George April
Kliënte van Capitec Bank in Vredenburg was Saterdagoggend onkant gevang toe hulle na ‘n inbraak nie in die bank gehelp kon word nie.
Rowers het Vrydagaand tydens beurtkrag die kans aangegryp en by die Capitec ATM buite en binne-in die bank ‘n gelukkie probeer kry.
Volgens een van die sekuriteitspersoneel op die toneel was die rowers onsuksesvol om by die kitsbank buite die bank in te breek. “Dit lyk ook nie of hulle in die bank suksesvol was nie,” het hy gesê.
“Dit lyk asof die ouens, wie dit ookal is, maar kanse gevat het,” het hy grappensgewys gesê.
- Hoewel Die Waarheid nie enige probleme het met medianavrae by ander polisiestasies nie, weier Vredenburg se polisiewoordvoerder eenvoudig om te reageer.
Die woordvoerder se verskoning is dat hoofstroomkoerante by die mediawoordvoerder van die polisie in Kaapstad moet navraag doen.
Kapt. FC van Wyk, mediawoordvoerder in Kaapstad, het al by verskeie geleendhede gevra dat die plattelandse media navrae direk aan hulle plaaslike polisiestasies moet rig.
Sy rede is eenvoudig: weens die werkslading van die hoofkantoor word reaksietyd versnel met direkte navrae aan plattelandse polisiestasies. Die mediawoordvoerder by Vredenburg skop egter vas en reageer nie juis nie.