Raad vir ouers en werkgewers oor die ‘Eensaamste Generasie’
Generasie Z. Dis die kinders wat tussen 1995 en 2019 gebore is, en daar is heelwat van ons wat ’n huis met een deel. Hulle gebruik jou data en trek hul neuse op vir enigiets wat gebeur het voor die koms van slimfone. Hulle word so te sê gebore met een in hul hand en oorfone in hul ore. Hulle helde is vloggers en internetcelebs en doen dinge met moderne tegnologie wat jou wil laat stik in jou Salusa 45. Presies wie is diė vreemde spesie? En hoe gemaak as jy hulle vir die grootmenswêreld wil regkry? Gerald Eloff het gaan uitvind.
Net om eers duidelikheid te gee: Die Baby Boomers is gebore tussen 1944 en 1964. Na hulle was Generasie X, wat tussen 1965 en 1979 gebore is, gevolg deur die Milleniërs, gebore tussen 1980 en 1994. Nou is daar Generasie Z. Vir jou as ouer of werkgewer beloof dié nuwe generasie ʼn hele rits nuwe uitdagings om te oorkom. Dis nie net hulle onafskeidbaarheid van hul slimfone wat jou gryshare gee nie, maar ook hul leergerigtheid en sosiale omgang. Dit gaan uitdagend wees, maar ook die moeitewerd om dié nuwe jongelinge en leiers van more vir die toekoms reg toe te rus.
Só ken ons een uit
ʼn Internasionale meningspeiling van die Pew Navorsingsentrum in die VSA het bevind dat ʼn groot hoeveelheid van die Gen Z’s se lewensoriëntering en uitkyke regoor die wêreld stem ooreen, ook hier op Afrikabodem. Van die vernaamste ooreenkomste is as volg:
Die Gen Z’s is gewoond aan diverse-familiestrukture – ongeag dit in ’n enkelouer-huishouding is, of waar die genderrolle omgedraai is. Dink maar net aan jou kind se klasmaats, hoeveel van hulle ouers is geskei, en daar is sekerlik gevalle waar die pa die huishouding bestuur en die ma werk. As gevolg daarvan is hulle minder gepla oor rasverskille, seksuele oriëntasie of geloof, hulle sien alternatiewe sosiale norme as positief, ook ten opsigte van dieselde-geslag en gemengde ras-huwelike.
Moes jy al hoor dat jou groot bakkie die osoonlaag beskadig? Dis niks nuuts nie. Die meeste van die Gen Z’s glo vas dat mense verantwoordelik is vir aardsverhitting – en hulle glo hulle lande se regerings moet verantwoordelik gehou word om dié probleme op te los.
Die prentjie in Amerika lyk bietjie donkerder in terme van selffoongebruik. Die studie het in 2018 bevind dat 95% van tieners in Amerika tussen die ouderdom van 13 en17 jaar toegang tot ’n slimfoon het. Youtube, Instagram en Snapchat is van hulle gunsteling-platforms. Facebook is egter minder gewild.
Gen Z’s is so gemaklik met tegnologie soos ons oumas was met ‘n breinaald. Waar Milleniërs eers gesien was as die digitale voorlopers van ons era wat midde-in die ontploffing van sosiale media en tegnologie was, is Gen Z’s gebore in ’n wêreld op sy piek van tegnologiese innovasie, waar inligting dadelik en 24/7 beskibaar is. Dié tegnologiese vooruitgang het positiewe en negatiewe effekte tot gevolg gehad. Die positiewe kant is dat die Gen Z’s ’n oorvloed inligting het wat hulle kennis verbreed en hulle pro-aktief met hul leerprosesse kan wees. Die negatiewe kant is dat te veel skermtyd kan lei tot afsondering en onderontwikkelde sosiale vaardighede. Tegnologie is ook konstant besig om die werkplek te verander, wat beteken dat mindergegoede Gen Z’s wat nie toegang tot moderne tegnologie het nie, kan agterbly.
Gielie Hofmann, ʼn leierskapskonsultant van Pretoria wat fokus op verandering, kultuur en veerkragtigheid, sluit hier by aan: “My ervaring is dat hulle baie sosiaal-bewus is, maar hulle beleef alles deurgaans deur ‘n skerm – Instagram en TikTok.
Daar is nog nie ‘n historiese bewussyn gekweek nie. Omdat hulle nog met die gewone ontwikkelingsfases besig is, oorvleuel dit soms met hul generasie se kwessies.”
Té veel van ʼn goeie ding …
Al dié tegnologie wat hulle omring, het egter ook ʼn negatiewe impak. Probleme wat geestesgesondheid betref, is alledaags. Hulle is nie verniet al die “Eensaamste Generasie” gedoop nie – want al die ure wat aanlyn spandeer word kan tot afsondering en depressie lei. Hoe meer tyd op Youtube en Netflix gespandeer word, hoe minder tyd is daar om ordentlike “regte” vriendskappe en verhoudings te kweek. Hulle soek dadelik erkenning en aanvaarding op sosiale media. Baie trap ook in die slaggat van “compair and despair” wat sosiale media veroorsaak. Die wêreld is ook ʼn baie deurmekaar plek – dink maar aan die Covid-19 pandemie, die oorlog in die Oekraïne, en plaaslik die hoë werkloosheidsyfer en die regering se onvermoë om die land behoorlik te bestuur – dit alles lei tot meer stres vir jongmense wat hulle dan internaliseer. Wat dinge verder vererger, is dat Gen Z’s minder vir professionele hulp sal aanklop as vorige generasies – hulle sal eerder op TikTok of Instagram gaan soek vir advies.
Gielie sluit hierby aan: “Baie Gen Z’s lei aan depressie, te danke aan isolasie, en ‘n gevoel van oorweldiging, met te min vaardighede om nog sin te maak daarvan.” Sy raad aan ouers is veelvoudig. “Spandeer tyd saam en skep goeie herinneringe. Maak tyd om te luister na hulle. Gee hulle genoeg blootstelling aan die wêreld sodat hulle ’n gesonde perspektief kan kry. En asseblief, kry hulle weg van die skerms.”
Hoe gemaak as een in die kantoor sit?
Dié generasie is al as skermverslaafdes uitgekryt en dat hulle aandag-afleibaar is. In wese, omdat hulle grootword in ʼn tegnologiese era moes hulle net aanpas om belangrike feite te behou uit ‘n magdom inligting wat daagliks aan hulle opgedis word. Indien iets hulle aandag trek is hulle tog gefokus. Volgens kenners gaan Gen Z’s baie goeie toekomstige werknemers wees. Hulle het vaardighede om tegnologie behoorlik benut en hulle is meer vir nuwe idees as die vorige generasies ontvanklik. As werkgewer moet jy egter daarvan bewus wees dat hulle nie gefokus is op die tradisionele manier van hoe mens die korporatiewe leer klim nie – hulle wil meer hê. Hulle wil deur hul beroepe vervul word en voel dat hulle ’n verskil in die wêreld maak. Dit lei egter soms na ongeduldigheid as dit nie gou genoeg gebeur nie, wat veroorsaak dat hulle nie lank genoeg by ‘n werkgewer bly nie. Hulle verkies besighede en organisasies wat pret, innoverend en eties is.
As werkgewer moet jy maniere vir hulle vind om hul kreatiwiteit uit te leef. Stel uitdagings aan hulle – hulle is nie bang om te misluk nie, hulle sien dit as n manier om te leer en te verbeter. Hulle verkies dit om op hul eie te werk, eerder as in ’n span. Moedig hulle egter ook aan om nie net digitaal te kommunikeer nie maar in persoon, hoewel hulle aanvanklik ongemaklik daarmee sal wees. Motiveer hulle, stel belang en sluit hulle by vergaderings en strategie-sessies in.
So, dis duidelik dat hulle hou van ’n lekker werkomgewing. Maar ’n studie deur XYZ Universiteit in Richmond, Virginia, het bevind dat hoewel ’n lekker werkplek belangrik is, is finansiële sekerheid vir hulle nog belangriker. So weg met die, “solank jy van jou werk hou”-idee van die vorige generasies. Maak maar seker jy betaal hulle goed, anders gaan hulle weer die pad vat.
Aangepaste onderrigmetodes vir Gen Z’s
Uit bogenoemde inligting kan ons sien dat Gen Z’s tegnologies op die voorgrond is. Dit sal beteken dat aanpassings aan plaaslike onderrigmetodes gemaak sal moet word – en omdat die onus deesdae swaar op ouers rus, met skoolwerk wat huis toe gestuur word, kan dié studie van Mareli Winter van der Merwe van Stellenbosch Universiteit van waarde wees. In ʼn neutedop beveel sy aan dat mobiele tegnologie in die klaskamer aangewend moet word, leerruimtes moet modern toegerus word met multimedia pleks van gedrukte boeke, en films, video’s, podcasts, vodcasts en projek-, en probleemgebaseerde en portuurleer moet deel van Generasie Z se onderrig-leerervaring gemaak word.
Generasie Z moet nog ʼn paadjie stap voor hulle grootword. Hulle is ons volgende generasie leiers, aktiviste en politici. Vroeë tekens dui daarop dat hulle betrokke en onafhanlklike denkers sal word wat verantwoordelikheid vir hul dade sal aanvaar en ʼn beter wêreld vir ons almal kan skep. Maar ons – die Baby Boomers, Gen X’s en Milleniërs – sal as voorgangers hulle hande moet vat. Slimfoon en al.