Skip to main content

Gert Basson

“’n Bottel Jägermeister kos nie eens R200 nie.” Dít was ‘n gebruiker op Facebook se opmerking ná Mukovhe Ratsethana (30) weens ’n R200-weddingskap ’n hele bottel Jägermeister gedrink en toe gesterf het.

Die polisie het bevestig dat die ondersoek ná die tragedie in ’n taverne in Louis Trichardt in Limpopo voortduur.

“’n Geregtelike doodsondersoek is aan die gang. Die saak word nog ondersoek en nog niemand is in hegtenis geneem nie,” sê brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder.

Op 10 Julie het Ratsethana en van sy vriende by ’n kuierplek in Waterval, buite Louis Trichardt, aan ’n “drinkkompetisie” deelgeneem. Die prysgeld was R200.

Om die geld te kon wen, moes Ratsethana die bottel likeur so gou as moontlik probeer afsluk.

Hy het sekondes nadat hy die bottel opgedrink het, omgekap.

Ratsethana is na ’n plaaslike kliniek geneem waar hy dood verklaar is.

Volgens Healthline.com moet jou bloedalkoholvlakke sowat 0.40 wees om in ’n koma te verval of te sterf. Selfs as jou bloedalkoholvlak 0.08 is, is jy reeds dronk.

Dit is nie duidelik of Ratsehana vooraf ander drank gedrink het nie.

Volgens Mojapelo word die moontlikheid ook ondersoek of die bottel moontlik vergiftig is.

“Die geregtelike doodsondersoek sal presies vir ons sê wat daardie aand gebeur het.”

Leave a Reply