Die betreklike onbekende atleet Jake Wightman het die wêreld gisteraand geskok deur die goue medalje in die 1500m voor die neus van die Olimpiese kampioen Jakob Ingebrigtsen by die Wêreldatletiekkampioenskappe in Oregon in die VSA weg te raap.
Die 28-jarige Brit het die gesogte 1500m-titel in ‘n tyd van 3:29:23 sekondes verower. Spanje se Mohamed Katir was derde. Dit is verreweg die grootste sukses nog in Wightman se loopbaan.
Hy het voorheen bronsmedaljes by die Europese en Statebond-kampioenskappe verower, maar was net 10de by verlede jaar se Olimpiese Spele in Tokio.
Wightman het die eerste Britse atleet geword wat die 1500m gewen het sedert Steve Cram se goud in 1983.