ouers en die departement van onderwys word vir Maandag beplan. Hierna sal daar besluit word op interim maatreëls en die pad vorentoe.
Die adjunk-skoolhoof wou of kon nie mediavrae beatwoord nie, volgens protokol. Intussen gaan die onderrig slegs vir die matrieks voort. Dit is egter nog nie seker nie wanneer onderrig vir die res van die skool hervat sal kan word nie.