Skip to main content

Gert Basson

’n Man, wat op video vasgevang is waar hy twee kriminele met ’n mes in die besigheidsektor van Klerksdorp in die Noord-Wes afweer, was voorheen ’n slagoffer van misdaad.

In die video, wat hierdie week soos ’n veldbrand op sosiale media versprei het, word gewys hoe ’n middeljarige man by sy motor in die strate van die dorp verwoed probeer om homself en sy besittings met ’n mes te beskerm.

Daar kan gesien word hoe die een misdadiger probeer om by sy motordeur in te kom terwyl hy geweldadig met die mes in die rigting van die booswig kap. Die man skree ook histeries. Kort daarna laat spaander die twee as hulle besef vandag gaan nie hulle gelukkige dag wees nie.

Volgens kol. Adele Myburgh het die man, wat nie op hierdie stadium geidentifiseer is nie, nie ’n saak teen die twee skobbejakke oopgemaak nie.

“Dit is die tweede keer wat die man ’n slagoffer van misdaad was. In Mei was daar ook ’n voorval en die man het toe ook geweier om ’n saak oop te maak al was die verdagtes geidentifiseer.”

In nóg ’n video, wat die rondtes op sosiale media doen, kan ’n polisieman in Klerksdorp gesien word wat deur ’n groep mans geteister word.

Die beampte moes sy vuurwapen uithaal om die aanvallers af te skrik en ’n saak van crimen injuria is oopgemaak.

Intussen het lt.genl Sello Kwena, Noord-Wes-polisiekommissaris, die twee voorvalle ten sterkste veroordeel.

Volgens hom gaan hulle meer polisiebeamptes in die besigheidsektor van Klerksdorp ontplooi en hy het die publiek gevra om saam met die polisie te werk.

Leave a Reply