Isaac Cloete
Honderde leerlinge van Calvinia in Namakwaland is tans by die huis weens ‘n skoolgebou wat net wil knak.
Boonop is ‘n gekontrakteerde maatskappy blykbaar nie ten volle vergoed vir opgraderingswerk aan die geboue nie. En toe begin die drama.
Dit is die hartseerverhaal van die sowat 690 leerlinge aan die Hantam Hoërskool op Calvinia in die Namakwa-gebied.
Die leerlinge moes Dinsdag in hulle warm spore omdraai toe hulle na die winter skoolvakansie weer by die skool gaan aanmeld het.
Volgens Gizela Opperman, DA-LP vir die Hantam-gebied, was daar al in 2021 ‘n inspeksie deur die departement van arbeid gedoen. Die uitslag was toe al dat die skool onveilig is en onmiddellik gesluit moes word.
“Dit was gedurende die matriek-eindeksamen. Die skool het toe versoek dat kans gegee moes word tot na die eindeksamen. Dan sou herstelwerk kon begin.”
Dit het verder aan die lig gekom gekom dat die departement van openbare werke hierna ‘n kontrakteur aangestel het om toetse te doen op die drie skoolgeboue. In fase 1 daarvan was hul bevinding ook dat die geboue onveilig is en versterk moes word.
Vanjaar het die aangestelde hoofkantrakteur begin met fase 2. Dit behels die tydelike stutte wat as versterkings by die geboue aangebring is. Dit het teen ‘n beraamde koste van R9 000 per maand geskied.
Fase 2 moes al teen die einde van die eerste kwartaal voltooi gewees het. En die tydelike stutte verwyder word, sodat permanente versterkings aangebring kon word.
Omdat die departement van arbeid nie die hoofkontrakteur volledig betaal het nie, kon hy nie fase 2 voltooi nie, het Opperman aan Die Waarheid vertel. Intussen hoop die skuld van die gehuurde stutte op.
Sy sê verder: “Die departement van publieke werke wil wragtigwaar hê dat die skool enige verdere uitgawes nou self moet dra. Die gebou is dan in hulle naam geregistreer.”
Maria Scheffers, skoolhoof, het gesê dat die LUR van onderwys die skool vandag sou besoek vir samesprekings.
Julian van Wyk, SBL-voorsitter, het vertel dat hulle eers deeglik met die ouers sal beraadslaag oor die situasie.
“Ons wil eers alle inligting bymekaar het, voordat ons ‘n besluit maak omtrent die pad vorentoe. Na ons ontmoeting met die onderwysdepartement, sal ons weet wat om te doen.”
Intussen is ouers en leerders paniekbevange oor die toekoms vorentoe.
‘n Ouer van ‘n matriekleerder, het anoniem vertel dat die leerlinge reeds vanjaar laat begin het met onderrig weens die rompslomp van die verskillende departemente.
Geoffrey van der Merwe, woordvoerder van die departement van onderwys, het vandag se ontmoeting met die ouers bevestig.