Skip to main content

Na dekades bly herinneringe oor speel, kos en vry

Veldfliek het oor baie meer gegaan as net die rolprent wat vertoon is. Dit was ‘n holistiese ervaring wat speel, kafeekos en ‘n vryery saamgesnoer het in ervaringe wat Suid-Afrikaners dekades later steeds onthou. Dirk Lotriet het met ‘n paar mense gesels oor hoe hulle die drive-in ervaar het.

Dit is nou reeds agt jaar sedert Suid-Afrika se laaste “regte” inryteater – die Velskoen in Randburg – toegemaak het. Intussen was daar pogings om inry op winkelsentrums se dakke of in parkeerterreine te laat herleef, maar die bekoring van ‘n veldfliek is vir altyd daarmee heen.

Dit is seker onvermydelik dat baie van ons Suid-Afrikaanse voorstedelike kultuurskatte deur moderne tegnologie nek omgedraai word, maar ‘n gesprek met ‘n klompie ouer Afrikaners wys duidelik dat ons kinders armer aan lieflike herinneringe grootword sonder die sonderlinge veldfliek-belewenis.

Wie kan tog redeneer dat sosiale media of Playstation gesinne kan saamsnoer soos die “drive in” dit in die goeie ou dae gedoen het?

As mens luister na die mense wat met inryteaters grootgeword het, val dit jou op dat die gesinsamesyn en die spelery in die skadu van die Groot Doek die blywende herinneringe is.

Johan Jack Smith, bekroonde skrywer van die boek Zola en redakteur van Taalgenoot, koester mooi veldfliekherinneringe tydens sy Vrystaatse grootwordjare.

Hy vertel: “Ons het naby aan Saaiplaas se inryteater gebly. As daar ’n ouderdomsbeperking op die flieks was, het my broer my in die kar se kattebak gelaai, want daar was altyd ’n ou by die hek met ’n flitslig wat in die kar geloer het.

“As die fliek stop gedurende die vertoning, het almal op hul toeters gelê. Vroeër jare moes jy die klanktoestel in jou venster hak, later jare kon jy die frekwensie op jou radio instel.

“My pa het vir my en ’n pel soms gaan aflaai in sy Chev, en dan het my ma hom teruggery huis toe met die Renault. Toe Predator gewys het, het ons beurte gemaak om te kyk, want ons was vrekbang. Dit was fantastiese tye.”

Nerina Muller van Tzaneen vertel hulle het voor die motors op komberse gesit en die grootmense op opvoustoele. Hulle het slap chips met baie asyn en sout – by die inrykafee gekoop – geëet.

“Tydens die voorprente (meestal sigaretadvertensies- Paul Revere was my gunsteling …) het al die kinders op die speeltoerusting gespeel,” vertel sy. “’n Mens het gereeld amper jou nek gebreek as jy in die halfdonker in die gat tussen die stukkende trampolien se “springs” beland het.

“As die fliek begin, moes jy probeer om jou pa se motor tussen al die baie ander wat intuseen bygekom het, te soek. Ek het altyd die hobbels getel … En as jy by die huis kom daarna, maak jy of jy slaap en dan dra jou ouers jou in. Goeie ou dae …”

Jano van Zyl van Bloemfontein sê sy pa het hom altyd so ‘n blok of wat voor die inry in die kattebak laat wegkruip. Hulle was drie kinders, en mens moes ekstra betaal as daar meer as vier mense in die kar was. Hy het so daarvan gehou dat hy steeds weggekruip het, selfs wanneer sy oudste broer in die koshuis was en hulle nie vir ‘n derde kind moes opdok nie.

Een herinnering oordonder egter al die ander – die velletjie op die glasie Milo. “As jy Milo by die inrywinkel gekoop het, het dit altyd ‘n velletjie op gehad voordat jy by die kar teruggekom het. Ek het g’n idee hoekom dit so gemaak het nie.”

Die ander herinnering is die vryery after die motor se toegewasemde ruite, “maar ons sê maar niks daaroor nie”.

Willem Turner van Melkbosstrand vertel dat hy die luidspreker wat jy in jou motorvenster monteer het, goed onthou. “As jy ry en jy het vergeet van die ding, trek jy daar weg met speaker en draad en al!”

Hy onthou watse deurmekaarspul dit afgegee het as die film in die projektorkamer gebreek het. “Dit het soms redelik lank gevat om dit reg te maak sodat die fliek weer kan aangaan. Maar hulle kon gelukkig die ligte aansit, daar was mos nie beurtkrag nie!”

Die deel wat Corrie Breedt die beste onthou, is om in die winter agter op n bakkie van Marchand af Keimoes toe te ry om te gaan fliek. “Die langste fliek was Jesus Christ Super Star.”

Ben de Wet van Worcester onthou hulle het menige Vrydagaande gaan fliek. “Dan het my ma die middag jaffels gemaak en ons het lekker voor die kar gesit en eet nadat ons eers gaan speel het. Later jare is ons ook getreat met russian en chips.

“Die hele familie het saamgegaan. Ek onthou die fliek Die Wildtemmer en sy opvolg, Seun van die wildtemmer, baie goed.

“Die karre het tot amper in die dorp tougestaan. Later jare het hulle twee flieks op ‘ń aand gespeel. My broer was toe veel ouer en ek kon saampiekel met die studente wat self kon bestuur. Ek onnthou Grizley en The Pack … ek dink dit was Alfred Hitchcock!”

Dit was lekker ou dae gewees,” sê Maretha Fourie van Kimberley (“waar die gate in die strate groter is as die Groot Gat”). “Die fliek wat seker die meeste mense in ons geweste inry toe gelok het, was Die Winter van 14 Julie. Daai ry motors het tot by die robot oor die bult gestaan.”

Chrizette de Jongh van Bethlehem vertel dat daar altyd ‘n groepie weerbarstige seuns op die speelterrein was wat kinders afgeknou het. Haar nefie Bennie het saamgegaan om haar teen die javels te beskerm.

Igna Kotze van Lime Acres onthou ook die boelies by die speelplek.

“Ons het een aand gery om te gaan fliek – my pa het gesê ons moet vroeg ry dat ek en my sussie bietjie op die trampolien kan spring voordat daar te veel kinders is, aangesien ons dit nie geken het nie. Toe ons daar aankom, was daar so ‘n paar windmakerige seuns.

“Ek en my sussie het begin spring en skielik was daar drie seuns saam ons op die trampolien. Ek het angstig geraak, want die gespring het woes geraak en ek wou nog afklim toe voel ek net hoe ek “geskiet” word en daar val ek tussen daai springs van die trampolien in.

“So vinnig soos ‘n 100m-atleet het ek daar uitgevlieg en teruggehardloop motor toe. Ek het twee weke met bloupers bene geloop. Dit was nie my laaste besoek aan die trampolien nie, maar in die toekoms net as toeskouer. Ek het toe maar die ander dopgehou en gesien hoe daai windmakerige seuns altyd wag dat daar meisies opklim en dan begin hul sommer saamspring.”

Dirk de Vos het nie juis ooghare vir die rondomtaliewiel gehad nie. “As jy opgeklim het, bly jy daar. Al skree jy ‘ek is naar!’ Daar was gevolge van daai wilde om-en-om rit as jy afgeklim het …”

Leave a Reply